Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US presteer in datawetenskap-hackathon
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 15/10/2019

Die vervoerekonomiegroep in die Departement Logistiek het Saterdag (12 Oktober 2019) 'n masjienleer-hackathon by die LaunchLab in Stellenbosch aangebied, waar 'n span elektriese ingenieurswesestudente van die Universiteit Stellenbosch (US) as naaswenners aangewys is.

Alhoewel “hackers" oorspronklik verwys na die verbreking van netwerksekuriteit om toegang tot beskermde inligting te kry, word daar deesdae hackathons gehou om digitale oplossings vir alledaagse probleme met behulp van rekenaartegnologie te vind.

Die maatskappy Uber en die datawetenskapkompetisie-platform, Zindi, het saam met die US Departement Logistiek die hackathon aangebied. Dit het sowat 100 datawetenskaplikes en aspirant-datawetenskaplikes van oor die hele Wes-Kaap gelok.

Die doel van die hackathon was om 'n masjienleermodel te bou wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap kan help voorspel wanneer en waar voertuig- en voetgangerongelukke bes moontlik in die Wes-Kaap gaan plaasvind.

Deelnemers moes hul modelle grond op historiese padvoorvalgegewens sowel as verkeerspatroondata van Uber. Die uiteindelike modelle moet die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk in staat kan stel om maatreëls in te stel wat help om die veiligheid van alle inwoners van Kaapstad te verseker.

Volgens 'n onlangse studie deur die Wêreldgesondheidsorganisasie word daar jaarliks ongeveer
1 miljoen padongelukke in Suid-Afrika aangemeld, wat lei tot ongeveer 31,9 sterftes per 100 000 mense per jaar. Hierdie sterftesyfer kan dramaties verminder indien owerhede so vinnig en doeltreffend moontlik op gerapporteerde voorvalle reageer.

Die US-span bestaande uit elektriese ingenieurswesestudente Matthew Baas, Ryan Seebregts en Kevin Eloff, het gesê hul oplossing was gebaseer op 'n vorige kode wat hulle aangepas en verander het.

“Hierdie erkenning gee ons die vertroue om masjienleer as loopbaan na te streef. Masjienleer is die toekoms en hierdie kompetisie is 'n goeie geleentheid om daarby betrokke te raak terwyl ons nog vir ons graad studeer," het Seebregts gesê.

Die trio het R2 000 se prysgeld vir die tweede plek losgeslaan.

Marcus Gawronsky, 'n student aan die Universiteit van Kaapstad wat vir sy meestersgraad in Gevorderde Analise studeer, was die wenner en het met R4 000 weggestap. Thembisile Damon, Xolisa Mzini, Siphesihle Yapi en Thabiso Mareletsa van Explore Data Science Academy het die derde plek beklee en R1 500 gewen.

Yolisa Kani, hoof van openbare beleid vir Uber Suid-Afrika, het gesê die regering kla altyd dat hulle nie die hulpbronne het om antwoorde te vind op probleme waarmee hulle worstel nie.

“Hierdie hackathon wys dat daar baie mense is wat bereid is om hul talente te gebruik om oplossings te vind. Ek hoop dat ons dié uitdaging verder as die Wes-Kaap kan uitbrei," het sy gesê.

Reginald Kgwedi, dosent in die Departement Logistiek, het gesê die feit dat Uber hul data aan US beskikbaar stel “bied ons die geleentheid om nie net oplossings vir die vervoeruitdagings in Suid-Afrika te vind nie, maar om hierdie inligting te gebruik om oplossings in die akademiese ruimte te vind, aangesien ons ook werklike inligting benodig om in ons lesings te gebruik".

Volgens prof Stephan Krysgman van die Departement Logistiek is die hackathon 'n wonderlike geleentheid vir studente om blootgestel te word aan praktiese voorbeelde, werklike gegewens en gevallestudies, en om saam met 'n internasionale onderneming 'n probleem op te los.

Celina Lee, uitvoerende hoof van Zindi, het gesê die hackathon bied datawetenskaplikes die geleentheid om hul vaardighede op die werklike datastelle te verfyn, werklike probleme op te los, hul professionele profiele te bou en potensiële werksgeleenthede te identifiseer.

“Die datawetenskaplikes, veral die studente, kan hul ervaring in hierdie uitdaging gebruik om werk in die veld te kry. Hulle kan selfs aansoek doen by die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap of Uber," het sy gesê.

  • Foto: US- elektriese ingenieurstudente (v.l.n.r.) Ryan Seebregts, Matthew Baas en Kevin Eloff was die naaswenners van die hackathon.