Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika-VK navorsingsleerstoel sal help om vroue te bemagtig
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 14/10/2019

Met die toenemende verstedeliking in Afrikalande is daar 'n groeiende vraag na energievoorsiening. Energie staan ook sentraal in die wêreldwye beweging na die Vierde Industriële Revolusie.

Onvoldoende energievoorsiening sal egter Afrika se vermoë om aan hierdie revolusie deel te neem, in gevaar stel. Met onlangse syfers van die Verenigde Nasies wat daarop dui dat meer vroue as ooit tevore nou aan die hoof van huishoudings in Afrika staan, sal energie-onsekerheid hierdie vroue aan nog groter sosio-ekonomiese gevare blootstel.

Die bekendstelling van die Afrika-Verenigde Koninkryk (VK) navorsingsleerstoel by die Universiteit Stellenbosch (US) het ten doel om hierdie potensiële gevare deur nuwe navorsing en bewysgegronde kennis oor hoe stede in Afrika hul energiesekerheid in arm, stedelike gebiede kan verbeter, te minimaliseer.

Die bekendstellingsgeleentheid is Woensdag (10 Oktober 2019) by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) op Stellenbosch gehou.

Die Afrika-VK Trilaterale Navorsingstoel se navorsing oor die volgende vyf jaar sal fokus op Mainstreaming Gender for Energy Security in Poor Urban Environments, of in kort Gender for Energy Security (GENS). Hierdie navorsing sal onder leiding van prof Josephine Kaviti Musango van die Skool vir Publieke Leierskap aan die US staan.

Die trilaterale navorsingstoel is in samewerking met die Brunel-universiteit Londen (BUL) en die Universiteit van Nairobi (UoN) ingestel. Dr Fabrizio Ceschin van BUL en dr Amollo Ambole van die UoN sal in hierdie navorsingstoel nou saam met Musango werk. Die Nasionale Navorsingstigting en die Newton-fonds deur die Britse Raad sal die GENS-trilaterale leerstoel befonds.

Musango hoop dat die befondsing verder as die aanvanklike vyf jaar sal strek, aangesien hierdie navorsingsleerstoel van onskatbare waarde sal wees om die lewens van vroue en diegene wat in die arm stedelike gebiede van Afrika woon, te verbeter.

“Ons is baie dankbaar om donateurs te hê wat ons navorsing ondersteun. Ons bou nou nuwe verhoudinge deur hierdie vennootskappe, wat sal help om energie vir vroue in arm omgewings te verseker," het Musango gesê.

Die GENS-trilaterale leerstoel sal deur middel van die samewerkende vennote 'n uiteenlopende stel kundigheide, insluitende stelseldinamika, hernubare energie-beleidsrigtings in Afrika-stede, ontwerpdenke, ontwerp vir volhoubaarheid en werk met stedelike arm vroue in Afrika, bymekaar bring.

Die US se Skool vir Publieke Leierskap sal ook gasheer wees vir 'n aantal nagraadse studente wat met die ontwikkeling van navorsing vir die GENS-trilaterale leerstoel sal help.

Volgens prof Johan Burger, Direkteur van die Skool vir Publieke Leierskap, is hierdie navorsingsleerstoel 'n reusemylpaal vir die skool en sal dit die US help om sy Visie 2040-doelwitte te bereik.

“Ons erken dat, gegewe die Universiteit Stellenbosch se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024, die Universiteit een van Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteite wil wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder. Dit is waarom ons so opgewondende is oor hierdie navorsingsleerstoel, aangesien dit ons sal help om hierdie doelwitte te bereik en dit is 'n ongelooflike navorsingsinisiatief," het Burger gesê.

Vir meer inligting oor die GENS-trilaterale navorsingsleerstoel, besoek https://gens.sun.ac.za/.

In die foto bo van links, Dr Fabrizio Ceschin, Dr Amollo Ambole en Prof. Josephine Kaviti Musango. 

Foto deur Anton Jordaan.