Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Besware teen sigaretverbod gehul in duistere geskiedenis van tabak
Outeur: Elijah Doro
Gepubliseer: 01/07/2020

Die duistere politieke geskiedenis van tabak bied die geleentheid om die puriteinse, morele, nywerheidsproteksionistiese en wetenskaplike argumente vir en teen die sigaretverbod objektief te ontleed, skryf dr Elijah Doro (Departement Geskiedenis) in 'n meningsartikel vir Business Day (29 Junie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Elijah Doro*

Terwyl die regering in 'n regstryd met die Fair-Trade Independent Tobacco Association (FITA) gewikkel is, bied die duistere geskiedenis van die sigaret ons 'n nuttige uitkykpunt om huidige debatte oor die verbod op die verkoop van sigarette in Suid-Afrika gedurende die staat van inperking raak te sien. Dit bied die geleentheid om die puriteinse, morele, nywerheidsproteksionistiese en wetenskaplike argumente van belanghebbers wat die nasionale COVID-19-narratief wil beheer, objektief te ontleed.

Die verbruikerskultuur van sigarette het 'n rewolusie in die tabakbedryf veroorsaak en beïnvloed al tien dekades lank wêreldwye politieke en ekonomiese instellings. Tot op hede het tabakverkope 100 miljoen sterftes wêreldwyd veroorsaak. Volgens 'n verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) sal daar nog 'n miljard sterftes in die 21ste eeu voorkom as streng regulasies oor tabakbeheer nie toegepas word nie. Wat kommerwekkend is, is dat die wêreldwye episentrum van hierdie epidemie na die ontwikkelende wêreld verskuif het, waar al hoe meer jeugdiges sigarette rook weens minder streng tabakregulasies.

Die punt wat ons nie moet miskyk nie, is dat die COVID-19-narratief 'n subteks vir groter interaksies tussen sigaretmaatskappye, die regering, openbare gesondheidskenners, private landsburgers, advertensiemaatskappye, rokers en nie-rokers is, met die geskiedenis van die sigaret wat ingebed is in die ingewikkelde interaksie tussen hierdie verskillende rolspelers. Dit word ook sterk verbind met politieke onderskrywing.

Voor die Eerste Wêreldoorlog was die sigaret 'n nadelige produk en die teiken van aanvalle deur morele hervormers en die afskaffingsbeweging in die VSA, waar die verkoop van sigarette in die meeste state verbode was. In die jare ná die oorlog, het die regerings in die meeste lande wat tabak verbou of vervaardig het, die tabakbedryf verplig om wêreldmarkte vir sigarette uit te brei. Die groei in die meeste ná-oorlogse ekonomieë was die gevolg van die bondgenootskap tussen boere, tabakhandelaars en die regering in 'n wederkerige verhouding van “tabakstaatskepping". Hoewel 'n verslag van die VSA se geneesheergeneraal in 1964 (en mediese bewyse wat daarop gevolg het) finaal alle twyfel uitgewis het en die narratief oor rook wêreldwyd verander het deur hart- en asemhalingsiektes asook kanker daaraan te verbind, het “Groot Tabak" voortgegaan om soortgelyke navorsing te befonds om die mediese wetenskap verkeerd te bewys en deur die mite van “veilige" tabakprodukte te subsidieer.

Dit is skokkend dat daar vandag, 56 jaar ná die verslag van 1964, steeds 'n debat aan die gang is oor die aftakelende uitwerking van sigaretrook rakende asemhalingsversaking. Hierdie absurditeit toon hoe “Groot Tabak" politieke hefbome beheer wat die openbare meningsagenda bepaal, regulasies ondermyn en 'n openbare betrekking-rookskerm skep om sy aandadigheid aan die grootste openbare gesondheidskandaal van ons eeu goed te praat.

Die gevare daaraan verbonde om in die huidige debat by die paadjie van wetenskaplik-mediese revisionisme afgesleep te word, is tweeledig. Eerstens toon die geskiedenis van openbare gesondheid en die rookpolemiek hoe tabakregulering grootliks polities eerder as wetenskaplik gedrewe is. Tweedens moet die vraag oor wetenskaplike bewyse gevra word binne die konteks van “wie se wetenskap?". Die tabakbedryf is berug daarvoor om die wetenskaplike navorsingsgemeenskap te kaap en plaasvervangende wetenskaplike navorsing te befonds. Daar is tans 'n vermenigvuldiging van vals mediese navorsing wat aan die hand doen dat die nikotien wat in sigarette voorkom, in die behandeling van COVID-19-pasiënte gebruik kan word.

​Die politieke mag van die Suid-Afrikaanse tabakbedryf, wat R30 miljard sterk is, kan aangevoel word, terwyl smokkelhandel en onwettige verkope van sigarette die land jaarliks volgens skattings miljarde rande kos. Hierdie misdaadnetwerk het politieke instellings en korrupte staatsamptenare só gekaap dat daar 'n florerende swartmark is ondanks die verbod op sigaretverkope. Die regering se bewerings dat die verbod die vraag na sigarette sal verminder, onwettige handel sal lam lê en rokers sal dwing om op te hou rook, onderskat die bedrieglikheid van 'n probleem wat meer pragmaties benader moet word.

Die nywerheidsproteksionistiese argument oor die verlies aan belastinginkomste uit sigaretverkope en die uitwerking daarvan op die ekonomie is baie oordrewe. 'n Verslag van die WHO oor tabak en armoede wat in 2004 verskyn het, het bewys dat die openbare gesondheidslas van rook die inkomste wat uit die bedryf verdien word, verreweg oortref. Die huidige verlies aan belastinginkomste kom weens die staat van inperking in die meeste ekonomiese sektore voor. Die desperate poging om die debat ten opsigte van rokers se persoonlike keuses en die verbod as 'n skending van die sosiale kontrak tussen die regering en rokers te probeer uitmaak, is ook waningelig.

Hoewel daar 'n euforiese gevoel bestaan dat “Groot Tabak" die stryd verloor het omdat daar steeds 'n verbod op sigarette is, is dit bloot 'n skynoorwinning vir openbare gesondheid. Regdeur die geskiedenis het die tabakbedryf nog altyd gevegte verloor, maar uiteindelik die oorlog gewen. Ons moet hierdie krisis gebruik om 'n nuwe nasionale gesprek oor tabakregulering te begin en die tabakepidemie in die era ná COVID-19 uit te wis.

*Dr Elijah Doro is 'n postdoktorale genoot in die departement Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.