Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Ingenieurspaar voltooi studies saam
Outeur: Rozanne Engel/Corporate Communication Division
Gepubliseer: 18/12/2018

“Ons het sterk klaargemaak en ons het dit saamgedoen.  Vir my is dit 'n groot prestasie waarop ek eintlik baie trots is."

Dit is hoe Saajidah Williams voel oor die feit dat sy saam met haar man, Pascal Nteziyaremye, afgestudeer het.  Saajidah het haar meestersgraad in Siviele Ingenieurswese verwerf en Pascal het in dieselfde studieveld 'n doktorsgraad (PhD) ingepalm.  Dié grade is 14 Desember (Vrydag) op die Universiteit Stellenbosch (US) se plegtigheid vir die Fakulteit Ingenieurswese amptelik aan die egpaar verleen.

Die paartjie, wat mekaar in 2012 aan die US ontmoet het, sê die pad wat hulle geloop het om saam te kon afstudeer, was geensins 'n maklike een nie.

Saajidah vertel: “In sommige verhoudings is sake nog hanteerbaar wanneer net een persoon met verdere studie vir 'n graad besig is onderwyl die ander persoon 'n normale werk het, of tuis bly om te verseker dat sake nie skeefloop nie, maar in ons geval het albei studeer.  Met tye moes die huwelik basies gestaak word sodat ons onverdeelde aandag aan ons studies kon gee."

Die paartjie het nie net saam afgestudeer nie, maar deel ook dieselfde navorsingsbelange op die gebied van padveiligheid.

Saajidah vertel meer: “Almal het aan ons gesê dat ons situasie uniek is, dat ons saam gaan afstudeer, maar vir ons was die gevoel bloot dat ons in die situasie is, dat ons die hele kringloop moet voltooi  Ek voel wel dat ek dié kringloop geloop het, en dat dit darem tog spesiaal was dat ek langs my eggenoot kon begin werk het, saam met hom projekte kon aanpak, en nou kan ek ook hierdie prestasie met hom deel."

Saajidah is een van net 'n handjievol mense in Suid-Afrika wat in Verkeersielkunde spesialiseer. Nadat sy die jaarlange SciMathUS (Wetenskap en Wiskunde aan Universiteit Stellenbosch) in 2011 suksesvol voltooi het, het sy voortgegaan en die graad BA en 'n honneursgraad in Sosiale Antropologie verwerf.

Saajidah verduidelik:" Aan die einde van my Antropologie-graad het ek begin rondkyk waar ek die vaardighede wat ek in hierdie dissipline geleer het in 'n spesifieke navorsingsveld kon toepas.  Op hierdie tydstip was Pascal se studieleier, prof Marion Sinclair, aan my bekend en sy het later ook my studieleier geword.  Sy het belanggestel in studente wat verkeersveiligheid uit 'n menslik-gesentreerde perspektief kon benader omdat sovele ongelukke op ons paaie aan menslike foute toegeskryf kan word, en dat dit nie altyd iets is waarin ingenieurs belangstel nie, hoewel hulle veronderstel is om daarvoor ontwerpe te doen."

Met Sinclair se hulp en Saajidah se uitmuntende punte tydens haar voorgraadse en honneurstudie, was dit vir haar moontlik om aansoek te doen om toelating tot die meestersgraadkursus in Siviele Ingenieurswese sonder om verplig te word om nog 'n voorgraadse kursus in Ingenieurswese af te lê.

Sy sê: “Die oorskakeling was geensins maklik gewees nie. Die laaste keer wat ek wetenskap, wiskunde en fisika gedoen het, was op hoërskool. Ek was eintlik veronderstel om Siviele Ingenieurswese na my hoërskoolloopbaan te pak, maar ek het nooit in daardie studieveld belangstelling getoon nie.  Dus moes ek heelwat meer werk doen as die meeste magisterstudente in dié veld, omdat ek in geen stadium ingenieurswese bestudeer het nie.  Hoe dit ook sy, ek het die werk gedoen en alles geslaag."

Pascal sê dit was nie net hulle navorsingsbelangstellings wat hulle bymekaar gebring het nie, maar ook gedeelde ondervindings uit hulle grootwordjare in moeilike omgewings.  Saajidah het haar kinderjare in die bendegeteisterde Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte deurgebring, en Pascal het in Rwanda grootgeword tydens die burgeroorlog in die jare negentig.  Talle van sy gesinslede, insluitende sy moeder, het in die Rwandese volksmoord omgekom.

“Dit was 'n uiters moeilike tyd vir my. Na afloop van die volksmoord, kon 'n mens nie sommer goedsmoeds terugkeer skool toe en van alles vergeet nie.  Om op skool te fokus en nog sukses te behaal, was nie 'n maklike taak nie."

Dit was nooit Pascal se bedoeling om op navorsing oor padveiligheid te fokus nie, maar hy het geleenthede buite Rwanda in oënskou begin neem met die oog daarop om sy studies voort te sit, en die US het aan hom befondsingsgeleenthede gebied wat hom in staat sou stel om 'n meesters- en 'n doktorsgraad aan te pak.

Pascal sê: “Padveiligheid was nie my eerste keuse vir navorsing nie.  Ek wou na Suid-Afrika kom omdat daar geleentheid was om in medium Engels te studeer en ek wou graag die gehalte van my Engels verbeter.  Toe ek egter na die aantal padongelukke in Suid-Afrika begin bekyk, het ek besef dit is geweldig hoog.  Suid-Afrika het van die ergste padongeluksyfers in die wêreld.  Ek het toe besef dat indien ek navorsing oor padveiligheid doen, ek die geleentheid sou hê om nie alleen 'n bydrae aan Suid-Afrika te lewer nie, maar ook aan die ganse Afrika-kontinent omdat dit is waar die probleem uiters ernstig is."

Saajidah en Pascal sê ondanks die hoë aantal ongelukke in Suid-Afrika, is daar nie vir hulle veel geleenthede om hulle vaardighede toe te pas, of om voort te gaan met hulle navorsingswerk op padveiligheid nie.  Hulle beplan om nou te kyk na werk- en studiegeleenthede in die buiteland, maar wil graag na Suid-Afrika terugkeer om te help met die vestiging van 'n sentrum vir ongelukvoorkoming.

Pascal spreek die laaste woord: “Ek wil nie Afrika graag verlaat nie, want dit is hier waar die meeste ongelukke gebeur en ek wil baie graag help.  Ek is oortuig dat padveiligheid hier in die toekoms beter erkenning sal geniet en dat ons oplossings sal kan vind."

_________________________________________________________________________________

*Die SciMathUS-programme word deur die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogiek (SUNSEP) aangebied. Die programme bied jaarliks aan 'n honderd agtergestelde studente uit alle dele van die land 'n tweede geleentheid en toegang tot gehalte om vir hoër opleiding te kan kwalifiseer.