Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Toekennings vir Voortreflike Onderrig 2018
Outeur: Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 09/01/2019

US Toekennings vir Voortreflike Onderrig 2018

​Die seremonie vir die jaarlikse Toekennings vir Voortreflike Onderrig en Navorsing het op 4 Desember 2018 by STIAS plaasgevind. Die toekennings is vir die tweede agtereenvolgende jaar tydens dieselfde funksie aangebied. Prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, het die komplementêre verhouding tussen onderrig en leer en navorsing beklemtoon. Hy het verwys na onderrig as 'n integrerende deel van die US as 'n navorsingsgeleide universiteit en gesê dat “navorsing oor hoe om effektief te onderrig net so belangrik is as die navorsing oor wat jy onderrig". In dieselfde konteks het prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, na die US verwys as 'n universiteit wat sowel navorsingsintensief as onderrig-en-leer-intensief is.

Prof Schoonwinkel, wat as gasheer van die Toekennings vir Voortreflike Onderrig opgetree het, het gesê onderrig en leer is 'n “gedeelde strewe". Wat betref die professionalisering van die onderrigrol by die US het hy verwys na geleenthede vir dosente om onderrignavorsing te doen, onder meer die jaarlikse SoTL-konferensie en die FINLO/FIRLT-skenkings. Prof Schoonwinkel het verwys na die Toekennings vir Voortreflike Onderrig as 'n “progressiewe roete" wat kan lei tot 'n Onderriggenootskap en/of 'n HELTASA- nasionale toekenning vir voortreflike onderrig.

Prof Schoonwinkel het 11 Toekennings vir Voortreflike Onderrig oorhandig. Hierdie toekennings gee erkenning aan dosente in twee kategorieë, te wete “Uitgelese Opvoeder" of “Ontwikkelende Opvoeder", gebaseer op die aansoekers se ondervinding en leierskap in die kundigheid van onderrig en leer. Aansoekers moes 'n portefeulje voorlê wat besinning oor en bewyse in vier hoofkomponente reflekteer: konteks, studente, kennis en professionele groei. Verder moes hulle die lesse uiteensit wat hulle geleer het tydens die reis om uitstekende opvoeders te word.     

Die volgende dosente het Toekennings vir Voortreflike Onderrig in die kategorie “Ontwikkelende Opvoeder" ontvang:
¾    Dr Elize Archer (Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe)
¾    Dr Lidia Auret (Departement Prosesingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese)
¾    Dr Eric Decloedt (Afdeling Kliniese Farmakologie, Departement Geneeskunde, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe)
¾    Prof Faadiel Essop (Departement Fisiologiese Wetenskappe, Fakulteit Natuurwetenskappe)
¾    Me Zahn Münch (Departement Geografie en Omgewingstudie, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe)
¾    Dr Michael Schmeisser (Departement Hortologie, Fakulteit AgriWetenskappe)
¾    Me Natasha Sexton (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe)
¾    Dr Debra Shepherd (Departement Ekonomie, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe)
¾    Me Anria van Zyl (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe)
¾    Dr Bjorn von der Heyden (Departement Aardwetenskappe, Fakulteit Natuurwetenskappe)

Prof Deborah Blaine (Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese) het 'n Toekenning vir Voortreflike Onderrig in die kategorie “Uitgelese Opvoeder" ontvang. Prof Blaine se portefeulje demonstreer nie alleen deeglike besinning oor haar benadering tot onderrig en haar professionele groei nie, maar bewys ook dat die vakkundigheid van onderrig en leer die fondasie van haar onderrigpraktyk vorm. Sy is betrokke by verskeie opvoedkundige leierskapsaktiwiteite, navorsingsprojekte en vakkundige praktyk-gemeenskappe, ook buite die US.
Vyf US-onderriggenote het ook sertifikate van erkenning ontvang. Proff Elmarie Costandius, Ian Nell, Dana Niehaus, Nicola Plastow en Geo Quinot het hul genootskappe tussen 2011 en 2017 voltooi. Die genootskapskema bied die geleentheid vir voortreflike opvoeders en vakkundiges in onderrig en leer om meer dikwels vir volgehoue tydperke, en met verskillende vorme van ondersteuning, op aspekte van vernuwing, verkenning en verspreiding van goeie praktyk in departemente en fakulteite te fokus. Die huidige onderriggenootskapontvangers is:
·       Prof Ingrid Rewitzky (Visedekaan: Onderrig en Leer, Fakulteit Natuurwetenskappe)
·       Dr Elize Archer (Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe)
·       Dr Berna Gerber (Afdeling Spraak‐, Taal‐ en Gehoorterapie, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe)
·       Me Marianne McKay (Departement Wingerd‐ en Wynkunde, Fakulteit AgriWetenskappe)
·       Dr Michael Schmeisser (Departement Hortologie, Fakulteit Natuurwetenskappe)
·       Dr Marianne Unger (Afdeling Fisioterapie, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe)

Meer inligting oor die Toekennings vir Voortreflike Onderrig en die Onderriggenootskappe is by dr Karin Cattell-Holden, kcattell@sun.ac.za of X 3074, beskikbaar.