Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit AgriWetenskappe beloon toppresteerders met gesogte medaljes
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 14/12/2018

Die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe het vandeesweek sy toppresteerders tydens ’n toekenningsgeleentheid op kampus beloon.


“Ons is ongelooflik trots op vanjaar se akademiese oes van studente wat hulself onderskei het danksy harde werk en toewyding,” het prof Danie Brink, dekaan van die fakulteit, gesê. Die toekenningsgeleentheid is volgens hom ’n hoogtepunt op die fakulteit se jaarlikse kalender, veral in 2018 wat die eeufeesjaar is.

Michaela Ann Boshoff het die Prof AI Perold-medalje ontvang. Dit word jaarliks toegeken aan een van die twee top-studente wat ’n BScAgric-graad behaal het. Boshoff het ’n gemiddeld van 79,5% oor die afgelope vier jaar in haar kursus (spesialis-wynkunde) behaal.


Die Prof PA van der Bijl-medalje word jaarliks toegeken aan een van die twee beste studente wat die BScAgric-graad voltooi het. Vanjaar se wenner van dié medalje is Naulette Pollard. Sy het haar graad in grondkunde en hortologie met ’n gemiddeld van 78.3% die afgelope vier jaar behaal.


Matthew Peter Greenwood, wat ’n gemiddelde van 80% behaal het, het die Hofmeyer-Van Schaik-medalje ontvang. Dit word toegeken aan die student met die beste punte in genetika in die BScAgric- of die BScHons-kursus. Die medalje word jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Genetiese Vereniging  toegeken.


Onderskrif: Vanjaar se medaljewenners is Matthew Peter Greenwood (Hofmeyer-Van Schaik-medalje), Michaela Ann Boshoff (AI Perold-medalje) en Nautette Pollard (PA van der Bijl-medalje). By hulle op die foto is prof Danie Brink, dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe.


Foto: EJ Langner