Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die US vier 100 jaar in opvoedkunde
Outeur: Asiphe Nombewu/Corporate Communications Division
Gepubliseer: 01/11/2018

​As een van die vier stigtingsfakulteite van die Universiteit Stellenbosch (US) het die Fakulteit Opvoedkunde vanjaar tydens dié instelling se Eeufeesjaar 100 jaar oud geword.

Op Donderdag, 18 Oktober, het alumni en bestaande en voormalige personeellede (akademici en steunpersoneel ingesluit) die Fakulteit Opvoedkunde se 100ste bestaansjaar by die Nooitgedacht Landgoed in die Stellenbosch-omgewing gevier. Ingesluit by die aand se verrigtinge was toesprake oor die algemene opvoedkundeveld, die uitdagings waarmee sowel onderwysers as leerders te doen kry, asook voorbeelde van suksesse wat behaal is.

In sy openingstoespraak het die Viserektor: Leer en Onderrig, prof Arnold Schoonwinkel, gesê die hele kampusgemeenskap is dank verskuldig aan voormalige personeellede wat die Fakulteit help vorm het en dit gemaak het wat dit vandag is.

“As 'n universiteit streef ons daarna om een van Afrika se voorste navorsingsintensiewe instellings te word en hierdie Fakulteit lewer 'n aansienlike bydrae in dié opsig. Daar bestaan uitdagings in die hoëronderwyssektor en selfs in ons Fakulteit Opvoedkunde, maar prosesse is gevestig om te kyk hoe ons 'n verskil kan maak en 'n beter fakulteit kan word.

Prof Johan Malan.jpg

“U maak ons trots, Kollegas. Ons is trots op die manier waarop u ons studente dien en hoe u 'n impak in die gemeenskappe maak. Baie dankie, en geluk met die 100 jaar van opvoedkunde," het hy ter afsluiting gesê.

Die waarnemende Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, prof Johan Malan, het gesê: “Die Fakulteit word gekenmerk deur die beduidende navorsingsprofiel wat na opvoedkunde buite die skoolomgewing en sy interdissiplinêre benadering tot opvoedkunde kyk. Die Fakulteit streef daarna om 'n rol in opvoedkunde, sowel plaaslik as wêreldwyd, te speel en help om onderwysuitdagings, veral in die Suid-Afrikaanse konteks, die hoof te bied."

Prof Malan het afgesluit met Nelson Mandela se beroemde aanhaling: “Opvoeding is die sterkste wapen om verandering teweeg te bring."

Een van die sprekers, prof Nuraan Davids, ook van die Fakulteit Opvoedkunde, het gesê sy is werklik bevoorreg om deel van 'n dinamiese departement te wees. “Alhoewel ons die filosofie van opvoeding, die sosiologie van opvoeding en al die verbandhoudende beleidsake beklemtoon, is ons heel eerste gemoeid met ons taak as opvoedkundiges."

Sy sê dit gaan uiteindelik om sosiale geregtigheid en om almal gelyke geleenthede te bied, maar dat die werk wat hulle doen op die voorsiening van sowel gehalte-onderwys as gelykheid in onderwys fokus, met inagneming van die diversiteit waarin hul studente werk.

“Die een probleem waarmee ons vandag in ons skole gekonfronteer word, het minder met die kurrikulum en meer met die onderwyser te make. Wanneer ek NOS-studente leer, vra ek hulle altyd, 'Hoe herstel ons mensliewendheid in onderrig?' Dit is als goed en wel om beleide en raamwerke op te stel.

“Ek vra hulle, 'Watter rol speel julle as onderwysers in die kweek van mensliewendheid, en skep jy hoop by diegene wat jy leer? Leer jy met liefde en omgee?' Dit is 'n moeilike taak, maar ek is seker die werk wat ons in ons Departement doen, sal daarmee help," voeg sy by.

Die aand is afgesluit met 'n lewende jazz-uitvoering en netwerkgeleenthede oor aandete, en gaste het aandenkings van die Fakulteit met hulle saamgeneem.

Fotos geneem deur Stefan Els