Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en plaaslike biotek-maatskappy vat hande teen COVID-19
Outeur: Innovus & LaunchLab
Gepubliseer: 27/03/2020

​​Die Universiteit Stellenbosch (US) in Suid-Afrika en Azargen Biotechnologies (Edms) Bpk, 'n Suid-Afrikaanse biotegnologie-maatskappy wat op die ontwikkeling van menslike terapeutiese proteïene deur die gebruik van gevorderde genetiese ontwikkeling en sinteties-biologiese tegnieke in plante fokus, het kragte saamgesnoer in die wêreldwye stryd teen die coronavirus.

In die hoop om by ted ra tot die behandeling van pasiënte met ernstige gevolge wat met die toestand verband hou, gaan die vennote saamspan om SynSurf®, 'n sintetiese farmaseutiese middel wat as 'n ondersteunende agent vir die behandeling van akute/volwasse aankoms-respiratoriese noodsindroom (ARDS) getoets sal word, verder te ontwikkel. Die jongste navorsing dui aan dat ARDS een van die belangrikste redes is waarom COVID-19-pasiënte kritiek siek raak en/of sterf.

SynSurf® is aanvanklik ontwikkel en getoets (pre-klinies) vir die behandeling van neo-natale respiratoriese nood-sindroom (nRDS), 'n toestand wat by sommige vroeggebore babas voorkom wat sukkel om asem te haal weens platgevalde longsakke, asook vir die behandeling van akute longskade by volwassenes.

SynSurf® is deur 'n span onder leiding van proff Johan Smith, Johan van Zyl en Pieter van der Bijl van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe ontwikkel. Aan die kant van AzarGen Biotechnologies sal die samewerkende span aangevul word deur die medestigters van die maatskappy, drr Mauritz Venter en Cobus Zwiegelaar.  

Sintetiese, nie-dierlike afgeleide weergawe van longsurfaktant

Prof Smith, wat 'n doktorsgraad in die ontwikkeling van sintetiese longsurfaktant behaal het, het reeds in 1995 met sy navorsing om 'n longsurfaktant-formule te ontwerp, ontwikkel en te toets, begin, maar het in van 1999 tot 2005 in alle erns daaraan gewerk.

“Die aanvanklike doel het ietwat verander toe die navorsers 'n verbeterde formule ontwikkel het wat met surfaktante wat kommersieel beskikbaar was (wat in eksperimentele dierestudies bewys is), kon meeding," sê Smith.

“Omdat kommersieel-beskikbare surfaktant baie duur is, het dit tot op datum volwasse pasiënte uitgesluit om daarmee behandel te word. SynSurf® is uit suiwer chemiese middels saamgestel wat die kostekwessie in 'n groot mate oorkom. Dit sluit ook feitlik die lot-tot-lot variasiekwessies wat 'n mens by soogdier-afgeleide formules verwag, uit. SynSurf® het nog geen toksiese of nadelige uitwerking in proefdiere getoon nie," verduidelik Smith.  

Hy sê SynSurf® vereis menslike toetsing en as die laboratoriumtoetse en proefnemings enige aanduiding is, het die produk groot potensiaal om te verbeter en/of om beide pasgebore en volwasse longstoestande te behandel. “Behalwe om 'n gebrek in longsurfaktant te vervang of te ondersteun – soos gevind in vroeggebore babas, het SynSurf® die potensiaal om swakfunksionerende longsurfaktant te versterk, soos gevind in erge akute longskade by volwassenes wat met ernstige COVID-19 en ander bakteriese ontstekings verband hou." 

Hy voeg by dat spesifieke laboratoriumwerk met SynSurf® getoon het dit verminder inflammasie en faktore wat inflammasie in die longe veroorsaak. Hierdie aspek van SynSurf® kan “ontgin" word om inflammasie wat met ernstige longtoestande soos dié wat met SARS, varkgriep en COVID-19-longinfeksies verband hou, gepaard gaan, te onderdruk.

Anita Nel, Hoofdirekteur van Innovasie en Sake-ontwikkeling by Innovus, die US se bedryfsinteraksieplatform vir die kommersialisering van die instelling se bates sê hulle is verheug dat die US met AzarGen kan saamwerk om Synsurf® verder te ontwikkel sodat hierdie belangrike produk in die praktyk gebruik kan word en moontlik kan help om die gevolge van COVID-19 te verlig.

“Ons moet nou daarop fokus om SynSurf® by die pasiënt uit te kry," sê Venter, hoof-uitvoerende beampte van AzarGen. “Die regulatoriese toesig en toewysing van hulpbronne vir alle ontwikkelingsaspekte, insluitende die vervaardiging, pre-kliniese en kliniese toetsing vir hierdie projek is nou hoë prioriteit.

Oor AzarGen

Die AzarGen-bestuurspan word ondersteun 'n ervare adviesraad. Wetenskaplike innovasie by AzarGen word befonds deur die Suid-Afrikaanse Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK). AzarGen is op Stellenbosch gesetel en word by die US se LaunchLab-inkubatoronderneming gehuisves. AzarGen is bekend vir die ontwikkeling van 'n biosimilêre weergawe van 'n monoklonale teenliggaam teen kanker en 'n rekombinante surfaktant-proteïen vir respiratoriese siektes.​