Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit se eeufeesviering belig die bydrae van lettere en sosiale wetenskappe tot die vorming van ons wêreld
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 02/11/2018

“Die fakulteit het 'n interessante trajek gevolg sedert sy aanvang, selfs voor die formele vestiging van US in 1918. Dit was die eerste fakulteit wat 'n vrou op professorale vlak aangestel het, maar het nie aan omstredenheid ontsnap nie. Tydens die apartheidsjare het sommige akademici regeringsbeleid ondersteun, maar daar was veral ook sterk kritiese stemme van teenstand."

Dit was die woorde van die Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, prof Anthony Leysens, by die eeufeesviering van die fakulteit wat bygewoon is deur 300 studente, alumni, personeel en die algemene publiek.

“Hierdie vorms van opposisie word miskien die duidelikste gedemonstreer deur die publieke debatte tussen die 'verligtes' en 'verkramptes'. In Februarie 2013 is ʼn versoek ontvang van ʼn jong antropoloog en doktorale kandidaat aan die US om toegang te verkry tot ʼn kas met die naam Eugen Fischer daarop, wat gelei het tot die ontdekking van ʼn menslike skedel en instrumente om menslike haar- en oog-tipes te meet. Fischer was 'n Nazi eugenetikus van die 1930's en hierdie ontdekking het nog ʼn aspek van ons troebel geskiedenis ontmasker wat op eugenetika dui," het Leysens gesê.

“Vandag is ons fakulteit aan die voorpunt van wydlopende transformasie, soos geïllustreer deur die projekte 'Indekseer die Mens' en 'Indekseer Transformasie'. Albei worstel werklik met die kwessies wat gelug is tydens die studenteprotes van 2015-2016. Daar is ook die African Open Institute, 'n innoverende baanbrekende inisiatief om ons musiek in al sy rykheid en variasie na te vors en te omhels, terwyl ons Nagraadse Skool al 114 doktorale graduandi opgelewer het sedert sy ontstaan, van wie almal voort gegaan het om akademiese leiers van naam te word op die vasteland."

As deel van die viering is gaste getrakteer op musiek deur die jazz-orkes Ecclesia, wat bestaan uit studente van die Departement Musiek se Sertifikaatprogram, en ʼn uitvoering deur me. Ncebakazi Mnukwana van die Departement Musiek, wat die uHadi en uMrhubhe boë bespeel. Ecclesia se orkeslede is Mark Lynch (saxofoon), Thabang Sithole (tromboon), Joshua America (kitaar), Brent January (kitaar), Dillon Cornelius (elektriese bas), Melisizwe Plaatjie (klawerbord) en David Jones (tromme).

Die musikale uitvoering is gevolg deur drie paneelbesprekings gefokus op Gedaantes van Rassewetenskap: Van Rehoboth in Koloniale Namibië tot Berlyn, Stellenbosch en verder; Kuns as Protes en Sosiale Verandering; en Kunsmatige Intelligensie (AI) en die toekoms van werkgeleenthede, etiek en oorname deur masjiene.

Deelnemers aan die paneel Gedaantes van Rassewetenskap het ingesluit ʼn gasdosent en onderrigassistent in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie aan US, me​ Vanessa Mpatlanyane; me Nomzamo Ntombela, ʼn finalejaarstudent in BA Geesteswetenskappe met hoofvakke Antropologie en Sosiologie; prof Steven Robins van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie aan US; Maties-alumnus dr Handri Walters; en dr Rudi Buys, Dekaan van Lettere aan die Cornerstone Institute wat ook ʼn Matie-alumnus is.

Dr Leslie van Rooi, die Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, en me Stephané Conradie, ʼn lektor in die Departement Visuele Kunste aan US wat ook ʼn lid was van Open Stellenbosch en organiseerder van kunsintervensies in 2015, het gefokus op Kuns as Protes en Maatskaplike Verandering. Van Rooi is verantwoordelik vir, onder andere, visuele regstelling aan US. Hy is ook verantwoordelik vir die US Woordfees en die US Museum.

Die paneel oor Kunsmatige Intelligensie (AI) het ingesluit prof Bruce Watson, Voorsitter van die Departement Inligtingwetenskap in die fakulteit; mnr Marc Tison, ʼn Matie-alumnus en Hoof Uitvoerende Beampte by Zing Holdings; en dr Martin Berglund, ʼn nadoktorale genoot aan US vanaf die Umeå Universiteit in Swede.

Conradie het die paneelbespreking oor Kuns as Protes afgeskop deur aan gaste die agtergrond van die #FeesMustFall studenteprotes te verskaf, en verduidelik dat die studente-aktivistiese Open Stellenbosch van Mei 2015 tot vroeg in 2016 geprotesteer het teen die afwesigheid van institusionele transformasie aan US en onder andere uitgewys het op watter diskriminerende wyse die amptelike universiteitstaalbeleid (2014) geïmplementeer was.

“In Open Stellenbosch en tydens die #FeesMustFall studenteprotes is kuns gebruik as ʼn manier om te verwys na die bedenkinge wat studente oor die universiteit as instelling gehad het."

Van Rooi het bygevoeg: “Die paneel het ons toegelaat om lig te werp op die lewe by US na #FeesMustFall. Dit het ons as sodanig die geleentheid gebied om na te dink oor wat verander het en wat nog moet verander. In dit alles moet die kritiese rol wat Kuns kan en moet speel in die diskoers  belig en waardeer word."

Robins het die paneelbespreking oor die Gedaantes van Rassewetenskap afgeskop deur te fokus op sy eie navorsing oor sy familiegeskiedenis wat die laaste lewensjare van sy grootouers, tantes en ooms tydens die Joodse volksmoord nagespoor het. Sy navorsing is te danke aan ʼn foto van sy ouma, Cecilie, en sy tantes, Edith en Hildegard, wat in sy familiehuis uitgestal is en gelei het tot die publikasie van die boek Letters of Stone. Dit verskaf ʼn diep persoonlike en pynlike terugskouing oor die ware grusaamheid en omvang van die Nazi's se rassebeleide teenoor Jode.

Die res van die paneelbespreking het gefokus op die rol van eugenetika as ʼn “reisende wetenskap" en breër vrae gevra oor die erfenis en die kennisvorme en institusionele kultuur wat aan die Universiteit Stellenbosch en ander universiteite in Suid-Afrika geproduseer is.

“Sulke nadenke oor institusionele geskiedenisse stel belangrike vrae wat ons mag help vorentoe beweeg in ons toewyding tot hedendaagse transformasie," meen die paneellede.

Tison, Berglund en Watson het aan gaste interessante insig verskaf oor die ontwikkelings binne die veld van kunsmatige intelligensie. Een van hierdie kwessies sluit in die ontdekking dat ʼn AI werwingsinstrument wat ontwikkel is deur Amazon.com om werksaansoeke te hersien om die beste kandidate vir indiensneming te identifiseer, bevooroordeeld was ten gunste van vroue. Volgens Reuters is “rekenaarmodelle geleer om aansoeke te keur deur patrone in CV's wat by die maatskappy ingedien is waar te neem oor ʼn 10-jaar periode, wat die manlike dominansie in die tegnologiebedryf weerspieël." Gebruik van die instrument is uiteindelik beëindig.​

“Dit was nogal kommerwekkend," sê Watson. “Die meeste mense het ʼn minimalistiese idee van wat kennis is wanneer verwys word na kunsmatige intelligensie. Kennis is ondervindings wat in ʼn rekenaarstelsel ingeprogrammeer word. Maar voordat al die leer plaasvind is dit steeds moontlik dat, selfs indien iemand met goeie morele waardes die opleiding doen, jy ʼn onvoorsiene uitkoms kan hê. Ons kan byvoorbeeld vir ons kinders goeie morele waardes leer, maar sommiges tel goed per ongeluk op. So mag jy ʼn kind kry wat vloek omdat hulle dit by ʼn eweknie gehoor het of weens swak ingeligte besluite. Dit sal maar baie dieselfde wees met masjienleer, maar anders as met kinders kan jy in die stelsel ingaan en steeds die lei skoonvee."

Tison het van die werk gedeel wat hy in Afrika gedoen het om bekostigbare bankdienste en mikro-versekering aan individue op die vasteland te bring wat hierdie dienste kort.

“Ons produk, wat ʼn digitale munt is wat gebruik kan word om enige goedere te koop en kliënte beloon met gratis lewensversekering, is op 10 September vanjaar geloods, en teen die einde van September het ons alreeds 120 000 kliënte gehad. So ons gebruik AI die hele tyd om eise te bestuur, voorspellende analise te doen van vals eise, en om doeltreffendheid in die outomatiseringsproses in te bed. Dit is nie iets wat ons onlangs bedink het nie."

Toe hy die gaste toegespreek het, het Leysens ook die toekomsvisie van die fakulteit geskets.

“Uiteindelik wil ons voortgaan om uitnemendheid te handhaaf. In hierdie sin is die essensie van die fakulteit die rykheid en diversiteit van sy akademiese projekte en die kwaliteit van sy akademiese en ondersteuningspersoneel. Ek wil my waardering uitspreek vir hul toewyding in uitdagende tye binne die hoër onderwyssektor," het Leysens gesê.

“Ek glo ook dat ons identiteit gevorm moet word deur waar ons is – plaaslik, nasionaal en kontinentaal – en ondersteun moet word deur die idee “ek dink waar ek is" ten einde die uitdagings van waar ons is, aan te spreek sonder om onsself af te sny van die globale bronne van kennis en sy verwante netwerke."

Leysens het verder verduidelik dat die fakulteit tans konsentreer op die hernuwing van sy akademiese aanbod, “nie primêr om die vereistes van koste-effektiwiteit aan te spreek nie, maar met ons oë op die snelveranderende wêreld van werk en die relevansie van ʼn graad in die geesteswetenskappe."

“Ek glo dat ons doelwit moet wees om ʼn breedgebaseerde en interdissiplinêre geesteswetenskaplike opvoeding te verskaf wat ons graduandi toelaat om, in die woorde van ʼn onlangse boek deur George Anders, 'enige plek' te gaan."

Die kenmerke van so ʼn gegradueerde behoort te wees: onafhanklikheid, aanpasbaarheid, uitdaging van konvensionele antwoorde, innoverende denke, insig en begrip van kompleksiteit en die vermoë om jou toe te spits op probleemoplossing binne ʼn groep en ʼn interkulturele konteks."

Hy het bygevoeg dat “akademiese hernuwing in die geesteswetenskappe die realiteite van die vierde industriële revolusie moet konfronteer" en dat ons moet “aanvaar dat studente ʼn basiese geletterdheid in datawetenskap benodig en ʼn inleiding tot die toepassings daarvan in die digitale geesteswetenskappe".

“Etiese oorwegings in datawetenskapprojekte kan nie oorweeg word buite die tegniese werk nie, nog kan hulle oorweeg word laat in ʼn projek of nadat die projek voltooi is nie. Hulle is integraal. Die rol van die geesteswetenskappe is net so integraal en het wydlopende toepassings."

Foto: Gaste wat die Fakulteit Letter en Sosiale Wetenskappe se Eeufeesvieringe bygewoon het, kon kies​ om een van drie paneelbesprekings oor kuns as protes, rassewetenskap, of Kunsmatige Intelligensie by te woon. Hulle het ook tradisionele musiek tydens die geleentheid geniet.