Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-onderwysstudente motiveer matrieks landwyd
Outeur: William Sezoe
Gepubliseer: 01/07/2020

Onderwysstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs ’n Matriek Oorlewingshandleiding vrygestel met wenke en lewensadvies om die klas van 2020 te help. Die Matie het vroeër berig oor hierdie studente wat deel is van die Beyond Education (BE) Program wat aktiwiteitspakkette vrygestel het om gr. R- tot gr. 9-leerders gedurende die inperking akademies besig te hou. Dié inisiatief vorm deel van die Onderwys Studente Komitee (OSK) se Sosiale Impak Portefeulje van die US se opvoedkunde-fakulteit.

Die groep sou aanvanklik tydens die nuwe kwartaal 'n skool besoek om vir matrikulante die nodige ondersteuning en motivering te gee, maar met die uitbreek van die Covid-19-pandemie moes die span aan 'n meer effektiewe manier dink om die leerders te bereik. Volgens Marcel Adams, stigter van die projek, het die groep net ná die aktiwiteitspakkette-inisiatief begin werk aan 'n oplossing om die matrikulante ook te bereik. Hulle het toe besluit om 'n Matriek Oorlewingshandleiding op te stel, nie net vir die skool wat hulle aanvanklik sou besoek nie, maar vir alle matrikulante regoor Suid-Afrika.

“Die projek se hooffokus is om vir ons matrikulante bewus te maak van die ondersteuning wat daar is. Ons almal was al in matriek en ons weet hoe stresvol dit kan wees. Dus het ons daaraan gedink om vir die matrikulante hierdie ondersteuning te gee, al is dit aanlyn," sê Adams.

Die pakkette vir matrikulante het binne die eerste week van vrystelling meer as drie provinsies bereik, insluitend die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Volgens Adams is die pakkette gratis beskikbaar op die OSK se Facebook-blad en word dit deur verskeie nieregeringsorganisasies en hoërskole op sosiale media platforms versprei. Die pakkette is ook soos die aktiwititeitspakkette in PDF-formaat geskep en word deur die sosiale media platforms WhatsApp en Facebook versprei om dit meer toeganklik vir alle matrikulante te maak.

Die pakkette bestaan grotendeels uit wenke oor hoe om die matriekjaar te oorleef. Dr. Lynne Damons, opvoedkundige sielkundige aan die US se opvoedkunde-fakulteit, het saam met die groep studente hande gevat en 'n paar kritiese wenke gedeel oor die belangrikheid van die handhawing van goeie geestesgesondheid in hierdie tyd.

“Ons geestesgesondheid het 'n groot effek op die manier hoe ons dink, voel en op situasies reageer. Dit bepaal ook hoe ons met stres te werk gaan, hoe ons met ander kommunikeer en hoe ons besluite maak. Dus is dit belangrik dat ons na ons geestesgesondheid moet omsien en altyd moet uitreik na hulp indien ons sukkel," sê dr. Damons.

Sy voer verder aan dat die inisiatief 'n groot aanwins is vir die opvoedkunde-fakulteit, die Universiteit en die gemeenskappe wat daarby baat vind. “Die manier hoe dit saamgestel is en hoe die taal gebruik word, maak dit baie toeganklik vir almal. Die feit dat dit bestaan uit maklike, praktiese wenke en ervarings van ons studente, wat ook op 'n stadium in matriek was, maak dit soveel vriendeliker en lekkerder om te gebruik," noem dr. Damons.

Alice White, 'n tweedejaar-onderwysstudent aan die US is een van die studente wat haar matriekervaring in die pakket deel. Sy noem dat dit vir haar van kardinale belang is om haar ervaring te

deel om sodoende vir die klas van 2020 te wys dat alles moontlik is ten spyte van waar ons onsself bevind.

“Ek moes my ervaring deel, omdat ek baie gereeld nie as 'n 'akademikus' beskou word nie. Ek wil die klas van 2020 wys dat alles moontlik is as jou ingesteldheid reg is. En dat jy suksesvol kan wees as jy jou beste gee, maar dat jy ook terselfdertyd genoeg na jouself kyk, kalm bly en jou doelwitte bereik," noem White.

Sy glo dat die inisiatief “'n wonderlike idee is om matrikulante te help en te ondersteun sodat hulle akademies, geestelik en emosioneel kan slaag", om sodoende in 2021 hulle verdere studies te begin aan 'n universiteit van hul keuse.

THE MATRIC SURVIVAL GUIDE PDF

*Hierdie artikel is verkry uit Die Matie.