Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente-atlete vang graad
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 20/12/2018

​Druk deur, werk hard, moenie opgee nie en geniet dit! 

Dit is die raad van Maties Sport-studente-atlete wat by die Universiteit Stellenbosch (US) se gradeplegtigheidseremonies van 10-14 Desember hul graad gekry het.

Hoewel sommige van hulle dit moeilik gevind het om hul sport en studies te balanseer, het almal van hulle gesê dit was die moeite werd en dat hulle studente sal aanmoedig om aan sport deel te neem terwyl hulle aan die universiteit studeer.          

Johann van Niekerk, 'n lid van die Maties-rugbyspan wat die Varsitybeker gewen het en speler van die wedstryd in die eindstryd, het sy ingenieursgraad cum laude verwerf.         

“Hoe besiger ek is, hoe meer kry ek gedoen," het hy gesê. Tydbestuur en klasbywoning was sy topwenke vir sukses.      

Olimpiese deelnemer en wenner van twee medaljes by die Wêreldstudentespele Justine Palframan het haar BSc Honneurs-graad in Biokinetika ontvang. Die grootste voordeel van sportdeelname vir haar was om nuwe mense te ontmoet en nuwe kennis op te doen.         

“Werk hard en geniet dit," is haar raad.        

Alex van der Walt, kaptein van die Maties-vroue-waterpolospan wat die USSA-toernooi 'n paar dae voor haar gradeplegtigheid gewen het, verlaat Stellenbosch met 'n BSc-graad (Dierewetenskap). Hoewel sy dit moeilik gevind het om sport en studies te balanseer, het die vriende wat sy gemaak het en die ondersteuning wat sy gekry het, dit die moeite werd gemaak.

Maties-sokkerspeler Courtney Williams het 'n BA-graad in Internasionale Studies verwerf. Volgens hom het hy holistiese groei as 'n individu ervaar gedurende sy jare by die US.         

“Prioritiseer jou tyd goed en jy kan alles bereik wat jou hart begeer," glo Tammy Minnaar, 'n Maties-hokkiespeler wat haar BRek-graad verwerf het.      

Jean-Mari du Plessis (BSc Lewenswetenskappe), 'n lid van die Maties-judoklub, het gesê: “Doen alles, aanvaar uitdagings en moet nooit opgee nie", terwyl Zani Kruger (Arbeidsterapie), 'n atleet wat Suid-Afrika vroeër vanjaar by die CUCSA-spele verteenwoordig het, meen jy moet nooit beperkinge op jouself plaas nie.      

Krieketspeler Albert Engelbrecht, wat Maties 'n week voor sy gradeplegtigheid by die USSA-kriekettoernooi verteenwoordig het, het gesê: “Hou jou doelwitte voor oë en hou aan werk. Bo alles, geniet elke oomblik." Hy het 'n BCom-graad in Bestuurswetenskap ontvang.

Vriendskappe, oefening en 'n blaaskans van studies was die vernaamste voordele wat deur die meeste van die studente-atlete geïdentifiseer is. Hulle het hul deelname aan sport beskryf as 'n manier om spanning te verlig en 'n balans te handhaaf. Harde werk en tydbestuur was die algemeenste wenke vir sukses.

Lede van die Maties Sport-bestuur is baie in hul skik met hierdie graduandi.

“Wel gedaan aan ons studente-atlete," het Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, gesê. “Alles van die beste met dit wat julle in die toekoms aanpak."