Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe inisiatief om besoedeling van Eerste- en Bergriviere aan te spreek
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 16/01/2019

Die Stellenbosch Universiteit Water Instituut (SUWI) is besig om die voortou te neem met die ontwikkeling van 'n nuwe inisiatief om die erge besoedelingsprobleme in die opvanggebiede van die Eerste- en Bergriviere aan te spreek.

Die Samewerkende Bestuur-inisiatief, of Co-Go, is deur Dr Charon Büchner-Marais ontwikkel. Sy is 'n navorsingsgenoot in die Stellenbosch Universiteit Water Instituut.

Die doel van die Co-Go inisiatief is om akademici, industrie, plaaslike regering en die gemeenskap te mobiliseer om gesamentlik vir 'n bedreigde ekosisteem, soos die Eerste- en Bergrivier se opvanggebied, verantwoordelikheid te neem. Tydens die bekendstelling van die inisiatief op 5 November 2018, het verskeie verteenwoordigers van industrie en plaaslike en nasionale regering hul ondersteuning vir die inisiatief uitgespreek.

Mnr. Eric Leong Son, groepsbestuurder vir volhoubaarheid by Distell, sê Distell verwelkom die geleentheid om met verskeie partye in vennootskap te tree in 'n nie-wedywerende omgewing: “In hierdie omgewing kan vennootskappe gevorm word om die omgewing te beskerm, met aksies wat op navorsing berus. Ons heg groot waarde aan hierdie konsep om verantwoordelikheid vir die riviere te neem en is volkome toegewyd om saam te werk tot die voordeel van almal."

Me. Heidi Newton-King, direkteur van menslike hulpbronne en volhoubaarheid by Spier, het gesê hul vorige ervaring met die Stellenbosch River Collaborative het hulle die geleentheid gebied om 'n band met die Eersterivier te vorm, en nie net op die besoedelingsprobleem te fokus nie. Sodoende het hul benadering tot die oplos van die probleem ook verander.

Dr. Büchner-Marais sê varswater riviere is van die meeste bedreigde ekosisteme op aarde: “Ons moet anders dink oor hoe om met sosio-ekologiese sisteme om te gaan. Die Co-Go-inisiatief verskaf 'n nuwe bestuurspraktyk waar verskillende rolspelers saam kan leer en eksperimenteer om hierdie komplekse probleme op te los."

Voor die bekendstelling, het Co-Go saam met studente van die Departement Visuele Kunste by die US gewerk om 'n visuele voorstelling van die doel van die inisiatief oor te dra, gebaseer op prof. Michael Samways se navorsing oor die Kaapse naaldekokers.

Volgens prof. Samways is naaldekokers oeroue diere, ouer as plante, wat die afgelope 40 tot 60 miljoen jaar daarin geslaag het om by strawwe omgewingsveranderings in die Kaap aan te pas. Die Kaapse naaldekokers is egter hoogs sensitief vir nuwe bedreigings, soos besoedelde rivierwater en indringerplante.

“Oor miljoene jare het daar 'n besonder fynbesnaarde ekosisteem rondom riviere ontwikkel. Sonder naaldekokers sal ons 'n toename in muskiete, vlieë en muggies ervaar, wat weer tot die groei van fitoplankton sal lei, wat op sy beurt tot 'n afname in visgetalle aanleiding sal gee. Sonder naaldekokers as voedselbron, sal die voëllewe langs riviere ook verdwyn," waarsku hy.

Prof. Samways het die Naaldekoker Biotiese Indeks ontwikkel, 'n waardevolle metode om vinnig die stand van besoedeling of ander probleme wat 'n rivier affekteer, vas te stel. Dit gee die owerhede die geleentheid om vinniger te reageer.

Ter afsluiting het prof. Nico Koopman, Vise-Rektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, gesê die Co-Go inisiatief stel 'n voorbeeld van hoe innoverende navorsing in vennootskap kan tree met industrie, die regering, die burgerlike samelewing en die kunste om saam die probleem aan te spreek.

“Hierdie is nie korporatiewe afwys of intellektuele gimnastiek nie, maar 'n voorbeeld van hoe ons al ons vermoëns – harte, hande en intellek – moet gebruik om hierdie krisis aan te spreek.

Vir meer inligting oor Co-Go se aktiwiteite, kontak Dr Büchner-Marais by charon@sun.ac.za
Op die foto bo, agter van links na regs, is prof Nico Koopman (SU), Eric Leong Son (Distell), Lwazi Mankahla (Distell), Prof Willem de Clercq (SUWI). Voor, van links na regs, Corbin Raymond (SU), Melissa Lintnaar-Strauss (Departement van Water en Sanitasie), Dr Charon Buchner-Marais (SUWI), Heidi Newton-King (Spier), Nichole  Solomons (Spier) en Jacques Rossouw (Distell).