Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet Militêre Akademie-wenner van Toekennings vir Voortreflike Onderrig
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 15/10/2019

Lt. Col. André Pretorius glo hy kan meer leergeleenthede aan sy studente by die Fakulteit Krygskunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) bied deur 'n praktiese benadering tot onderrig te volg en innoverende oplossings in die lesingkamer te vind.

Hy vertel hier meer waarom onderrig so belangrik is vir hom en wat sy loopbaanhoogtepunte was wat hom gehelp het om 'n 2019-US Toekenning vir Voortreflike Onderrig los te slaan.

Wat het jou gemotiveer om 'n dosent in hierdie vak te word en hoe lank doseer jy al?

Ek is al sedert 1990 by die een of ander vorm van onderrig betrokke. Ek het as 'n junior militêre instrukteur begin en het oor die 20 jaar of meer daarna tot 'n senior opvoeder en e-leer-ontwerper in die weermag gevorder. Dit was regtig vir my 'n roeping en 'n passie om nuwe maniere van onderrig en leer te ontdek. Hierdie ondervinding het handig te pas gekom om 'n dosent by die Fakulteit Krygskunde te word.

My belangstelling in die vakgebied het ook gehelp, maar my belangrikste motivering was om oplossings vir alledaagse gebruikersprobleme te vind en veral hoe om studente in hul aanlyn leerondervinding by te staan. 'n Gelukkige gevolg hiervan is dat ek 'n magdom data tot my beskikking het om my kursusse feitlik onmiddellik te verbeter. Die fynheid van die aktiwiteite wat aktiewe gebruikersdata vir ontleding skep, beteken dat jy leeruitdagings kan voorspel en kan regstel.  

Wat was van jou loopbaanhoogtepunte sover?

Deur reeds van 'n jong ouderdom af 'n leier in die weermag te wees terwyl ek ander jong soldate opgelei het, het vir my die grondslag gelê om tot gevorderde onderrigtegnologie te vorder gedurende 'n tydperk wat hierdie soort tegnologie nog baie nuut was. Dit het tot my aanstelling as projekoffisier vir die eerste e-leerplatform wat deur die Suid-Afrikaanse Weermag gebruik is, gelei wat vir my 'n groot eer was. Dit het weer op sy beurt vir my die grondslag gelê om die eerste aanlyn kursus te implementeer wat met sukses deur afstandsonderrig en inwonende studente by die Fakulteit Krygskunde gebruik is.  

Wat beteken die US-toekenning vir voortreflike onderrig vir jou?

Hierdie onderrigtoekenning het vir my bevestig dat my eweknieë my werk in hierdie vakgebied as belangrik vir ons instelling se toekoms beskou. Ek is trots daarop om te weet dat ek op 'n manier gehelp het om die toekomsvisie van 'n instelling wat my na aan die hart lê, te bereik.

Watse invloed sal hierdie toekenning op jou onderrigloopbaan vorentoe hê?

Hierdie toekenning is 'n simbool van my voortgaande pogings om onderrig te verbeter en dien as inspirasie om vir die res van my loopbaan aan te hou.

Wat hoop jy sal jou studente uit jou onderrig leer?

Ek hoop my studente sal hul potensiaal ontdek om nuwe en ingewikkelde konsepte aan te leer terwyl hulle ook sommige van die waardes wat ons samelewing in hierdie vakgebied handhaaf, omarm. Ek hoop ek sal die standaard kan stel waaraan hulle toekomstige studies en professionalisme sal kan meet.

*Pretorius en die ander wenners van die Toekennings vir Voortreflike Onderrig sal hul toekennings by 'n prysuitdelinggeleentheid aan die einde van die vierde kwartaal ontvang.

Vir verdere inligting oor die Toekennings vir Voortreflike Onderrig, skakel dr Karin Cattell-Holden by 021 808 3074 of stuur 'n e-pos na kcattell@sun.ac.za.