Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerstejaars begin hul ‘reis van transformasie’
Outeur: Aydn Parrott
Gepubliseer: 24/01/2020

Professor Jimmy Volmink, Dekaan by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het onlangs die nuwe groep eerstejaarstudente en hul ouers by die Tygerberg-kampus verwelkom.

“Vandag begin julle reis van transformasie," het Volmink gesê.

Hy het vir die nuwelinge gesê dat hulle kan verwag om voortdurend uitgedaag te word.

Volmink het die ouers verseker dat hulle kinders in bekwame en sorgsame hande is by die FGGW. “Moenie skroom om uit te reik as jy hulp benodig nie," het hy vir studente gesê.

Hy het gesê dat nuwelinge sal leer hoe om “gesondheid te bevorder, siektes te behandel en lyding te verlig".

Volmink het studente aangemoedig om groot te droom, hard te werk en gefokus te bly.

Die Dekaan het aan studente gesê dat hulle eie kanse op sukses redelik goed is, gegewe die fakulteit se hoë sukseskoers en impak.

Bo en behalwe om studente te bemagtig om bekwame gesondheidspraktisyns te word, streef die FGGW ook daarna om “studente te inspireer om agente van verandering te wees," het Volmink gesê.

“Die fakulteit is ʼn mikrokosmos van die land," het Volmink gesê. Daarom sal studente leer hoe om aktiewe en verantwoordelike burgers te word. Hulle gaan aktief leer hoe om samehorigheid te bewerkstellig en hoe om saam te leef en te werk.

“Ons sien uit daarna om by te dra tot julle ontwikkeling."

Die voorsitter van die Tygerberg Studenteraad, Ntsako Mtileni, het ook beaam dat studente moet vra vir hulp indien hulle dit sou benodig. “Pas jouself goed op. Jy verdien ʼn blaaskans hier en daar."

“Die universiteitslewe is ʼn reeks uitdagings, maar so ook was hoërskool, en hier is jy vandag. As jy glo dat jy kan, is die helfte van die stryd reeds gewonne."

Mtileni het ʼn eenvoudige filosofie aan nuwelinge gebied: “Moenie beperk word deur uitdagings nie. Daag liewer jou beperkinge uit. Jy deel die kampus met toekomstige gesondheidsberoepslui. Jy is omring deur mense wat wil sien hoe jy groei."

Mtileni het nagedink oor haar eie belewenisse as student en gesê dat sy en haar kamermaat ooreenkomste gevind het in hulle verskille. “My kamermaat is die oulikste persoon en het een van my beste vriende geword."

“Ons is geseënd met diversiteit in alle aspekte van ons lewens," het Mtileni gesê en verduidelik dat die fakulteit daarin glo om diversiteit te vier.

Mtileni het aan eerstejaars die volgende woorde van ondersteuning gebied: “Bly getrou aan wie jy is. Daar is ʼn plek onder die son vir almal. En wees geduldig met jouself."

Foto-onderskrif:  Eerstejaarstudente aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Foto-erkenning: Aydn Parrott