Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Jordan neem leisels oor by Verpleeg- en Verloskunde
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 26/04/2019

Met ʼn voorgraadse verpleegprogram wat vanjaar heringestel is aan die Universiteit Stellenbosch (US), is dit ʼn opwindende tydperk om aan die hoof te staan van die Departement Verpleeg- en Verloskunde. 

“Die program bied ʼn transformerende reis aan die kandidate deurdat dit transformerende pedagogies asook leer- en onderrigmetodologieë insluit," sê prof Portia Jordan, wat in Maart as uitvoerende hoof by dié departement ingeval het.

Dit is vanjaar 15 jaar sedert verpleging op ʼn voorgraadse vlak aan die US aangebied is. Die nuwe Baccalaureus in Verpleegkunde is ʼn vierjaargraad wat ʼn gegradueerde in staat stel om by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging as professionele verpleeg- en verloskundige te registreer.

Altesame 54 voornemende verpleegkundiges is by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe toegelaat vir die nuwe program, wat op die Tygerberg-kampus en sy verspreide kliniese opleidingsplatform aangebied word.

“Dit is opwindend dat die US een van net twee universiteite in Suid-Afrika is wat geakkrediteer is om hierdie program in 2019 aan te bied," sê Jordan. 

Haar visie is om die Departement Verpleeg- en Verloskunde uit te bou wat betref uitnemendheid in leierskap, geleerdheid en kliniese bevoegde gegradueerdes wat goed voorberei is vir toekomstige poste. Sy beoog om – in samewerking met belanghebbendes op provinsiale sowel as nasionale gebied – ʼn naaf van uitnemendheid by die US tot stand te bring en in die proses die verpleegprofessie in die algemeen te versterk.

Jordan, wat die grootste deel van haar lewe in Port Elizabeth in die Oos-Kaap deurgebring het, het haar basiese verpleegkundekwalifikasie aan die Universiteit van Port Elizabeth verwerf. “Daarna het ek vir ʼn jaar in die intensiewesorg- en die niereenheid van Tygerberg-hospitaal gewerk, waarna ek na Port Elizabeth teruggekeer het," vertel sy.

ʼn Dekade in intensiewe sorg in die provinsiale hospitaal daar het gevolg voordat sy haar as dosent by die Departement Verpleegkunde aan die Nelson Mandela-universiteit aangesluit het. Sy was vir 15 jaar daar werksaam en is in 2016 as departementshoof aangestel.

Oor die jare het sy onder meer ʼn doktorsgraad in verpleegkunde, ʼn meestersgraad in besigheidsadministrasie, ʼn meestersgraad in kritiekesorgverpleging (cum laude), ʼn diploma in verpleegonderrig (cum laude) en ʼn diploma in nierverpleegkunde verwerf.

Hoekom juis hierdie rigting? “Ek het verpleegkunde, meer spesifiek intensiewe sorg en nierverpleegkunde, gekies ten einde gehalte- en veilige sorg te bied aan diegene wat deur hulle geliefdes en naasbestaandes in ons sorg toevertrou word. As verpleegkundiges is ons in die bevoorregte posisie dat ons deel kan wees van die geboorteproses, die ontwikkelingstadiums van kleuter tot bejaarde, en van óf ʼn goeie herstel en/of rehabilitasie óf die vreedsame dood van ʼn pasiënt," sê sy.

Jordan is ʼn Thuthuka-beurshouer en PLUME-navorsingsgenoot van die Nasionale Navorsingstigting (NNS). Deur middel van PLUME, ʼn gestruktureerde ondersteuningsprogram, word verpleegkundeskole bygestaan sodat navorsingsprogramme ontwikkel en voorste navorsers geproduseer kan word. Die gedagte is dat laasgenoemde op hul beurt navorsingsintensiewe programme tot stand sal bring en ook hul eie vaardighede sal ontwikkel met ʼn NNS-evaluering as doelwit.

Jordan se navorsing fokus op die implementering van beste praktyke en bewysgebaseerde riglyne ten einde pasiëntveiligheid te bevorder, veral vir daardie pasiënte wat aan ʼn meganiese ventilator gekoppel is. Sy het reeds verskeie eweknie-geëvalueerde artikels op hierdie gebied gepubliseer. Daarbenewens was sy mede-redakteur van die boek “Foundation of Nursing Practice: Fundamentals of Holistic Care", waartoe sy ook drie hoofstukke in twee uitgawes bygedra het.

Tot op hede het sy as promotor vir meer as 45 nagraadse studente opgetree.