Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Nel vier saam met studente fees
Outeur: Jacobie M. Helena
Gepubliseer: 21/12/2018


Dit is nou ʼn jaar sedert prof Reggie Nel as dekaan van die Fakulteit Teologie (FT) aan die Universiteit Stellenbosch aangestel is. Wat is die hoogtepunte van sy eerste jaar as dekaan en hoe lyk die uitdagings wat 2019 inhou?

“Die grootste hoogtepunt van 2018 was verseker die sukses van studente. Dit gee my hoendervleis om te sien hoe studente sukses behaal. Dit is vir my 'n absolute hoogtepunt om tydens die gradeplegtighede saam met die studente fees te vier. Die studente gee ʼn mens energie en wanneer hul harde werk op sukses uitloop, is dit 'n integrasiepunt van dít waarna ons deur die jaar in die fakulteit streef. Dit is spesifiek besonders as studente in die verlengde graadprogram gedurende die jaar presteer. Dit is dán dat ek voel hier kom goeie dinge uit die fakulteit," sê prof Nel.

Prof Nel sê dit is vir hom 'n riem onder die hart om te sien hoe studente ontwikkel en hul stem in die fakulteit vind. Dit voel asof die FT iets regkry as studente se stemme gehoor word en hul talente raakgesien en ontgin word, sê hy.

'n Volgende hoogtepunt is wanneer die personeel van die FT in die fakulteit tuis voel. Dit geld nuwe personeellede, maar spesifiek ook die steunpersoneel. Prof Nel vertel met blydskap hoe besonders dit is as die nuwe personeel deel word van die fakulteit. Hy brei spesifiek uit oor die steunpersoneel: “Dit is die eerste keer vanjaar dat ons steunpersoneel deel gemaak is van die strategiese beplanningsproses van die fakulteit. Hulle begin al hoe meer sien dat die manier waarop hulle ondersteuning bied direk tot die sukses van die fakulteit bydra," sê hy.

Die grootste uitdaging wat prof Nel vir 2019 voorsien, is transformasie in die fakulteit. “Volgende jaar is die 160ste herdenking van teologiese opleiding in Suid-Afrika. Ons is deur die naelstring aan ons Afrika-identiteit verbind. Ons kom nie na Afrika toe nie en Afrika kom nie na ons toe nie; ons ís Afrika." Volgens hom gaan die uitdaging juis daarin lê om die moontlikhede wat Afrika as kontinent inhou, te ontsluit. “Dié transformasieproses gaan wel spanning meebring, maar gaan die FT op 'n nuwe pad plaas om te groei – die soort groei wat diepgaande verandering meebring. Verandering is kompleks. Dit behels nie net strukturele verandering nie, maar ook hoe ons hart verander, hoe ons kultuur verander en natuurlik hoe die mense van buite na ons fakulteit kyk. Watter boodskap straal die FT uit?"