Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gerbrandt Kotzé se lewe en studies leef voort na sy dood
Outeur: Sandra Mulder/Corporate Communications Division
Gepubliseer: 11/12/2018

Die nagraadse Matie-student, Gerbrandt Kotzé (26) van die Paarl, het nie toegelaat dat kanker sy meestergraadstudies in die wetenskap belemmer, of dat hy in wanhoop, vrees of depressie verval nie.

Hy het met sy studies volhard, en sonder om ooit 'n enkele woord te kla nooit sy siekte “geleef" nie. Wanneer hy vir chemoterapie-sessies aangemeld het, het hy ook ander kankerpasiënte bemoedig en bygestaan. Só vertel me Amanda Kotzé, Gerbrandt se ma. Hy was met kolonkanker gediagnoseer wat na sy lewer versprei het.

Mense het gisteraand (Dinsdagaand, 11 Desember) in doodse stilte en met groot empatie tydens die derde gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) vir 2018 in die Coetzenburg-sentrum op Stellenbosch toegekyk hoe Gerbrandt se moeder namens hom die graad MSc in ontvangs neem.

Gerbrandt is op 28 Mei vanjaar, drie dae voor sy 27ste verjaarsdag, oorlede. Hy het nooit die uitslag van sy verhandeling gehoor nie – dit is eers twee weke na sy dood deur die US bekend gemaak.

Gerbrandt Kotze (1).JPG

​Gerbrandt het nou met sy studieleier, dr Rehana Malgas-Enus van die RME-Nano Research Group by Inorganiese Chemie in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap saamgewerk.

Hy het vroeër vanjaar, toe hy reeds begin verswak het, hoofstukke van sy verhandeling getiteld Mono-and Bimetallic Au-Cu dendrimer micelle encapsulated nanoparticles as catalysts in the oxidation of styrene ingehandig. Die bedanking in die verhandeling word deur die Volle Geloofsbelydenis beslaan.

Gerbrandt Kotze (3).JPGEen van die staaltjies oor Gerbrandt wat sy ma vertel, toon hoe groothartig hy reeds van kleins af teenoor mense wat swaargekry het, was. Hy was maar 'n driejarige seuntjie toe hy op 'n dag al sy klere in sy kamer in 'n tas gepak het.

Sy ma stry teen die trane toe sy verder vertel: “Toe ek dit sien, vra ek hom nou waarheen hy gaan. Hy het geantwoord dat hy die klere vir die arm kinders gaan gee. Ek moes hom oortuig om 'n paar kledingstukke agter te laat anders het hy niks oor gehad nie."

Hy was tot in sy jong volwasse jare steeds besig om mense wat sukkel, te help. Om die rede het sy familie op sy verjaarsdag, op 1 Junie vanjaar, 'n spesiale Gerbrandt Kotze-herdenkingsdag gehou en 'n aansienlike hoeveelheid onbederfbare kos, asook donasies, aan die Andrew Murray-kinderhuis in die Paarl geskenk.

Gerbrandt se ouer broer, Dawid, kan nie uitgepraat raak ook sy boet se intelligensie, humorsin en mensliewendheid nie. “Hy was 'n komediant. As hy mense kon laat lag, was hy baie bly. Hy was ook 'n stil, diep mens," vertel hy.

Toe Gerbrandt hoor dat hy kanker het, was hy rustig en kalm. Hy het sy familielede rustig gehou deur die wyse waarop hy die slegte nuus ontvang het. “Hy het vir my gesê hy berus hom daarin dat sy lewe in die hande van die Here is," sê Amanda.

Gerbrandt het 'n groot liefde vir wetenskap gehad en dit was sy missie om jong mense ook 'n liefde vir wetenskap te laat ontwikkel. Hy was 'n kitaarspeler in die Shofar Kerk op Stellenbosch. Gerbrandt laat sy ma, sy pa, Gerhard, sy broer, Dawid, sy skoonsuster, Cecilia, en sy aangenome sussie, Elizabeth (10) agter.​

gerbrandt banner.png