Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekendstelling van boek wat die blywende uitwerking van ras en rassisme in die SA-gemeenskap ondersoek
Outeur: USB
Gepubliseer: 02/07/2020

'n Boek wat die nasleep van ras en rassisme in Suid-Afrika en die res van die wêreld verken, is op Donderdag 25 Junie 2020 gedurende 'n aanlyn geleentheid van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (USB) bekend gestel.

Fault Lines: A primer on race, science and society ondersoek uitdagende vraagstukke, soos of daar 'n verband bestaan tussen ras en siekte, waar rassedenke by Suid-Afrikaanse universiteite vandaan kom, en of nuwe ontwikkelings op die gebied van genetika nie gewoon 'n agterdeur is vir die herlewing van die eugenetiek nie.

Volgens medesamesteller prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, gaan die boek daaroor om hierdie kwessies op 'n opvoedkundige manier te hanteer in 'n tyd wat mense mekaar so maklik oor rasseaangeleenthede verskree.

“Wanneer jy met mense oor verskriklike rassistiese optrede praat, en hulle reageer deur te vra wat hulle verkeerd gedoen het, was my kropreaksie altyd om te sê: 'Jy speel seker.' Maar toe besef ek dít is werklike, opregte reaksies," sê hy.

“Mense het nie juis baie geduld met diegene wat sê hulle weet regtig nie wat hulle verkeerd gedoen het nie. Maar hoe meer ek die afgelope tien jaar daaroor gedink het, hoe meer het ek besef dit is waar.

“My kollegas, my vriende en my studente het regtig nie geweet wat hulle verkeerd gedoen het nie. Daar is nie 'n morele bewussyn wat intree en sê 'Dit is afskuwelik' nie. En tensy ons dít verstaan, sal ons dit nie regkry om die onderliggende optrede te verander nie," sê hy.

Dr Cyrill Walters, 'n dosent in die USB se MBA-program, en die ander samesteller van die boek, sê: “Wanneer ons oor Fault Lines praat, kan ons nie anders as om ook na Angela Saini se boek Superior: The Return of Race Science te verwys nie.

“Saini skryf oor onkunde. Sy sê onkunde is waarskynlik deel van die probleem, maar nie die volle probleem nie. Selfs al het mense ál die feite, wil hulle nie noodwendig hê dinge moet verander nie," sê Walters. “Selfs al weet mense dis verkeerd, is daar absoluut geen rede om hulle tot enigiets te verbind nie."

Ferial Haffajee, mederedakteur van die Daily Maverick, was 'n spreker by die geleentheid en het op haar beurt verwys na die navorsing van prof Nicoli Nattrass van die Universiteit van Kaapstad wat onlangs groot opspraak verwek het. (Die navorsing het te kenne gegee dat, vergeleke met ander studente, swart Suid-Afrikaanse studente minder waarskynlik die biologiese wetenskappe as vakrigting sal oorweeg.)  

“Ek het nie geweet hoe om dit te benader nie, want ek dink nie dis hoofsaaklik 'n kwessie van akademiese vryheid nie – dis veel meer as dit. Nattrass het 'n paar junior navorsers oor die etensuur uitgestuur, en hulle het 112 studente gevra of hulle troeteldiere het, of hulle in bewaring as vakgebied belang stel, en of hulle met #RhodesMustFall saamgestem het.

“Dis doodnatuurlik dat sulke verspotte vrae ewe verspotte antwoorde sal oplewer, in 'n stuk navorsing wat volgens my betreklik verwronge is, en ek dink prof Nattrass besef dit," het Haffajee gesê.

“Ons sit met 'n dokument van drie bladsye wat bevind dat swart studente materialisties is en nie werklik in die natuurwetenskap belang stel nie. Daar is redes waarom ons moet standpunt inneem teen sulke navorsing, en terselfdertyd vir akademiese vryheid moet opstaan," het sy bygevoeg.

Haffajee het ook gesê dit is maklik om die Nattrass-navorsing met feite te weerlê. “Al wat ek gedoen het, was om SANParke te bel en uit te vind dat 13 van ons 20 pragtige nasionale parke deur swart Suid-Afrikaners bestuur word, en boonop is al die senior SANParke-bewaarders swart Suid-Afrikaners. Ek dink die tyd vir hierdie tipe onbeholpe wetenskapgebaseerde navorsing is verby – dit hoort nie meer op enige van ons kampusse nie," het sy gesê.

Die joernalis en politieke kommentator Max du Preez, wat ook 'n spreker was, het gesê die tydsberekening van die boek is perfek, “selfs al kon die outeurs op geen manier voorspel het dat die verskyning van die publikasie sou saamval met die buitengewone wêreldwye beweging #BlackLivesMatter, wat opnuut deur die moord op George Floyd ontketen is nie".

“Ek is ietwat sinies wat betref mense se vermoë om betreklik gou te verander. Nietemin gee die omvang en intensiteit van die huidige beweging te kenne dat die geskiedenis eendag sal toon dat dít 'n oomblik was toe gesindhede en sensitiwiteit teenoor ras beduidend verskuif het," het hy gesê.

Du Preez het bygevoeg: “Dis nou maar eenmaal hoe die mens werk. Dinge is dalk vir 'n baie lang tyd verkeerd, maar ons neem eers werklik kennis daarvan wanneer iets dramaties gebeur wat baie mediadekking ontvang."

Prof Piet Naudé, USB-direkteur, het in sy inleiding gesê die boek verskyn juis noudat ons gereed is om moeilike nasionale en internasionale gesprekke oor ras, rassisme en ander “-ismes" in ons samelewing te voer. “Dit is noodsaaklik dat ons by die USB daaraan deelneem, want ons is deel van Suid-Afrika.

“Ons plaaslike en internasionale studente en akademici is onderworpe aan dieselfde tipe sosialiseringsprosesse as die res van Suid-Afrika. Daarom is daar geen rede waarom ons minder geneig sal wees tot rassistiese gesindhede, afwysende gendergesindhede en kwessies van seksuele oriëntasie nie," het Naudé gesê.

Dr Armand Bam, die hoof van sosiale impak by die USB, was die fasiliteerder.

 

Die boek is verkrygbaar van die volgende verskaffers: