Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
STIAS stel nuwe direkteur aan
Outeur: STIAS/Corporate Communication Division
Gepubliseer: 26/10/2018

Die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing het professor Edward K. Kirumira as sy nuwe direkteur aangestel. Hy volg prof Hendrik Geyer op wat sy finale termyn as STIAS-direkteur aan die einde van 2018 voltooi. Prof Kirumira sluit aan die begin van November 2018 by STIAS aan en sal sy pligte amptelik op 1 Januarie 2019 opneem.

Edward K. Kirumira is professor in sosiologie en uittredende rektor van die Kollege vir Geesteswetenskappe en Sosiale Wetenskappe aan die Makerere Universiteit in Uganda, 'n posisie wat hy vyf jaar lank beklee het. Hy was ook voorheen agt jaar lank die dekaan van die fakulteit sosiale wetenskappe.

Hy studeer aan die Universiteit van Makerere, die Universiteit van Exeter en die Londense Skool vir Higiëne en Tropiese Geneeskunde, en behaal sy PhD in sosiologie aan die Universiteit van Kopenhagen in vennootskap met die Harvard Universiteit. Hy spesialiseer in bevolkings- en reproduktiewe gesondheid, en het uitgebreide interdissiplinêre navorsing oor MIV/vigs, nuwe siektes en internasionale gesondheidskwessies, gesondheidsoekende gedrag, asook armoede en landelikeontwikkelingstudies gedoen. Hy publiseer wyd in plaaslike en internasionale vaktydskrifte.

Onder prof Kirumira se vele gesogte nasionale en internasionale aanstellings tel sy lidmaatskap van die Vennootskapskomitee vir MIV/vigs-, Malaria- en TB- Nasionale Reaksie van die Ugandese Vigskommissie; sy betrokkenheid as genoot, uitgetrede tesourier en raadslid van die Ugandese Nasionale Akademie vir Wetenskappe; en sy voorsitterskap van die Akademie se Forum oor Gesondheid en Voeding, sowel as die Forum vir die Voorkoming van Geweld teen Kinders. Hy was vir verskeie jare voorsitter van die Programontwikkelings- en Hulpbronmobiliseringskomitee van die Ugandese Sentrale Koördineringsmeganisme vir die Wêreldwye Fonds vir MIV/vigs, TB en Malaria in dié se landelike program. Sedert Augustus 2017 is hy die voorsitter van die raad van die Ugandese Sentrale Koördinerende Meganisme vir die Wêreldfonds vir MIV/Vigs, TB en Malaria.

 

Hy het konsultasies en tegniese hulp in programontwikkeling en projekontwerp, -bestuur en ‑evaluering in verskeie Afrika-lande, ingesluit Suid-Afrika (waar hy tot die ontwikkeling van die regering se VIGS-program bygedra het), asook die Verenigde State, Mexiko, Denemarke en die Verenigde Koninkryk, gelewer. Hy was die spanleier of deel van verskeie tegniese spanne namens die Wêreldgesondheidsorganisasie, die Wêreldwye Program oor Vigs, die Verenigde Nasies se Vigs-program, die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram, die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds, die Deense Internasionale Ontwikkelingsagentskap, die Sweeds regering, die Noorweegse regering, die VS Nasionale Akademies vir Wetenskap, en die Ugandese regering. Verder is hy 'n stigterslid en voorsitter van die Vennootskap vir Afrika se Volgende Generasie Akademici (PANGeA) en lid van verskeie navorsingsnetwerke in Afrika, waaronder CODESRIA, OSSREA, en ResearchAfrica.net, sowel as netwerke in Europa, Noord-Amerika en Asië.

Kirumira bring gevolglik 'n sterk navorsingsagtergrond, asook uitgebreide ondervinding in die opbou van instellings en netwerke met hom saam.

Hy kon daarin slaag om finansiële steun vir 'n verskeidenheid navorsings- en institusionele kapasiteitsbouprojekte te bekom. Onder sy leierskap is 'n portefeulje van honderde miljoen VS-dollar van die Wêreldwye Fonds vir Nasionale Programreaksie insake MIV/vigs, TB en Malaria bekom.

Desmond Smith, voorsitter van die direksie van STIAS, sê:

“Die keurkomitee was beïndruk met professor Kirumira se visie vir STIAS om die gehalte van die kernnavorsingsprogram verder te verbeter, om die Iso Lomso-program gemik op die volgende generasie Afrika-vakkundiges en -leiers kragdadig uit te brei, en STIAS 'n akademiese en intellektuele hub in diens van die vasteland en navorsing wêreldwyd te maak.

“Ons verwelkom hom graag in die STIAS-familie. Hy het die volle steun van die direksie en ons sien uit na die volgende fase van die Instituut se groei onder sy leierskap."

In 'n onderhoud ná sy aanstelling sê Kirumira: “Dit is angswekkend, maar 'n groot voorreg om hierdie posisie te beklee," en vervolg: “Ek bring 'n passie vir vakkundigheid na STIAS, maar ook 'n passie om daardie vakkundigheid binne 'n institusionele struktuur te plaas. Ek kom uit 'n posisie van kapasiteitbou vir hoëronderwysinstellings, uit 'n akademiese sowel as 'n administratiewe perspektief. As jy nie goeie beheer en bestuur het nie, is dit moeilik vir vakkundigheid om te floreer," voeg hy by: “En ook met die invoer vir ontwikkelingsprosesse, sonder dat hierdie prosesse vakkundigheid beïnvloed of rig."

“Deel van die aantrekkingskrag is dat STIAS hom as daardie ruimte aanbied," verduidelik hy. “Nie beperk deur instelling of dissipline of tendense nie, maar met die vermoë om daardie tendense te voed en te rig."

“Dit is ook 'n plek waar bekwame, opkomende, jong vakkundiges hul idees kan toets. Ek is opgewonde oor en sien uit daarna om deel van 'n ruimte te wees wat mense toelaat om hierdie geleenthede te hê."

“Ons praat van dekolonialiteite en afrikanisering, maar hoe maak ons dit praktykgerig? Ek sien myself as deel van daardie eksperiment."

“En veral op Stellenbosch," voeg hy by. “Dit moet hier gebeur en sal waarskynlik 'n veel groter impak maak as elders. Ek hoop dit kan gesien word as deel van heropbou. Vakkundiges het 'n verantwoordelikheid om te rekonstrueer. As ons verandering wil hê, moet ons deel wees daarvan, in stede daarvan om te wag op iemand anders, of 'n krisis, om dit aan ons voor te skryf."

Volgens hom waardeer mense nie altyd die strategiese belang van 'n instelling soos STIAS nie. “Maar ons moet dit sê en trots wees daarop. Ek hoop STIAS kan hom selfs sterker posisioneer as 'n denke-/kennisskepper. Ons moet die geleentheid en doel waarvoor dit geskep is, aangryp."

“Ek wil graag my begrip en waardering van wat die vasteland aanbied by die vakkundigheidskapasiteit byvoeg om te kyk of ons verandering kan vergemaklik. Mense se betrokkenheid by STIAS behoort die begin te wees van 'n bydrae tot iets groters," sluit hy af.

 

 

Oor STIAS

STIAS is in 1999 deur die Universiteit Stellenbosch gestig en funksioneer onder die vaandel van die Universiteit tot 2007, toe 'n niewinsgewende (artikel 21-) maatskappy opgerig word. STIAS word tans deur sy eie direksie beheer en bestuur.​