Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW bevestig sy verbintenis tot transformasie
Outeur: Prof Jimmy Volmink
Gepubliseer: 26/04/2019

Na die ernstige kommer wat uitgespreek is oor ʼn artikel deur navorsers van die Departement Sportwetenskap, wat sedert Januarie 2019 deel is van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, wil ons ons voortgesette verbintenis tot transformasie op alle vlakke herbevestig. 

Die artikel, getiteld Age- and education-related effects on cognitive functioning in Coloured South African women, het onlangs in die vaktydskrif Aging, Neuropsychology, and Cognition verskyn. Dit het uitgebreide kritiek ontlok weens, onder meer, die voortsetting van rassestereotipes, die gebruik van bedenklike wetenskaplike metodes en ongeregverdigde gevolgtrekkings. Ek en my bestuurspan het met groot kommer kennis geneem van dié kritiek. 

Ons land se geskiedenis is ingewikkeld en bestaan uit veelvuldige fasette, en ons gee erkenning aan die feit dat die ongeregtighede van die verlede steeds bydra tot die ongelykhede wat vandag in ons samelewing voorkom. Ons erken dat die publikasie en die navorsing waaruit dit spruit tot diep pyn, woede en frustrasie gelei het en dat dit beskou word as rassisties, beledigend en aanstootlik. As ʼn fakulteit verwerp ons enige vorm van diskriminasie, insluitend stereotipering op grond van ras. 

Ons wil verder erkenning gee daaraan dat sistemiese faktore in ons instelling kon gelei het tot die onopsetlike verskansing van diskriminasie en onvoldoende reaksies op implisiete vooroordeel. Ons sal aanhou om saam met al ons kollegas te werk om sulke uitdagings aan te spreek.

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het oor die laaste dekade groot aansien verwerf vir die bevordering van gesondheid en gelykheid. Ons bevorder aktief gedrag wat geskoei is op ons waardes van inklusiwiteit, deernis, verantwoordbaarheid, respek, uitnemendheid en gelykheid. 

Ons het ʼn Fakulteitshandves ontwikkel onder die leierskap van die Dekaan se Advieskomitee oor Transformasie wat belyn is met dié waardes. 

Die Handves meld: “Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch erken, het berou oor en vra opreg om verskoning vir sy aandadigheid aan die historiese ongeregtighede van Suid-Afrika se verlede, en ons besef dat hierdie ongeregtighede steeds bydra tot hedendaagse ongelykhede. Ons verafsku alle vorme van onregverdige diskriminasie, uitbuiting, onderdrukking, intimidasie en afknouery." 

Die Handves is ʼn verbintenis daartoe om, onder meer, navorsing te bevorder wat moreel, eties, toeganklik en relevant tot ons konteks is. Ons streef daarna om navorsing te doen wat tot voordeel van deelnemers en gemeenskappe is en om te verseker dat die welstand van die deelnemers aan ons navorsing voorrang geniet bo wetenskaplike belange.

Deur die Handves verbind lede van ons fakulteit onsself ook daartoe om bemagtigende omgewings te skep waarin elke individu haar of sy reg tot vryheid van spraak kan beoefen, met inagneming en respek vir die regte en vryhede van ander.  

Ons het reeds 'n aantal inisiatiewe van stapel gestuur wat daarop gemik is om oop gesprek oor transformasie in ons fakulteit aan te moedig. Ons sal voortgaan met dié inisiatiewe, sowel as die verskeie projekte in die fakulteit wat daarop gemik is om die publiek se begrip van, en vertroue in, die wetenskap te bevorder.

​Professor Jimmy Volmink
Dekaan: Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe


 

Foto: Damien Schumann