Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vestig eerste sentrum vir voedselveiligheid in SA
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 07/11/2018

Pogings om voedselveiligheid in Suid-Afrika te verseker het 'n reuse hupstoot gekry danksy die daarstel van die Sentrum vir Voedselveiligheid wat vandeesweek deur die Universiteit Stellenbosch (US), in samewerking met Tiger Brands, op die US-kampus geopen is.

Die nuwe sentrum, die eerste in sy soort in die land, behels 'n unieke konsortium vir toegepaste voedselwetenskap wat navorsers van US en die voedselbedryf betrek.

Die sentrum sal fokus op navorsing wat met voedselveiligheid verband hou, deskundige advies verleen aan die voedselbedryf en beleidmakers, asook fokus op die bewusmaking van verbruikers.

Dit word gehuisves in die US se Departement van Voedselwetenskap in die Fakulteit van AgriWetenskappe. Tiger Brands, een van die stigterslede van die sentrum, het R10 miljoen daarvoor bewillig. Die sentrum sal onafhanklik deur die universiteit bestuur word.

Die sentrum se advieskomitee bestaan uit internasionaal erkende wetenskaplikes, onder wie prof Wilhelm Holzapfel (president van die Internasionale Komitee vir Voedselmikrobiologie en Higiëne), prof Mieke Uyttendaele (verbonde aan die Departement van Voedselveiligheid en gehalte by die Universiteit van Ghent in België) en prof Stephen Forsythe (voorheen 'n professor in mikrobiologie aan Nottingham Trent-universiteit in Brittanje).

“Voedselveiligheid is almal se verantwoordelikheid," het prof Pieter Gouws, waarnemende direkteur van die sentrum, gesê. “Ons wil rolspelers in die bedryf die geleentheid bied om kennis, ervaring en kundigheid oor voedselveiligheid en -prosessering te ontwikkel en onderling uit te ruil." Die oogmerk van die sentrum is om 'n bloudruk te bied om voedselveiligheid te verseker, het hy verduidelik.

Prof Pier Sandro Cocconcelli, 'n kundige in voedselmikrobiologie verbonde aan die Università Cattolica del Sacro Cuore in Italië, het in sy geleentheidsrede die soeklig laat val op tendense oor voedselveiligheid. “Ons benodig duidelike standaarde en regulasies vir voedselveiligheid wat die ekonomiese impak daarvan, asook handelskwessies in ag neem. Voorts moet ons ook langtermyndenke by risikobestuurders en beleidmakers bevorder."

Volgens mnr Lawrence MacDougall, uitvoerende hoof van Tiger Brands, is voedselveiligheid “'n noodsaaklike openbare gesondheidskwessie". “Met inagneming van die wêreldwye toename in voedselverwante siektes, is voedselbeheer wat op wetenskaplike bewyse gegrond is noodsaaklik om veilige voedselprodukte te verseker."

Pogings om Suid-Afrika se stelsel van voedselbeheer te verbeter is van uiterste belang vir Tiger Brands, het MacDougall gesê. Hy voorsien dat die sentrum 'n kernrol sal speel om voedselveiligheid te help verseker met behulp van samewerking. “Dit strek wyer as Tiger Brands – dis is noodsaaklik op nasionale vlak," het hy bygevoeg.

Volgens die US se rektor, prof Wim de Villiers, strook die daarstel van die sentrum met Maties se visie om vernuwend te wees, asook navorsing van gehalte in diens van die samelewing te onderneem. “US wil help oplossing vind vir voedselveiligheidkwessies deur navorsing te doen wat gemik is daarop om 'n verskil te maak in samewerking met ander," het hy gesê. “Ons takel hier een van die samelewing se groot uitdagings."

“Ná die onlangse listeriose uitbraak in Suid-Afrika, is die absolute belang van hierdie sentrum duidelik," het Gouws gesê. “Die uitbraak, een van die ergste tot dusver in Suid-Afrika, het talle verbruikers bekommerd en verward gelaat. Dit het ook kwessies oor die oorsigrol van owerhede en standaarde in die bedryf na vore gebring." Daar is 'n dringende behoefte vir die daarstel van 'n voedselveiligheidsowerheid om verbruikerswelstand en voedselsekerheid te help verseker, het Gouws aangevoer. “Toegang tot betroubare, onafhanklike en geloofwaardige navorsing oor voedselveiligheid, kennis en advies, is van kritieke belang," het hy gesê. “Ons moet ook seker maak dat die wetenskap wat ons doen veranderings meebring."

Die kostes van 'n mislukte stelsel vir voedselveiligheid is hoog, het prof Gunnar Sigge, departementele voorsitter, gesê. “In 'n ontwikkelende land soos Suid-Afrika is voedselveiligheid belangrik om te help verseker dat mense genoegsame toegang tot voedsel het." Ontwikkelende lande gaan veral onder 'n swaar las gebuk weens die wêreldwye toename in voedselverwante siektes. Afrika het die hoogste voorkoms van voedselverwante siektes en sterftes wat daarmee verband hou.

“'n Voedselrevolusie is nodig," het Gouws gesê. “Risiko's moet wetenskaplik ontleed word en dit noodsaak insette van 'n verskeidenheid kundiges." Daar is voorts 'n behoefte aan praktiese kommunikasie oor voedselveiligheid wat op wetenskaplike bewyse gegrond is, het hy gesê. Daar is volgens hom tans heelwat misleidende inligting in omloop wat produsente en verbruikers raak.

Dr Khotso Mokhele, voorsitter van Tiger Brands, het die onlangse listeriose-krisis bestempel as “'n pynlike herinnering" daaraan dat selfs robuuste en streng veiligheidstandaarde opgeskerp moet word. “'n Benadering van groter samewerking is nodig in die sektor, die regering en in die akademie om verbruikers te bemagtig en voedselveiligheid te verseker. Ons benodig toepaslike vestandaarde en om pogings te verenig om ons voedselstelsel te verbeter."

Die sentrum sal dien as middelpunt vir sodanige samewerking om voedselveiligheid en innovasie te verseker. “Die sentrum het die potensiaal om die aard van voedselveiligheid te verander," het Mokhele ter afsluiting gesê.

Meer oor die departement

US se Departement van Voedselwetenskap word beskou as een van die top 75 ter wêreld, wat dit onderskei as die voorste voedselwetenskap departement in Afrika. Die departement is die enigste in Afrika met akkreditasie van die Internasionale Unie vir Voedselwetenskap- en tegnologie. Die departement vier vanjaar sy 66ste bestaansjaar.

 

Medianavrae:

Prof Pieter Gouws

Departement van Voedselwetenskap

Fakulteit van AgriWetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Kontak: 021 808 2609 of pgouws@sun.ac.za​