Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika Doktorale Akademie vier 10 jaar van uitnemendheid
Outeur: Birgit Ottermann
Gepubliseer: 18/05/2019

Universiteite in Suid-Afrika en Afrika het die afgelope tyd die bevordering van doktorale akademieskap as 'n deurslaggewende faktor vir die ontwikkeling van hoër onderwys en die uitbouing van navorsingsproduksie op die vasteland geïdentifiseer. Die Afrika Doktorale Akademie (ADA) by die Universiteit Stellenbosch (US) doen die afgelope dekade sy deel in dié verband deur doktorale onderrig aan die US en oor die hele Afrika te koördineer en te versterk.

Sedert dit in 2009 tot stand gekom het, het die ADA deur sy jaarlikse somer- en winterskole impakryke vermoëbousessies vir 4 500 huidige en voornemende doktorale kandidate en studieleiers van Afrika aangebied. “Die ADA maak deel uit van die Afrikasentrum vir Akademieskap (ASA) by US Internasionaal en dra by tot die ASA se missie om vakkundiges en akademieskap by die US en in die res van Afrika te bevorder en te ontwikkel," verduidelik Corina du Toit, ADA-programbestuurder.

“Ons twee weke lange doktorale skole vind jaarliks in die somer (Januarie) en weer in die winter (Junie–Julie) plaas. Hierdie geleenthede bied huidige en voornemende doktorale kandidate, hulle studieleiers en ander navorsers van Afrika navorsings- en metodologieopleiding van gehalte, sowel as moontlikhede vir akademiese gereedheid en loopbaanontwikkeling." Die afgevaardigdes kom meestal van Suid-Afrika, Namibië, Zimbabwe, Kenia, Ghana, Nigerië, Uganda, Malawi en Zambië. Deelnemers verteenwoordig die vakgebiede van lettere en sosiale wetenskappe, ekonomiese en bestuurswetenskappe, landbouwetenskappe, en geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

Benewens die twee doktorale skole by die US elke jaar, ondersteun die ADA ook die nuwe program vir Gesamentlike Skole in Afrika by universiteite elders op die vasteland. Dít sluit in die Universiteit van Ghana, Makerere-universiteit (Uganda), Strathmore-universiteit (Kenia), Ardhi-universiteit (Tanzanië), Kanselierskollege (Malawi) en die Universiteit van Namibië. “Die US het bilaterale en multilaterale verhoudings met baie van Afrika se voorste instellings en akademiese netwerke opgebou. Deur ons ADA-werksessies aan hierdie vennote beskikbaar te stel, ondersteun ons kennisproduksie deur meer en beter doktorale graduandi op die vasteland op te lewer. Terselfdertyd stel dit ook die US in staat om sy Afrikanetwerke te konsolideer en uit te brei," sê Du Toit.

Die ADA bied vanjaar van 27 Junie tot 12 Julie sy jaarlikse doktorale winterskool by die US aan. “Ons sal soos altyd sterk klem lê op PhD-voorbereiding, inleidende en gevorderde kursusse oor navorsingsmetodes, akademiese skryfvaardighede, die gebruik van kwalitatiewe en kwantitatiewe instrumente, die publikasie van artikels, en voorbereiding vir 'n akademiese loopbaan, waaronder opleiding in doktorale studieleiding," sê sy. “Hierdie kursusse duur meestal 'n week elk. Nietemin het ons onlangs ook 'n paar dag lange kursusse oor onderwerpe soos selfversekerde openbare redevoering, die skryf van finansieringsvoorstelle en projekbestuursbeginsels bekend gestel." Volgens Du Toit word klasse klein gehou om optimale interaksie tussen afgevaardigdes en aanbieders moontlik te maak. “Die aanbieders is almal kenners op hulle onderskeie gebiede en kom van die US sowel as universiteite in die Verenigde State, België, Ierland en Duitsland, om net 'n paar te noem."

En te oordeel na die oorweldigend positiewe reaksie van deelnemers aan die ADA se doktorale skole die afgelope tyd, het vanjaar se winterskoolkohort baie om na uit te sien. “Die ADA voorsien in 'n dringende behoefte. Dit bemagtig mense met goeie navorsingsvaardighede, wat in die toekoms uiters voordelig sal wees vir kennisproduksie op die Afrikavasteland," het Jacob Igba, 'n PhD-student van Nigerië, ná die ADA-winterskool van 2017 gesê. “Ek het wonderlike vriende van oor die hele Afrika gemaak," het Mpala Pilula, 'n PhD-student van Zambië, ná die somerskool van 2017 laat weet. “Die hoë gehalte van die kursusse en aanbieders het werklik vir my uitgestaan – dit was voorwaar 'n wêreldklaservaring, en 'n fantastiese manier om 'n PhD te begin." Tiffany Banda, 'n doktorale student van Malawi, het die volgende ná die ADA-winterskool van 2018 te sê gehad: “Dit het my blootgestel aan die kennis, vaardighede en instrumente waarmee ek duideliker en meer toegespits deur my doktorale studie sal kan werk. Die kursusse is deur van die briljantste intellekte aangebied wat ek al ooit as 'n akademikus teëgekom het. Toe ek daar weg is, was ek geïnspireer, aangemoedig en vasbeslote dat ek óók 'n verskil kan maak, ongeag hoe klein, onder die mense wat ek in my invloedsfeer ontmoet." 
Om hulle tiende verjaardag te vier, sal die ADA op 20 Mei deel uitmaak van US Internasionaal se Afrikaweekvieringe. Boonop sal hulle gedurende die komende winterskool 'n sessie aanbied met prof Sarah Howie (ASA-direkteur) as voorsitter en prof Jonathan Jansen (uitgelese professor in die US se Fakulteit Opvoedkunde) as aanbieder. “Die praatjie, wat op 1 Julie plaasvind, sal die gehalte van akademieskap op doktorale vlak ondersoek, sowel as die rol van die Suid-Afrikaanse Wetenskapakademie (ASSAf) in die ontwikkeling van akademieskap in Suid-Afrika," sluit Du Toit af.