Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Transformasie-indaba bekyk verskeie kwessies in hoër onderrig
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 21/10/2019

Met die onlangse protesoptogte teen geslagsgebaseerde geweld (GGG) wat regoor die land plaasgevind het, het die hutsmerk #StelliesWereAreYou op verskeie sosialemedia-platforms die pas aangegee.

Daarom het vanjaar se Transformasie-indaba by die Universiteit Stellenbosch (US) wat Donderdag (17 Oktober 2019) plaasgevind het, gepoog om 'Stellies' sigbaarder te maak deur leiers en praktisyns in verskeie portefeuljes die geleentheid te gee om meer te vertel oor wat hulle doen om die Universiteit te help om sy transformasiedoelwit te bereik.

Die Indaba is deur dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Transformasie en Sosiale Impak, en dr Claire Kelly, die waarnemende hoof van die US se Transformasiekantoor, by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) aangebied en gefasiliteer.

Die Transformasie-indaba is in 2017 geloods en die doel vanjaar was om die talle uitdagings, kwessies en geleenthede vir verandering by instellings vir hoër opleiding aan te spreek.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het in sy verwelkoming gesê die US is verbind tot transformasie deur die inwerkingstelling van 'n uitgebreide transformasieplan om die instelling op sy reis vorentoe te help.

“Dit is vir ons belangrik om sigbare uitvoer aan dít wat in die transformasieplan vervat is, te gee. Ons is tot waardigheid, die genesing van wonde, vryheid en gelykheid verbind. Daar kan geen sigbare transformasie sonder sigbare geregtigheid, veral geregtigheid aan die mees gemarginaliseerdes op kampus en in die breër samelewing wees nie," het Koopman gesê.

Prof Loretta Feris, Viserektor van Transformasie en 'n professor by die Regsfakulteit aan die Universiteit van Kaapstad (UK), het die hoofrede by die indaba gelewer. Haar toespraak was getiteld Transformation in higher education in South Africa: Current victories, opportunities and challenges.

Feris, wat ook 'n oud-Matie is, het die US geloof vir die vooruitgang wat die instelling reeds op sy transformasiereis gemaak het, maar het gesê nog werk moet gedoen word om aan die huidige geslag, asook toekomstige generasies, 'n volkome transformerende ervaring te bied.

“Daar kom steeds rassehaat in ons samelewing voor. As 'n mens met ʼn eerste oogopslag na Suid-Afrika kyk en die post-apartheidsamelewing met die pre-apartheidsamelewing vergelyk, lyk dit asof ons 'n lang pad gestap het, en in sommige opsigte sal ek selfs sê ons het, en ons moet dit erken.

“Selfs wanneer ek Stellenbosch besoek, kan ek duidelik die verskil tussen die Stellenbosch uit my studentedae en die Stellenbosch van vandag sien. Dit is interessant dat diegene van ons wat apartheid oorleef het – hetsy geestelik of fisiek – verdraagsamer is jeens die soort welwillende integrasie wat tans in die Suid-Afrikaanse samelewing voorkom, omdat ons weet dit is soveel beter as wat ons in die verlede beleef het," het Feris gesê.

Feris glo egter dat talle jong swart studente steeds dieselfde kwessies oor diskriminasie as in die verlede beleef, aangesien hulle minder verdraagsaam teenoor rassisme, ongelykheid en diskriminasie is as wat ouer generasies wat onder die apartheidsregime geleef het, was. Sy glo dit is veral die geval met die jonger geslag aan wie daar verkondig is dat hulle 'vry gebore' is, maar steeds ongelykheid en rassisme in die land ervaar.

“Daar is 'n verwagting dat studente wat nou universiteit toe kom, beter sal inpas en dat hulle sal tuis voel. Hier is jy nou 'n 'vry geborene' in 'n land waar die onregte van die verlede kwansuis aangespreek is, maar jy kom na 'n instelling vir hoër onderrig en jy voel steeds uitgesonder en dat jy nie tuishoort nie. Dit is slegte probleem vir ons almal by alle universiteit en indien ons nie dit nou aanpak nie, sal dit keer op keer in die toekoms weer na vore kom," het Feris gesê.

Ter voorbereiding van die Indaba, het die Transformasiekantoor gedurende die laaste week in September 'n kampuswye meningsopname gedoen om vas te stel wat studente en personeel as besprekingspunte by die geleentheid wou hê.

Die gevolgtrekking uit die uitslae van die meningopname was dat insette oor die volgende verantwoordelikheidsgebiede en kwessies gegee moes word:

  • Insette oor transformasie, insluitende die transformasie-infrastruktuur, transformasie-aanwysers, visuele regstelling en sosiale impak
  • Insette oor studentebelange, insluitende diskriminasie en teistering, GGG, gestremdhede, geestesgesondheid, voedselsekuriteit en koshuiskultuur
  • Insette oor navorsing, insluitende die transformasie en dekolonisasie van navorsing en navorsingsetiek 
  • Insette oor onderrig en leer, insluitende leerplanvernuwing en dekolonisasie, asook kapasiteitsontwikkeling van dosente
  • Insette oor menslike hulpbronne, insluitende diensbillikheid en -regverdigheid en personeel se welstand 

Diegene wat insette oor hierdie verantwoordelikheidsgebiede gelewer het, het 'n ononderbroke geleentheid gekry om 'n kort oorsig van hul werk, soos van toepassing op die onderwerpe en vrae wat in die meningsopname na vore gekom het, te lewer. Dit het ook aan Indabagangers 'n aanduiding gegee oor watter vrae aan wie gerig kon word gedurende die wegbreekbesprekings.

Die wegbreekbesprekings se gesprekke is aangeteken en sal in 'n Indabaverslag saamgestel word vir verspreiding in November vanjaar.