Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bied baie suksesvolle seminaar vir verpleegkunde-onderwysers aan
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 10/05/2019

​Meer as 80 verpleegkunde-onderwysers van die Wes-Kaap en ​elders het in Maart by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) byeengekom vir wat as ʼn baie suksesvolle seminaar van die Verpleegkunde-onderwysvereniging (NEA) van die Wes-Kaap bestempel is.

Dit was die eerste keer dat dié geleentheid deur die US aangebied is. Die tema was “Stemme van Gesondheidsberoepe-onderwys".

Dit was ook die eerste keer dat ʼn seminaar ingesluit is in die nagraadse diplomakursus in verpleegkunde-onderwys by die US, het dr Guin Lourens van die Departement van Verpleeg- en Verloskunde en programkoördineerder van die diploma, gesê.

Prof Portia Jordan, die nuwe Departementshoof, het die afgevaardigdes by die seminaar verwelkom.

Volgens Lourens was bykans die helfte van die afgevaardigdes nagraadse US-studente van reg oor Suid-Afrika, Namibië en Lesotho. Ander was afkomstig van ander universiteite, insluitende die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van Wes-Kaapland, die Kaapse Skiereiland- Universiteit van Tegnologie (KSUT) en die Wes-Kaapse Verpleegkollege, asook verpleegkunde-onderwysers van die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement.

Lourens het met die NEA-voorsitter en -ondervoorsitter, onderskeidelik Gohwa Fisher en Linda Jonker, saamgewerk om hierdie historiese geleentheid te verwesenlik.

Die internasionale gasspreker was prof Phillip Moons van die Katholieke Universiteit Leuven (KU Leuven) in België, wat oor globale verpleegkunde-onderwysneigings aan die woord was. Ander lesings het ingesluit ʼn lesing oor doeltreffende kliniese toesig deur dr Elize Archer van die FGGW se Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys (SGBO), asook een deur Justine Geiger van die SGBO oor ʼn raamwerk vir doelgemaakte opleiding.

Moons het gefokus op die belangrikste vaardighede wat van verpleegkundiges vereis word wanneer hulle as beroepslui kwalifiseer. Dit sluit in onafhanklike verpleegdiagnoses; om met ander beroepslui saam te werk; die onderrig van ʼn gesonde leefstyl, asook om die gehalte van verpleegsorg te verseker en te evalueer.

Ander voorleggings het ingesluit voorpunt-werk wat uit etlike meestersgraadstudies voortspruit, met inbegrip van Fisher se studie oor leerstyle en Penny Gill se studie oor digitale storievertelling by die KSUT. Groote Schuur se Terry Wulff het ʼn bordspeletjie-innovasie as ʼn onderwysstrategie aan die gehoor bekend gestel.

In haar kommentaar oor die simposium se sukses het Lourens gesê “positiewe terugvoer is van die studente en ander afgevaardigdes ontvang. Die algemene konsensus was dat dit jaarliks moet plaasvind."

Volgens Lourens was ʼn sleutel-prestasie van die simposium dat dit die plaaslike rolspelers in verpleegkunde-hoëronderwys byeengebring het.

“Voorts het dit die volgende generasie verpleegkunde-onderwysers aan die NEA-netwerk bekend gestel en plaaslike kundigheid op die gebied van verpleegkunde-onderwys en -leerstrategieë ten toon gestel, asook ʼn internasionale perspektief gebied."

Oor internasionale verpleegkunde-onderwysneigings het Lourens gesê: “Ons sukkel almal met ʼn tekort aan verpleegkundiges, wat beteken daar is ook ʼn tekort aan onderwysers, veral diegene met ʼn meesters- of doktorsgraad. Daar is wêreldwyd ʼn verskuiwing na ʼn vierjaargraad vir die opleiding van professionele vepleegkundiges en talle lande oorsee is nog in ʼn oorgangsfase."​

Onderskrif: Dr Guin Lourens, Gohwa Fisher (NEA-voorsitter), prof Portia Jordan en dr Elize Archer.