Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stimulerende gesprekke by simposium oor herstrukturering van wetenskap en navorsing aan die US
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 21/05/2019

'n Simposium oor “die herstrukturering van wetenskap en navorsing aan die Universiteit Stellenbosch (US) op grond van geregtigheid, insluiting en etiese integriteit" het Dinsdagoggend (21 Mei 2019) tot stimulerende gesprekke gelei.

Die simposium is gereël deur drie Senaatslede wat in die Raad dien, naamlik professore Aslam Fataar, Amanda Gouws en Usuf Chikte, na aanleiding van die omstrede artikel “Age- and education-related effects on cognitive functioning in Colored South African women" deur US-akademici wat in die internasionale wetenskaplike vaktydskrif Aging, Neuropsychology, and Cognition verskyn het. Die tydskrif het die artikel later met die US se volle ondersteuning teruggetrek.

Sowat 160 mense het die simposium van 09:00 tot 13:00 in die US Biblioteekouditorium op Stellenboschkampus bygewoon. Die geleentheid is ook regstreeks oor die internet uitgesaai (klik hier vir 'n video-opname).

Prof Fataar het die simposium met 'n verklaring deur die organiseerders geopen: “Ons voorneme is om 'n ruimte te bied vir diepgaande en kritiese beraadslaging oor die kernaspekte wat die sogenaamde 'ras-en-kognisie-artikel' ontlok het. Ons stel daarin belang om alternatiewe benaderings te ontwikkel tot die sinlose gebruik en misbruik van ras in wetenskap en navorsing. Ons wil dit in die besonder graag aan die kaak stel as 'n instrument wat gebruik word om teen mense te diskrimineer en hulle menswaardigheid te ondermyn." (Klik hier vir die volledige teks van die organiseerders se verklaring.)

Rektor se boodskap

Aan die begin van die eerste paneelbespreking is 'n stemboodskap van prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, gespeel. Die Rektor, wat tans vir Universiteitsake oorsee is, het gesê: “Hierdie enkele stuk navorsing weerspieël geensins die gehalte, etiek en waardes van die Universiteit Stellenbosch se uitmuntende navorsingsprogram nie. Maar dit stel ons instelling wél voor die harde werklikheid: Ons het ver gevorder op ons transformasiereis, maar ons is nog nie waar ons wil wees nie." (Klik hier vir ʼn transkripsie.)

Prof De Villiers het die onvoorwaardelike verskoning herhaal wat die US vir die publikasie van die artikel uitgereik het. Hy het ook gesê: “Ons moet sorg dat so iets nooit weer by ons Universiteit gebeur nie. Ons ondersoeke sal toon waar ons prosesse moontlik te kort skiet. Vir my sou 'n ideale uitkoms 'n protokol wees wat beskryf hoe ons die kwessie van 'ras' op 'n eties verantwoordbare manier in navorsing behoort te hanteer. Ideaal beskou, sou dít 'n belangrike bydrae wees wat die Universiteit Stellenbosch tot die hele Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor kan lewer."

Eerste paneelbespreking

Daar was twee paneelbesprekings. Die eerste was oor “Ras en die politiek van kennis by die Universiteit Stellenbosch" met proff Jonathan Jansen, Amanda Gouws, Barbara Boswell en dr Handri Walters as paneellede, en Prof Fataar as moderator.

Dr Walters, 'n nadoktorale navorser in die US se Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie, het daarop gewys dat UNESCO ras reeds in 1950 “tot 'n mite verklaar het", want “sogenaamde rassekategorieë is nie homogeen nie, kan nie geëssensialiseer word nie, en is nie bepalend of onontkombaar nie. Hulle [UNESCO] het vir eens en vir altyd verklaar dat ons 'n enkele menslike ras is, nie meervoudige rasse nie". (Klik hier vir haar bydrae.)

Prof Jansen, uitgelese professor in Opvoedingsbeleidstudie aan die US, het gesê hy was “verbaas oor die verbasing" wat die studie veroorsaak het omdat dit eintlik bloot 'n voortsetting is van 'n lank bestaande tradisie van sogenaamde wetenskaplike navorsing wat “ras" met sekere kenmerke verbind.

Prof Gouws, die bekleër van die SARChI-navorsingsleerstoel in Genderpolitiek aan die US, het aangevoer dat hoewel die artikel mense gestigmatiseer en erge pyn veroorsaak het weens die simplistiese gebruik van ras, “ons nie kan wegdoen met ras as 'n verklarende veranderlike nie". Nietemin behoort die doel te wees om mense te bemagtig, nie te ontmens nie. En alle navorsers behoort ernstig na te dink oor wat goeie navorsing is, want die “vaardighede van kritiese denke en analitiese skerpsinnigheid wat goeie sosiale wetenskap kweek, is van onskatbare waarde in prosesse van maatskaplike transformasie". (Klik hier vir haar bydrae.)

Prof Boswell, wat verbonde is aan die Departement Engelse Letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad, het gesê sy was een van die akademici wat eerste alarm gemaak het oor die artikel en aan die uitgewers geskryf het om te vra dat hulle dit terugtrek. “Die artikel bevat geen erkenning dat 'ras' sosiaal gekonstrueer is en dat die term 'bruin' onder kolonialisme en apartheid geskep is, dog vandag nog bly kleef nie."

In die lewendige gesprek daarná is voorgestel dat alle studente en personeel blootgestel word aan 'n kernkurrikulum oor hoe om krities oor “ras" te dink en hoe om dit in navorsing te hanteer.

Lede van die Cloetesville-gemeenskap, waar die subjekte van die studie vandaan gekom het, het passievol gepraat oor die pyn wat die negatiewe kategorisering vir hulle veroorsaak het.

Tweede paneelbespreking

Die tweede paneelbespreking was oor “Navorsing, wetenskap en etiek aan die Universiteit Stellenbosch" met proff Gubela Mji, Nadine Bowers-du Toit, Anita van der Merwe en me Melany Hendricks as paneellede en prof Chikte as moderator.

In haar bydrae het prof Mji van die Sentrum vir Rehabilitasiestudies in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe die US aangemoedig om homself as 'n inheemse Afrika-universiteit te beskou wat op die behoeftes en prioriteite van inheemse gemeenskappe reageer. Ter onderstreping van die belang daarvan om navorsingsmetodologieë te dekoloniseer, het sy gesê: “Om te kan vorentoe beweeg, moet ons teruggaan na inheemse waardes en inheemse kennis." (Klik hier  vir haar bydrae.)

Volgens prof Bowers-du Toit van die US se Eenheid vir Godsdiens- en Ontwikkelingsnavorsing is dit belangrik vir akademici om bewus te wees van hulle implisiete vooroordele, en hoe dit hulle eie groep weerspieël én hulle gedrag beïnvloed. “Hierdie vooroordele dui op 'n groter sistemiese kwessie," het sy gesê. Sy het 'n oproep gedoen om kwalitatiewe transformasie en 'n ingrypende verandering in die US se institusionele kultuur. “Dít beteken dus transformasie en verandering in die groter Universiteit sowel as in navorsing self – die praktyke, beleide en mense wat by navorsing betrokke is." (Klik hier vir haar bydrae.)

Van der Merwe, 'n emeritus professor in die US se Departement Verpleegkunde, het in haar bydrae die kwessie van navorsingsintegriteit aangeroer, en gesê navorsingsetiekkomitees behoort die sensitiewe hekwagters van verantwoordbare en etiese navorsing te wees om deelnemers te beskerm.  (Klik hier vir haar bydrae.)

Dit is belangrik vir navorsers en universiteite om selfondersoek te doen oor hulle werk, het me Hendricks van die US se Departement Sielkunde aangevoer. “'n Instelling kan slegs transformasie teweegbring as hy homself ondersoek." Dít, volgens Hendricks, vereis dat 'n mens jouself afvra hoe jou eie wêreldbeskouing, waardes, ideologieë en vooroordele onderdrukkende sosiale en professionele strukture skep.  (Klik hier vir haar bydrae.)

Slot

Voorstelle vir die pad vorentoe is aan die einde van die simposium bespreek. Ter samevatting het prof Fataar dit in vyf afdelings ingedeel:

  • Die institusionele kultuur van die US
  • Die US se visie en missie
  • Navorsingspraktyke, -prosesse en -beleide
  • Institusionele meganismes om verskillende gesprekke aan die Universiteit byeen te bring
  • Universiteitswye opvoedkundige prosesse, waaronder kursusse, wat vir almal beskikbaar moet wees

In hulle verklaring het die organiseerders gesê: “Dit is belangrik dat ons, as instelling, hierdie aangeleentheid op 'n ten volle inklusiewe, onderling raadplegende en intersubjektiewe manier benader. Heelwat transformasiewerk is reeds in die verskillende prosesse en komitees van die Universiteit aan die gang.

“Die huidige debakel toon ook dat daar nog 'n lang pad voorlê om ons institusionele verlede op alle vlakke van die Universiteit te hanteer. Dit dien as 'n rigtingwyser om ons transformasiepogings te verdiep."