Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Van bitter tot soete herinneringe
Outeur: Corporate Communication Division/Sandra Mulder
Gepubliseer: 13/12/2019

Hy het as 'n arm tiener besef dat as hy as laerskoolonderwyser kon kwalifiseer, hy ten minste 'n koppie tee elke oggend sou kon bekostig.

 

Maar toe dr Peter Msaka van Nkhotakota in Malawi vandag op die verhoog stap by die laaste graduplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) om sy doktorsgraad in Algemene Taalwetenskap te ontvang, sal hierdie bitter herinneringe van swaarkry, van skool kaalvoet skool toe gaan op 'n leë maag met sy enigste kortbroek aan, baie ver van sy gedagtes wees.

 

“Nadat ek besef het dat ek iets moes doen om ons toestand van armoede te verander, het ek myself heeltemal in my studies verdiep. Ek het vir die jare daarna met hierdie selfde dryfkrag voortgebeur," onthou Msaka.

 

Baie faktore het hom van Malawi na die US gelei. “Ek was op soek na opleiding van 'n hoë gehalte en 'n universiteit met 'n taalwetenskap-departement met 'n voorkeur vir sintaksis. Van die drie universiteite wat aan hierdie vereistes voldoen het, was Stellenbosch die enigste wat nie aansoekgelde vereis het nie. Op daardie tydstip was dit nie so maklik om geld na 'n ander land oor te plaas nie," vertel hy. 

 

Hy het in 2013 by die US aangeland om sy honneursstudies te begin, gevolg deur sy MA en PhD. “Een belangrike ding wat my altyd sal bybly, is die uitstekende ondersteunende akademiese omgewing. Gedurende my hele tydperk by die US, was daar nie een enkele akademiese hulpbron waartoe ek nie toegang kon kry nie. Ek hou daarvan om hard te werk en die fisieke studieruimtes was uitstekend. I sal ook vir altyd die hardlooppaaie in en om Stellenbosch onthou."

 

Die onderwerp van sy tesis is Nominal classification in Bantu revisited: The perspective from Chichewa. Sy keuse van onderwerp spruit uit sy ondervinding toe hy in graad 5 aan grammatika van Chichewa bekendgestel is.

 

“Toe my onderwyser die reëls van die selfstandige naamwoord-klassifikasiestelsel begin verduidelik het, kon ek sonder moeite teenstellende voorbeelde opnoem. In 'n latere stadium in 'n hoër graad het dit my onderwyser geïrriteer en ek onthou baie goed hoe ek vir ongehoorsaamheid gestraf is. Dit is as onbeskof beskou om jou onderwyser se kennis in twyfel te trek – maar die probleem was nie sy kennis nie: Die reëls is eintlik deur Duitse vakkundiges soos Wilhelm Heinrich Bleek (1862, 1869) en Carl Meinhof (1899, 1906, 1932) voorgestel. Ek daag hierdie vakkundiges formeel in my doktorale studie uit," sê hy.

 

Sy navorsing sal 'n invloed op taalonderrig in Malawi hê. “Dit maak my seer om te sien hoe die skoolleerplan misleidende inligting vir kinders leer. Enigiemand wat Bantoetale as 'n vreemde taal aanleer, sal vir jou kan sê dat die selfstandige naamwoord-klassifikasiestelsel nagmerrie is. Met die voorgestelde stelsel van leer sal die selfstandige naamwoord-klassifikasiestelsel baie meer natuurlik wees," meen Msaka.

 

Hy het reeds na sy pos by die Universiteit van Malawi teruggekeer. Maar nou het hy nuwe, soete herinneringe om te koester. Een daarvan is die ongelooflike prestasie dat 'n verkorte weergawe van sy doktorale proefskrif in die internasionaal-gevierde Oxford Studies in Comparative Syntax-vaktydskrif, wat net die beste werk van gevestigde navorsers publiseer, gaan verskyn.