Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
L&O Seminaar: "Tegnologie en Leer - staan op die skouers van reuse."
Outeur: Anthea Jacobs
Gepubliseer: 09/11/2018

ONDERRIG-EN-LEER-SEMINAAR, 8 NOVEMBER 2018

van 12:45 tot 13:45 in Lokaal 3008, Opvoedkundegebou

Mnr Martin Butler, Senior Dosent aan die Universiteit Stellenbosch Besigheidskool (USB), was die aanbieder tydens die Onderrig-en-Leerseminaar (O&L-seminaar) op 8 November 2018. Sy kundigheidsterreine is Inligtingstelselsbestuur, Projekbestuur en Tegnologietoekomste. Die onderwerp van sy aanbieding was “Tegnologie en Leer – om op die skouers van reuse te staan". Die aanbieding was toegespits op sleutel- teoretiese perspektiewe, die toepassing daarvan deur die USB, sowel as waardevolle lesse wat in die proses geleer is.

Hy het sy aanbieding begin deur agtergrond te gee, en gesê tegnologie is gedurig besig om ons leeromgewings en -prosesse te vorm. In 2015 het die USB 'n nagraadse diploma via gemengde leer ingevoer, en die gemengdeleweringsmodus in 2017 na hul vlagskip-MBA-program uitgebrei. Al twee programme, ingesluit die vorige voltydse en deeltydse leweringsmetodes, maak wyd gebruik van tegnologie vir onderrig en leer.

Sentraal tot die sukses van al twee programme, en spesifiek die nuwe leweringsmodus, was die doeltreffende gebruik van verskeie nuwe tegnologieë deur studente, steundienspersoneel en fakulteite. Die oorskakeling na hierdie tegnologie-intrinsieke omgewing het die beplanning en uitvoering van meervoudige intervensies genoodsaak om te verseker die fokus bly op studenteleer en nie op die “verleidelikheid" van die tegnologie nie. Daarbenewens was dit 'n groot uitdaging om fakulteite met meer as 20 jaar se klaskamerervaring sover te kry om die nuwe leeromgewings en interaksiemetodes te omhels.

By die USB is die filosofie van onderrig en leer op drie belangrike elemente gemik, te wete (1) teorie / beginsels / tegnieke; (2) toepassing; en (3) die werklike wêreld. Gegewe hierdie filosofie kon die USB 'n “glokale" klaskamer deur middel van die gemengdeleweringsmodus skep. Dit beteken studente oor die hele wêreld heen kan die onderrig bywoon, hetsy vanaf 'n lughawe êrens in Kanada, hetsy van 'n skip in die Atlantiese Oseaan. Die skepping van die “glokale" klaskamer was fundamenteel tot die transformasieproses van onderrig en leer.

Teoretiese modelle van inligtingstelsels en innovasiedissiplines was krities by die voortgesette bestuur van die gemengde programme. Deur die toepassing van die sosiotegniese perspektief (Bostrom & Heinen, 1977)[1], tegnologieaanvaardingsmodel (Davies, 1989)[2], inligtingstelselsukses (Delone & McLean, 1992)[3] en innovasiediffusieteorie (Rodgers, 1976)[4] is 'n wetenskaplike benadering tot die inbedding van die tegnologie in die onderrig- en-leer-proses gevolg.

Mnr Butler verwys verder positief na die huidige stand van sake met betrekking tot gemengde leer (GL) by die USB, en meld dat die geografiese voetspoor daarvan die afgelope paar jaar geweldig uitgebrei het. Verder is GL die suksesvolste leweringsmodus by die USB. Tot dusver was dit 'n interessante pad waarlangs hulle die waarde van versigtige beplanning en harde leer besef het. Sekere van die uitdagings wat ondervind word, sluit in tegnologiese vermoëns en ondersteuning, die integriteit rondom veilige aanlyn assesserings, asook die aansporing van personeellede.

Ter afsluiting toon hierdie GL-ervarings deur die USB dat die veranderingsimperatief al hoe belangriker word en dat persoonlike ontwrigting 'n integrerende deel van die transformasieproses uitmaak. Dit het 'n “brandende platform" geword, selfs vir “ou hande" en “nie sulke dors perde nie".

[1] Bostrom, R.P. en Heinen, J.S. 1977. MIS problems and failures: a socio-technical perspective, part II: the application of socio-technical theory. MIS quarterly, pp 11-28.

[2] Davis, F.D. 1989. Perceived usefulness, perceived ease of use, and user acceptance of information technology. MIS quarterly, pp 319-340.

[3] DeLone, W.H. en McLean, E.R. 1992. Information Systems Success: The Quest for the Dependent Variable. Information Systems Research, pp 60-95.

[4] Rogers, E.M. 1976. New product adoption and diffusion. Journal of consumer Research, pp 290-301.