Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Leerders maak US trots by Ekspo vir Jong Wetenskaplikes
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 18/10/2019

Skoolleerders wat hul navorsingsprojekte onder die Stellenbosch Universiteit Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) in die Fakulteit Opvoedkunde geslyp het, het weggestap met 'n reeks medaljes en pryse tydens 'n onlangse internasionale kompetisie vir jong wetenskaplikes.

Die kompetisie, die Eskom Ekspo Internasionale Wetenskap Uitstalling (ook bekend as die "International Science Fair" of ISF), het van 24 tot 27 September 2019 in Boksburg, Johannesburg, plaasgevind. Die ISF het jong wetenskaplikes van regoor Suid-Afrika, Namibië, Kenia, Ghana, Mosambiek, Ethiopië, Tanzanië, Mexiko, Turkye en Uganda byeengebring.

Die doel van die ISF, nou in sy 39ste jaar, is om bewustheid onder leerders te skep oor die wonders van die wetenskap, om by te dra tot hul kennis en om hul wetenskaplike horisonne te verbreed.

Leerders van beide laerskole en hoërskole het hul wetenskaplike projekte vir die kompetisie ingeskryf wat 13 verskillende kategorieë dek, insluitend landbouwetenskap, chemie, rekenaarwetenskap, energie- en omgewingstudies, ingenieurswese en sosiale wetenskappe.

Die kompetisie is aanvanklik in 35 streke regoor die land beoordeel, waarna die wenners van elke streek die ISF bygewoon het.

In die Stellenbosch-streek is 19 projekte van leerders by 19 verskillende skole uiteindelik gekies om die streek in die eindronde te verteenwoordig. Die wenners is uit 33 skole gekies tydens 'n kompetisie wat op 22 en 23 Augustus by die Bloemhof Hoër Meisieskool gehou is.

Erika Hoffman, projekkoördineerder by SUNSEP en die Expo-streekskoördineerder op Stellenbosch, het gesê hul taak is om hierdie leerders voor te berei om van literatuurstudies gebruik te maak, hul navorsingstudies te beplan en uit te voer en hul eie gevolgtrekkings te maak ten einde gehalte-navorsingsprojekte vir die kompetisie in te handig.

Vanjaar se pryse by die ISF het R9 miljoen beloop en het kontantpryse; beurse geborg deur Eskom, Wits Universiteit, die Universiteit van Pretoria, Siemens en Babcock ingesluit; asook wetenskapstelle vir skole en skootrekenaars en tablette vir leerders.

Die leerders van die Stellenbosch-streek het daarin geslaag om drie bronsmedaljes, agt silwermedaljes, een goue medalje, een kategorie-wenner en vier spesiale pryse by die ISF te verower. 'n Graad 12-deelnemer het ook beurse vir vier jaar se studie van Eskom en Siemens ontvang. Daarbenewens is vier leerders genomineer om aan verskillende internasionale wetenskapskoue deel te neem.

"Leerders wat aan die kompetisie deelneem, word nie net met goeie wetenskaplike en tegnologiese vaardighede toegerus nie, maar dit help hulle ook om op 'n toekomstige loopbaan toe te spits, hul lewensvaardighede aan te vul en om hul selfvertroue te ontwikkel," sê Hoffman.

Benewens die aanbieding van aanvullende onderrig aan leerders in wiskunde en wetenskappe, bied SUNSEP ook opleidingskursusse vir onderwysers in wiskunde en wetenskap.

Foto: Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier is hier saam met Erika Hoffman en Bersan Lesch van die Departement Wetenskap en Tegnologie. 

Lees ook: