Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vlugtelinge, asielsoekers trek aan die kortste ent in SA
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/04/2019

Vlugtelinge en asielsoekers in Suid-Afrika vind nie altyd die beter lewe waarop hulle gehoop het nie. Hulle sukkel om toegang tot maatskaplike hulp, gesondheidsorg en behuising te kry omdat huidige wetgewing onduidelik is oor die sosio-ekonomiese regte wat hulle behoort te geniet.

Dít is een van die vernaamste bevindinge van 'n onlangse doktorale studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Al bied die Wet op Vlugtelinge aan vlugtelinge en asielsoekers die reg op toegang tot gesubsidieerde sosio-ekonomiese goedere en dienste, word hulle in die praktyk uitgesluit van sekere sosio-ekonomiese regte," sê dr Callixte Kavuro, 'n dosent by die departement Publieke Reg en Regswetenskap aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Hy het onlangs sy doktorsgraad in Publieke Reg aan die US behaal.

Kavuro se navorsing het gekyk na die kwessie oor óf en tot watter mate vlugtelinge en asielsoekers geregtig is op sosio-ekonomiese regte en voordele in die lig van die konstitusionele waardes van menswaardigheid en gelykheid en die standaarde van dieselfde behandeling en beter behandeling in die VN se Wêreldverdrag van 1951 oor die Behandeling van Vlugtelinge (die Vlugtelingkonvensie van 1951). Dié verdrag is ʼn hoeksteen van internasionale verpligtinge op lande om vlugtelinge en asielsoekers te beskerm.

Hy het in sy navorsing op toegang tot drie sosio-ekonomiese regte, naamlik die reg op maatskaplike hulp en bystand, die reg op gesondheidsdienste en die reg op voldoende behuising, gefokus.kavuro-photo.jpg

Kavuro het eers vakliteratuur oor die regte van vlugtelinge oor toegang tot sosio-ekonomiese regte en die konsepte van waardigheid en gelykheid bestudeer. Daarna het hy 'n in-diepte ontleding gedoen om te sien tot watter mate vlugtelinge en asielsoekers hierdie regte ontvang, of van die beskerming daarvan weerhou word, in gevolge die Wet op Vlugtelinge, 1998 (Wet 130 van 1998), sowel as die Wet op Maatskaplike Bystand, 2004 (Wet 13 van 2004), die Wet op Nasionale Gesondheid, 2003 (Wet 61 van 2003) en die Wet op Behuising, 1997 (Wet 107 van 1997). Verder het hy 'n vergelykende ontleding van die konstitusionele en wetgewende raamwerke wat vlugtelinge se toegang tot sosio-ekonomiese regte in die VSA, Suid-Afrika en Frankryk beheer, gedoen.

Kavuro sê die Suid-Afrikaanse regering is dikwels teenstrydig in hul beskerming van vlugtelinge en asielsoekers in die land.

“Die owerhede – veral politieke hoofde van departemente – redeneer dat die land se hulpbronne slegs aangewend moet word om die lewensgehalte van inwoners, veral die historiese minderbevoorregtes te verbeter, en nie dié van vlugtelinge en asielsoekers nie.

“Staatsamptenare is geneig om vlugtelinge en asielsoekers net soos gewone immigrante te behandel wat tydelike inwoners van Suid-Afrika is en van maatskaplike hulp uitgesluit moet word.

“Dit is egter in teenstelling met Suid-Afrika se nuut-gevonde verbintenis tot die beskerming van alle inwoners van die land, soos uiteengesit in die aanhef tot die Grondwet, en van vlugtelinge en asielsoekers, soos uiteengesit in die Wet op Vlugtelinge. Dit beteken dat die waardigheid van vlugtelinge en asielsoekers beskerm moet word."

Beperkinge

Met verwysing na van die beperkinge van die Wet op Vlugtelinge, sê Kavuro sy ontleding het getoon dat dié wet en sy regulasies onduidelik is oor watter sosio-ekonomiese regte vlugtelinge en asielsoekers moet geniet.

“Die Wet maak daarvoor voorsiening dat alle vlugtelinge geregtig is op alle regte wat in die Handves vir Regte vervat is, behalwe daardie regte wat uitdruklik net vir landsburgers geld. Die Wet distansieer hom egter van die voorskriftelike standaarde van goedgesinde behandeling, soos uiteengesit in die VN se Vlugtelingkonvensie van 1951 en die 1969 Konvensie vir die Regulering van die Spesifieke Aspekte van Vlugtelingprobleme in Afrika (die 1969 Afrika-vlugtelingkonvensie) van die Organisasie vir Afrika-eenheid.

“Die Wet op Vlugtelinge stem nie genoeg ooreen met wetgewing wat die verspreiding van sosio-ekonomiese regte en voordele en die wetlike beskerming van vlugtelinge en asielsoekers bepaal nie. Gevolglik is vlugtelingregte nie genoegsaam afgewentel dat hulle toeganklik is vir of van nut kan wees vir hierdie mense op plaaslike vlak nie.

“Die Wet maak dit nie duidelik hoe vlugtelinge en asielsoekers in Suid-Afrika geïntegreer moet word indien die Wet benaderings van selfintegrasie en selfvestiging volg nie. Die beteken dat Suid-Afrika onder geen verpligting is om ondersteuning en humanitêre hulp aan nuwe of kwesbare vlugtelinge en asielsoekers te verskaf nie."

Kavuro voeg by dat die Wet op Vlugtelinge nie uitdruklik die reg op openbare hulpleniging en bystand en die reg op gesondheid dek nie.

Hy sê dat hoewel die Wet sekere verpligtinge op die staat plaas ten opsigte van die reg op huisvesting van vlugtelinge en asielsoekers, sluit die Wet op Behuising hulle uit van toegang tot behuising en ander verwante regte. Dit spruit uit die definisie van behuisingsontwikkeling in die Wet, wat toegang tot voldoende behuising tot landsburgers en permanente inwoners beperk.

“Hoewel dit die behuisingsbehoeftes van armes, gemarginaliseerde mense en minderbevoorregtes erken, omskryf die Wet op Behuising nie hierdie konsepte om te bepaal of hulle vlugtelinge en asielsoekers insluit nie."

Wat betref die Wet op Nasionale Gesondheid, sê Kavuro dit verwys nie op 'n ondubbelsinnige wyse na vlugtelinge en asielsoekers as kwesbare groepe nie. Hy voeg egter by dat daar wel sekere beleide is wat vlugtelinge en asielsoekers as kwesbare individue wat geregtig is op sekere gesondheidsdienste, erken.

Volgens Kavuro word vlugtelinge en asielsoekers uitgesluit omdat hulle in terme van die Wet op Immigrasie, 2002 (Wet 12 van 2002) as tydelike inwoners beskou word.

Wysiging

Hy wys daarop dat hoewel asielsoekers nie in internasionale vlugtelingkonvensies genoem word nie, het sy navorsing gevind dat asielsoekers ook vlugtelinge is wat regmatig in die land bly en geregtig is op al die regte wat die VN se 1951 Vlugtelingkonvensie aan sulke vlugtelinge verskaf. Dit sluit byvoorbeeld in die reg tot lonende werk, die reg op vrye beroepe (bv. prokureurs, notarisse, onderwysers, ingenieurs, argitekte, dokters, tandartse, verpleegpersoneel, aptekers, rekenmeesters, ens.), die reg op behuising, die reg op openbare hulpleniging en bystand, die reg op maatskaplike toelae en op arbeidsregte.

“Asielsoekers is geregtig op toegang tot sekere aspekte van maatskaplike hulp soos die 1951 Vlugtelingkonvensie, die 1969 Afrika-vlugtelingkonvensie en die Wet op Vlugtelinge dit beskou. Die feit dat hulle nie dieselfde mate van beskerming as vlugtelinge geniet nie omdat die Wet op Vlugtelinge hulle nie volle wetlike beskerming gee nie, maak hulle nog meer kwesbaar."

Kavuro sê vlugtelinge in Frankryk en die VSA is baie beter daaraan toe as dié in Suid-Afrika omdat albei lande maatreëls aanvaar het wat uitvoering gee aan vlugtelingregte.

“In Suid-Afrika is geen maatreëls ingestel om leiding te gee oor hoe vlugtelinge of asielsoekers by bestaande maatskaplike hulpskemas ingelyf kan word nie."

Hy doen 'n oproep dat die relevante klousules in die Wet op Maatskaplike Bystand, die Wet op Nasionale Gesondheid en die Wet op Behuising gewysig word om hulle te belyn met die Wet op Vlugtelinge sodat vlugtelinge en asielsoekers ook toegang tot maatskaplike bystand, gesondheid en gratis gesondheidsorgdienste kan kry.

Kavuro beplan om sy bevindinge aan die relevante rolspelers in die regering en burgerlike organisasies voor te lê.

  • Hooffoto'n Vlugteling-moeder en kind. Krediet: Wikipedia.
  • ​Foto 1: Dr Callixte Kavuro

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Callixte Kavuro

Departement Publieke Reg en Regswetenskap

Universiteit van Wes-Kaapland

Tel: 021 959 2171

Sel: 083 963 7345

E-pos: callixtekav@gmail.com