Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gesiggestremdheid verhinder nie Loandrie om te presteer nie
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 12/12/2019

​Nadat sy die afgelope vier jaar aan haar studies vir haar Baccalaureus-graad in Maatskaplike Werk gewy het, sal Loandrie Potgieter een die 5 853 studente wees wat vandeesweek hul kwalifikasies by die Universiteit Stellenbosch (US) se Desember 2019-gradeplegtighede ontvang. ​

Ondanks haar gesiggestremdheid was Potgieter sedert sy in 2016 'n eerstejaar was, een van die Departement Maatskaplike Werk se akademiese uitblinkers. Sy ontvang Donderdagoggend haar B-graad in Maatskaplike Werk cum laude by die US se sewende gradeplegtigheid van die week.

KC, haar gidshond, sal haar vergesel wanneer sy opstap om haar graad te ontvang.

Potgieter meen haar persoonlike karaktereienskappe het 'n belangrik rol gespeel in haar “opwindende en vervullende akademiese reis aan die US".

“Die US het 'n groot invloed op my as individu gehad; my persoonlike eienskappe – veerkragtigheid, optimisme, selfstandigheid en deursettingsvermoë – het my egter gehelp om hindernisse in die universiteitsomgewing te oorkom."

Potgieter, wat 'n aangebore oogtoestand het, het tot 2013 funksionele sig gehad. “Ek het alles normaal gedoen, behalwe vir wanneer ek 'n rekenaar gebruik of gelees het – dan moes ek baie naby dit wees. In 2013 het my sig egter oornag versleg. Ek moes nuwe maniere vind om dinge te doen."

Maar, sê Potgieter, om gesiggestremd te wees, het nie haar persoonlikheid verander nie. “Ek is steeds dieselfde mens en ek het steeds dieselfde lewensuitkyk en dieselfde persoonlikheid. Om gesiggestremd te wees, bring jou voor 'n nuwe stel uitdagings te staan en dit maak die lewe op baie maniere baie interessant."

Hoewel dit soms uitdagend is, kom sy danksy die ondersteuning van vriende en familie oor die weg, sê sy.

Die 30-jarige, wat van Port Elizabeth afkomstig is, sê hoewel dit haar 'n ruk geneem om te besluit wat sy wou studeer, is sy nou doodseker dat maatskaplike werk die loopbaan vir haar is. Sy beplan om aanstaande jaar haar meestersgraad te doen en om uiteindelik as maatskaplike werker te praktiseer.

“My navorsingsonderwerp vir my meestersgraad handel oor die meting en die bou van veerkragtigheid by persone met gestremdhede," sê sy.

“Ek is baie passievol oor maatskaplike werk en het my opleiding geniet. Ek het verskeie ander goed behalwe die akademie ook gedoen. Dit het alles tot die rykheid van my akademiese reis bygedra. Dit het 'n somerskool in België, die voltooiing van 'n paar kortkursusse en 'n aanbieding by 'n konferensie ingesluit."

Sy sê dat haar gradeplegtigheid die einde van haar voorgraadse studieloopbaan beteken, en hoewel sy 'n bietjie hartseer is, voel sy ook tog tevrede. Potgieter sê sy glo daaraan om alles na die beste van haar vermoë te doen. “Ek is passievol oor alles wat ek doen.

“Die US-omgewing is ryk aan hulpbronne wat baie geleenthede soos somerskole en kortkursusse bied. Ek het hierdie geleenthede gebruik en dit het my gebring tot waar ek vandag is."

Sy sê haar graadkursus het op praktiese onderrig gerig waar hulle die teorie geleer is, maar daar is ook van hulle verwag om in verslae te wys hoe hulle hierdie teorie in die praktyk toepas. “Dit beteken dat maatskaplike werkers wat aan die US gradueer, beide teoretiese en praktiese ondervinding kry wat van hulle goedafgeronde beroepslui maak."