Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Instituut vir Plantbiotegnologie – 21ste bestaansjaarvieringe
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 15/10/2019

​Die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) het gedurende die reses op Vrydag 13 September 2019 sy 21ste bestaansjaar gevier. In die week voor die Vrydagmiddag se groot partytjie het die IPB se internasionale medewerkers en bedryfsvennote die Instituut vir terugvoer- en toekomsbeplanningsessies besoek. Vir die hoofgeleentheid het 'n verskeidenheid belanghebbendes – van stigterslede, oudpersoneellede en -studente tot bedryfsvennote, plaaslike en internasionale medewerkers en diensverskaffers – hulle by huidige personeel en studente by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) aangesluit. Die groot hereniging tussen ou vriende en kollegas het tot menige verraste kommentaar oor grys hare, geen hare en ekstra plooie gelei, en die STIAS-voorportaal was behoorlik aan die gons met opgewonde gesprekke oor “Waarmee is jy deesdae besig?" en “Waar werk jy nou?".

Die formele gedeelte van die middag se verrigtinge het met 'n verwelkomingsrede deur prof Danie Brink, Dekaan: AgriWetenskappe, begin. Volgende aan die beurt was prof Frikkie Botha, onder wie se direkteurskap die IPB in 1998 gestig is en wat die hele pad van Australië af gevlieg het om die reünie by te woon. Prof Botha het oor die historiese doelwit en missie van die IPB gesels en 'n insiggewende blik gebied op hoe die bedryf by langtermynfinansiering van en -medewerking met die akademiese wêreld kan baat vind, waarvan die samewerking tussen die IPB en die suikerrietbedryf 'n uitstekende voorbeeld is. Hy het ook uitgewei oor die aanvanklike onderhandelinge met die leiers van die Universiteit Stellenbosch en die eerste vennootskapsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Suikervereniging, wat deurslaggewend was vir die vestiging van die IPB. Daarna het prof James Lloyd, 'n Brit van geboorte, die gehoor vermaak met 'n grappige vergelyking van wêreldgebeure, natuurlik met besondere klem op Engeland se sportprestasies, maar ook die mylpale en wesenlike veranderinge van die IPB oor die afgelope 21 jaar. Hy het die gehoor boonop interessante statistieke gegee oor die getal studente, navorsingsuitsette en patente wat die Instituut al opgelewer het. Laastens het mnr Willem Botes, die hoof van die Departement Genetika, waarin die IPB as 'n onafhanklike eenheid bedryf word, 'n paar toekomsuitdagings en -perspektiewe uitgelig.

Die geleentheid is afgesluit met 'n vroeë skemerkelkdinee, waar die gaste verder kon kuier. Hier het hulle oor die goeie ou dae nagedink, skindernuus uitgeruil, vriendskappe verstewig, vennootskappe versterk, mekaar vir hulle werk bedank en toekomstige samewerking bespreek. Die geleentheid was oor die algemeen 'n reusesukses, en die gaste was dit eens dat die IPB kan trots wees op al sy prestasies van die afgelope 21 jaar.

 Picture 2.png

 Picture 5.png