Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties-student wen groot op 2018 Studenteleierskapsberaad
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 29/10/2018

Verantwoordelike leiers moet bereid wees om elke aksie en besluit op hul waardes en beginsels te baseer ten einde 'n positiewe impak op die samelewing te maak. Dit was die mening van die beoordelingspaneel wat die Top-30-universiteitstudente gekies het met die oog op die bywoning van die 10de jaarlikse Studenteleierskapsberaad (SLB) van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR).

Die SAIGR het die SLB tot stand gebring om geoktrooieerderekenmeester-studente daaraan te herinner dat leierskap nie deur jou titel of tegniese kundigheid bepaal word nie, maar eerder deur jou vermoë om jou waardes te handhaaf, ongeag die teenstand waarmee jy te kampe kry.

Studente van oor die hele land word jaarliks na die SLB genooi, waar hulle hul verdiep in kwessies van nasionale en professionele belang. Hulle netwerk en ontmoet denkleiers uit die sakesektor en kry die geleentheid om te dink oor hoe hulle as jong professionele persone hul vaardighede kan gebruik om hierdie kwessies op te los. Studente word ook genooi om vir die SLB-opstelkompetisie in te skryf, wat vanjaar fokus op onderwerpe soos die volgende:

• Hoe om etiese standaarde in besigheid toe te pas en te verseker dat jou leierskapstyl nie onbedoeld ander aanmoedig om oneties op te tree nie.

• Om transformasie en onafhanklikheid binne die geoktrooieerderekenmeester-beroep te verseker, met spesifieke vermelding van verpligte ouditfirma-rotasie.

• Watter verantwoordelikhede aspirant- geoktrooieerde rekenmeesters (GR's) (SA) het ten opsigte van die bou van beter gemeenskappe in hul tuisdorpe.

Lungelo Ngobese, 'n 21-jarige BA Rekeningkunde-honneursstudent van Richardsbaai aan die Universiteit Stellenbosch, het die wenplek behaal vir sy insiggewende en oplossinggedrewe opstel oor die bydraes wat GR's behoort te maak om die gemeenskappe waaruit hulle kom, te verbeter. Sy opstel bied GR's 'n meer gestruktureerde en praktiese benadering tot hulpverlening aan verskeie landelike gemeenskappe, en stel verder voor dat spanwerk deur GR's in soortgelyke gemeenskappe die doeltreffendheid en bestendigheid van inisiatiewe ter verbetering van die gemeenskappe waaruit hulle kom, kan bespoedig. Ashleigh Langton van die Universiteit van Johannesburg het die tweede plek behaal, terwyl Asanda Mhluzi van die Universiteit van Kaapstad derde gekom het.

Volgens Ngobese is sy eerste plek in die SLB-opstelkompetisie vir hom nog onwerklik. Hy doen reeds sedert sy eerste jaar aansoek by die SLB en het die Top-30 eers in sy derde jaar gehaal. “Ek voel steeds baie opgewonde en geëerd. Die ondersteuning wat ek ontvang het, was werklik onverdiend en ek het nooit verwag dit sou só groot wees nie. Ek is baie dankbaar vir die geleenthede wat daarmee gepaard gaan, om 29 ander briljante denkleiers van oor die hele Suid-Afrika te ontmoet en oor my opvattings rakende leierskap en die realiteite van die sosio-ekonomiese kwessies wat die land raak uitgedaag te word," sê Ngobese.

Teboho Moephudi, projekdirekteur van die SAIGR se universiteitsprojekte, ingesluit die SLB, sê die gehalte van die inskrywings vir die 2018 SLB-opstelkompetisie was van 'n baie hoë standaard; maar toe dit by die wenner kom, was die beoordelaars se keuse eenparig. “Lungelo se opstel oor denkleierskap was werklik oplossinggedrewe en goed beredeneerd, en die beoordelaars het geweet hulle het die wenner beet toe hulle die stuk lees," sê Moephudi.

Ngobese beplan om vir 'n rukkie te reis terwyl hy sy ingeskrewe klerkskap voltooi, en hy hoop om mentor-mentorling-verhoudings met ander studente, asook met diegene wat ná hul graadstudies sukses behaal het, te vestig. “Ek glo mentorskap is 'n goeie manier om mense aanspreeklik te hou vir besonder uitdagende planne. Om verbind te wees om jou beste te lewer is belangrik, maar om jou bes te probeer om die klein dingetjies uitstekend te doen, selfs wanneer niemand kyk nie, is net so belangrik."

__________________________________________________________________________________

Meer oor die SAIGR

Die SAIGR, Suid-Afrika se vooraanstaande rekeningkundige liggaam, word wyd erken as een van die wêreld se voorste rekeningkundige instellings. Die Instituut bied 'n wye verskeidenheid steundienste aan meer as 46 000 lede en geassosieerde maatskappye. Dit ondersteun ook geassosieerde hoofrekenmeesters en rekeningkundige tegnici wat posisies beklee as hoof uitvoerende beamptes, besturende direkteure, direksielede, sake-eienaars, hoof finansiële beamptes, ouditeure en leiers op elke gebied van die handel en nywerheid, persone wat 'n beduidende rol in die land se hoogs dinamiese sakesektor en ekonomiese ontwikkeling speel.​

Foto: Rozanne Engel