Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Thuthuka help jong aspirante rekenmeesters aan die US
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 18/12/2018

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) se ​Thuthuka-beursfonds van Johannesburg is in die lewe geroep befondsing aan swart geoktrooieerde rekenmeesters in Suid-Afrika te voorsien.  Die  beursfonds was voorheen bekend as die Instituut vir Rekenmeesters en Ouditeurs en word tans gereken onder die top rekenmeestersondernemings in die land.

Bradley Tito en Curtley Olyn is twee studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat hul studies voltooi het met die hulp van die Thuthuka-beursfonds.

Talle sukkelende studente is in die verlede deur dié beursfonds bygestaan om hulle studies suksesvol te voltooi en sodoende hul droom om 'n geoktrooieerde rekenmeester te wees, te verwesenlik. Die 20-jarige Cartley Olyn van Campbell in Noord-Kaapland sê hy is opgewonde om sy BRek(Hons) in 2019 aan te pak en dan daarna sy artikels te doen.

Cartley sê hy het van die Beursfonds verneem toe 'n verteenwoordiger van  SAIGR op 'n keer besoek gebring het aan die Hoërskool Douglas, waar hy in matriek was.

Hy vertel: “Die verteenwoordiger het 'n praatjie gelewer waarin hy van die Beursfonds melding gemaak het. Toe ek sowat 'n jaar later in matriek was, het 'n vriend van my, wat aan die Universiteit van Johannesburg gestudeer het, vir my 'n aansoekvorm laat toekom en ek het summier om toelating by die US aansoek gedoen.  Aanvanklik is ek ingelig dat my aansoek onsuksesvol was aangesien ek op daardie tydstip nie aan alle vereistes voldoen het nie, maar enkele maande later het een van die koördineerders van die Thuthuka-beursfonds hier by die US my aanbeveel om weer aansoek te doen en dié keer is ek aanvaar."

Cartley sê sedert hy die eerste keer van die Beursfonds verneem het, was dit sy brandende begeerte om dit te bekom en te kan studeer om 'n geoktrooieerde rekenmeester te word, want hy het maar al te goed besef dat sy enkelouer-moeder nie daartoe in staat sou wees om sy universiteitsgelde te betaal nie.

Hy voeg by: “Die Beurs is uniek in dié sin dat ons nie net van die nodige finansies voorsien word om ons studiegeld te dek nie, maar dit bied ons ook akademiese steun en geleenthede om leierskapvaardighede te ontwikkel, ook om gemeenskapsdiens te verrig, en om met ander beurshouers te kan sosialieer.  Dit het my oneindig baie gehelp in my jare hier aan die Universiteit Stellenbosch."

Cartley sê sy mentor glo werklik in hom en moedig hom sterk aan om akademies na die beste van sy vermoë te presteer. Hy sê hy het 'n besluit geneem om alles in die stryd te werp en sy graad cum laude te slaag.  Dit is nou drie jaar wat hy deur middel van dié beurs gehelp word, en geld vir sy honneursgraad sal ook daaruit voorsien word.

Die tweede ontvanger van 'n Thuthuka-beurs wat hoop om af te studeer, is die 21-jarige Bradley Tito van Mitchell's Plain in Kaapstad.

Bradley vertel dat voor sy een tannie hom van die Thuthuka-beurs vertel het, het sy ouers oorweeg om 'n lening aan te gaan om sodoende vir sy studies te kan betaal.

He sê: “Dit sou 'n enorme geldelike las op hulle skouers geplaas het.  Die feit dat daar aan my 'n Thuthuka-beurs toegeken is, het beteken dat daar geen nodigheid vir my ouers was om skuld aan te gaan om my studiegeld te delg nie, aangesien hierdie beurs al die nodige uitgawes dek."

He voeg by:"Die grootste hoogtepunt vir my tot dusver aan die US is die feit dat ek mense uit alle vlakke van die samelewing ontmoet.  Hulle is vir my 'n inspirasie en het my bewus gemaak van al die swaarkry wat ons gemeenskap as geheel in die gesig staar.  Hulle het my tot die besef gebring dat ons tog so met ons eie daaglikse probleme behep is en meen dit is die enigstes wat saak maak, terwyl veel omvangryker probleme daar buite voorkom wat al ons aandag vereis."

Bradley vertrou dat hy in 2019 sy honneursgraad in Rekeningkunde suksesvol kan afhandel waarna hy sy artikels sal aanpak wat nog drie jaar opleiding verg – in dié tydperk moet hy twee Raadseksamens aflê en indien hy slaag, is sy weg oop om as geoktrooieerde rekenmeester te registreer.

 

​