Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUS vier sukses en hul 20ste bestaansjaar.
Outeur: Dr Janina Theron
Gepubliseer: 20/01/2020

Die eerste week van Januarie kan 'n uiters stresvolle tyd wees vir studente wat die NSS eksamen die vorige jaar geskryf het. Dit is dieselfde in die geval van SciMathUS (Science and Maths at the University of Stellenbosch) studente wat ook einde 2019 die NSS eksamens afgelê het vir Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde. Woensdag die 8ste Januarie 2020 was die beste dag vir ons 2019-kohort wat hul verbeterde punte op daardie dag ontvang het. Dit beteken dat hulle nou beter kanse het om gekeur te word vir die programme van hul keuse, 'n geleentheid wat hulle nie gehad het nadat hulle aanvanklik hul Graad 12 eksamen afgelê het nie.

Die jaar 2020 merk die 20ste bestaansjaar van die SciMathUS universiteitsvoorbereidingsprogram. SciMathUS word aangebied deur die Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogie in die Fakulteit Opvoedkunde. Sedert die program geloots is in 2001, het SciMathUS meer as 1500 studente die geleentheid gegee om toegang tot die Universiteit te verkry. Om in aanmerking geneem te word, moet studente Graad 12 geslaag het met 'n minimum gemiddeld van 60% uitsluitend Lewensoriëntering, sowel as 'n minimum van 45% in Wiskunde, 'n minimum van 45% in Fisiese Wetenskappe, of 45% vir Rekeningkunde behaal het. Sodra die studente hul punte verbeter het, voldoen hulle aan die minimum vereistes van 'n verskeidenheid universiteitsprogramme. Ná hulle jaar by SciMathUS volg studente loopbane in verskeie velde, onder andere Geneeskunde, Ekonomie, Ingenieurswese, Onderwys en selfs die Kunste. Sommige van SciMathUS se voormalige studente het PhD-grade verwerf in areas soos Neurofisiologie, Mediese fisiologie en Eksperimentele Kernfisika.

In 2019 het meer as 1000 voornemende studente aansoek gedoen vir die SciMathUS-program. Ná 'n streng keuringsproses het 94 uit die 105 geselekteerde studente die jaar deurgesien op Stellenbosch. Weer eens was die harde werk van beide fasiliteerders en studente beloon in die vorm van 'n verberering van 18%, 16% en 13% vir die NSS gemiddelde resultate vir Fisiese Wetenskappe, Wiskunde, en Rekeningkunde onderskeidelik. SciMathUS se ondersteuning stop egter nie daar nie. Tesame met akademiese ondersteuning ontvang studente ook leiding ten opsigte van loopbaankeuses, sowel as hulp met beursaansoeke en hoe om as eerstejaars hul voete te vind op kampus.

Die programbestuurder, Nokwanda Siyengo, het sê: “Elke jaar is anders by SciMathUS, ons weet nooit eintlik wat om te verwag nie, maar ons is altyd vriendelik verras deur die harde werk en toewyding van beide die personeel en die studente. Hulle samewerking en vasberadenheid het dit vir die studente moontlik gemaak om goeie resultate te behaal. Ons onderrig- en leermetodes was effektief in die ontsluiering van die komplekse konsepte wat as uitdagend op hoërskoolvlak beskou was."

In 2020 wil SUNSEP ook graag die nuwe Direkteur, Dr Benedict Khoboli verwelkom. Hy bring met hom 'n magdom kennis en ervaring wat hy in sy betrokkenheid by 'n verskeidenheid instellings opgedoen het. Dr Khoboli meen ook dat “Ons, as SciMathUS, hard sal werk om te verseker dat studente uit onderwysbenadeelde agtergronde hul hoogste akademiese potensiaal sal bereik en sodoende toegang tot hoër onderwys sal ontvang."