Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe doktor se vernuwende denke help granaatbedryf
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 12/12/2019

Partykeer moet 'n mens die koppe laat kraak om 'n probleem op te los. Dit is presies wat dr Matia Mukama van die Na-oes Tegnologie-laboratorium by die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen het toe hy nuwe geventileerde kartonverpakking met veelvuldige lae ontwerp het wat binnekort kan help om die volume van granaat-uitvoere per vraghouer te verhoog, die behoefte aan verpakkingsmateriaal te verminder, die energiekoste vir die verkoeling van granate te verminder en hulle langer vars te hou.

Mukama het met die nuwe ontwerp vorendag gekom as deel van sy doktorsgraad in Voedselwetenskap. Die doel was om die algehele werkverrigting van geventileerde verpakking in die granaatbedryf te help verbeter. Dit is wêreldwyd die eerste keer dat 'n geventileerde karton met veelvuldige lae ontwerp is vir die hantering en uitvoerbemarking van granate.

Mukama, wat uit Uganda afkomstig is, het Donderdag (12 Desember 2019) sy doktorsgraad by die US se sewende Desember 2019-gradeplegtigheid ontvang. Afgesien van hierdie prestasie, is hy ook vroeër vanjaar as naaswenner van die 2019 Suid-Afrikaanse FameLab wetenskapkommunikasie- en redenaarskompetisie in Durban aangewys.

Sy navorsing is deel van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Na-oes Tegnologie se program oor “Next Generation Ventilated Packaging of the Future", wat gelei word deur prof Umezuruike Linus Opara, die bekleër van bogenoemde leerstoel. Prof Opara en sy kollega, dr Alemayehu Ambaw Tsige, het as studieleiers vir Mukama se doktorale navorsing opgetree. Mukama_Pomegranate.JPG

Mukama het spesifieke rekenaargebaseerde tegnieke gebruik om (a) die ventilasiegate in granaatkartonne te herontwerp om lugvloei en verkoelingswerkverrigting in stapels te verbeter, en (b) om nuwe geventileerde riffelkartonhouers met veelvuldige lae te ontwerp wat vragdigtheid, ruimte en materiële benutting kan verbeter. Die virtuele prototipes wat die beste gevaar het, is toe vervaardig en eksperimenteel geëvalueer om aan bedryfstandaarde te voldoen.

“Die nuwe veelvuldige laag-kartonontwerp gebruik betreklik minder kartonmateriaal, baie meer granate kan in 'n vraghouer gepak word, die granate word meer eweredig en vinniger verkoel en dit bring besparings in verpakkingsmateriaal mee. Gesamentlik lei hierdie voordele tot beter benutting van beide bergings- en vraghouerruimte, red dit bome en spaar dit energie wat nodig is om die vrugte te verkoel en om die vereiste vrugtemperatuur te handhaaf," sê Mukama.

“Toetse oor die werkverrigting van die nuwe veelvuldige laag-kartonontwerp het getoon dat meer as 1,8 ton meer granate in 'n vraghouer gelaai kon word, in vergelyking met die huidige enkellaag-kartonontwerp.

“In 'n standaard verkoelde 12 m-vraghouer (40 vt) volgelaai met 20 palette vrugte sal die nuwe ontwerp van veelvuldige lae 4 800 meer granate (240 kartonne) kan hou in vergelyking met die huidige verpakkingskarton wat in die bedryf gebruik word. Gegrond op die volume vrugte wat in 2018 vanaf Suid-Afrika uitgevoer is en as die aanname gemaak word dat dit per see vervoer word, sal die nuwe veelvuldige laag-kartonne 26 minder verkoelde vraghouers nodig hê as wat tans die geval is met die huidige kommersiële kartonne."

Mukama wys ook daarop dat indien die veelvuldige laag-kartonne oral gebruik word, 15 152 minder verkoelde vraghouers wêreldwyd benodig sal word om vars granate te hanteer. Dit sal ook help om die uitstoot van kweekhuisgasse wat met verkoelde vervoer en verkoeling gepaard gaan, te verminder, voeg hy by.

Mukama sê sy navorsingsbevindinge beklemtoon die behoefte aan die behoorlike ontwerp van karton-luggate en die ooreenstemming van luggate in stapels vrugte tydens na-oes-hantering, berging en verkoelde vervoer.

“Dit is belangrik omdat die vernaamste beperking van enkellaag-granaatkartonne die oneweredige ooreenstemming van luggate wanneer hulle op palette gestapel word, is. Dit veroorsaak warmlugsones gedurende gedwonge lugverkoeling, wat dus verkoeling vertraag en die oneweredige verkoeling van vrugte binne-in die karton tot gevolg het. Granate se gehalte word deur beide 'n onvoldoende verkoelingstempo en onbehoorlike temperature iewers in die aanvoerketting verswak."

Oor wie die meeste by sy navorsing sal baat, noem Mukama diegene in die granaatbedryf, verbruikers en die omgewing.

Hy sê hulle gaan nou die nuwe veelvuldige laag-ontwerp patenteer en ook breedvoerige kommersiële uitvoerproefnemings doen.

Hooffoto: Dr Matia Mukama by die gradeplegtigheidseremonie (Fotograaf: Stefan Els). Foto 1: Dr Matia Mukama​ besig om te werk in 'n granaatboord.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Matia Mukama

Na-oes Tegnologie-laboratorium

Fakulteit AgriWetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Sel: 0846720286

E-pos: muksmatiz@yahoo.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za