Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Blitz ontvang ‘hoogste’ eer vir haar bydrae tot gesinsgeneeskunde, onderwys
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 10/01/2019

Prof Julia Blitz is onlangs met ʼn ere-genootsap van die Royal College of General Practitioners (RCGP) vereer. Dit is die “hoogste toekenning" van die RCGP, die professionele liggaam vir algemene praktisyns, gesinsartse en primêresorgdokters in die Verenigde Koninkryk.  

Blitz is die adjunk-dekaan: Leer en Onderrig van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

 

​“Julia [Blitz] het ʼn enorme internasionale bydrae tot voorgraadse onderrig en nagraadse opleiding in die konteks van gesinsgeneeskunde gemaak," het dr Steve Mowle, RCPG se ere-tesourier, gesê toe hy einde verlede jaar die commendatio by die toekenningseremonie in Londen voorgelees het.

“Sy het ook ʼn reuse-invloed uitgeoefen in die gesamentlike pionierswerk van die RCGP en die US om beroepsopleiding en die lisensiëring van gesinsdokters in Arika suid van die Sahara te ontwikkel," het hy bygevoeg.  

Blitz het ʼn agtergrond in beide gesinsgeneeskunde en gesondheidsberoepe-onderwys en Mowle het haar loopbaansukses toegeskryf aan uitnemendheid in pasiëntgesentreerde kliniese praktyk én in die akademie.  

“Julia [Blitz] is ʼn gemotiveerde en toegewyde leier en ʼn kragtige kampvegter vir primêre sorg … Haar bydrae tot die werk van RCGP International was van onskatbare waarde, het Mowle gesê.

Blitz het aan etlike RCGP-verwante projekte gewerk, waaronder die lisensiëringseksaminering van die Kollege van Gesinsdokters (CFP) van die Geneeskundekolleges van Suid-Afrika en “Opleiding van die huisdokteropleiers in Suid-Afrika", wat nou na 15 lande in Afrika suid van die Sahara uitgebrei word.

Plaaslik het sy sleutelrolle in die CFP vervul en op ʼn internasionale vlak het sy bande met die Foundation for Advancement of International Medical Education and Research (FAIMER) Institute in Philadelphia en was sy ʼn lid van die uitvoerende komitee van die Southern Africa FAIMER Regional Institute.

Volgens Mowle het hierdie prestasies “aansienlik bygedra tot haar geloofwaardigheid as ʼn baie bekwame en ingeligte leier in voor- en nagraadse onderwys". 

Nominasies vir ere-genootskappe van die RCGP word gedoen vir uitnemende werk om die doelwitte van die kollege te help bereik. ʼn Kandidaat se internasionale statuur word gemeet deur:

  • Pryse/toekennings wat deur ander nasionale of internasionale organisasies toegewys is;

  • Skrywes wat ʼn nasionale of internasionale impak gehad het;

  • Of die persoon ʼn belangrike bydrae tot algemene praktyk of die ontwikkeling daarvan gemaak het;

  • Of die persoon die doelwitte van algemene praktyk, primêre sorg en die kollege bewysbaar bevorder het.