Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Innoverende app vergemaklik eksamentoegang
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 18/10/2018

​Eksamens kan ʼn stresvolle tyd vir baie studente wees. Boonop kan die tydrowende toegangsprosedures by eksamenlokale, wanneer jy net by jou vraestel wil uitkom en begin skryf, daardie stresvlakke die hoogte laat inskiet!

Danksy nuwe tegnologie ontwikkel deur Informasietegnologie by die Universiteit Stellenbosch (US), in samewerking met die Eksamenkantoor in die Registrateursafdeling, is die tydrowende proses om toegangslyste vir studente met die hand af te merk iets van die verlede.

Sedert Junie hierdie jaar is studente vir toegang tot eksamenlokale met gebruik van selfone by elke lokaal geïdentifiseer. Toetse is eers op ʼn klein skaal in die November 2017-eksamens gedoen en die tegnologie is volledig vir die Junie 2018-eksamens gebruik – met groot sukses.

Emce Louw, hoof van die Eksamenkantoor by die US, is baie opgewonde oor hierdie nuwe tegnologie en sê talle studente het dieselfde mening tydens die Junie-eksamens gehad. “Die proses waarmee studentekaarte geskandeer word, werk fantasties. Die studente was ook baie beïndruk."

Hoe dit werk

Eksamentoesighouers het toegang tot selfone met die eksamentoegang-app by elke lokaal. Wanneer studente by die eksamenlokaal arriveer, word hul kaart teen die agterkant van die selfoon gehou en die skerm toon aan of hulle veronderstel is om daardie eksamen in die spesifieke module by daardie spesifieke lokaal te skryf of nie. Die skerm vertoon ʼn groen regmerkie as die student by die regte eksamenlokaal is (sien die prente hier onder) en ʼn rooi kruisie as dit nie die geval is nie. As studente by die verkeerde lokaal is, toon die skerm aan waar hulle die eksamen (of toets) moet skryf.

Hierdie makliker skanderingsproses is moontlik gemaak deur die nabyveld-kommunikasieskyfie op Android-fone, wat met die MIFARE-skyfie kommunikeer wat in studentekaarte vasgelê is. Die identifikasie-inligting word dan deur die foon-app gebruik om die student se eksamenlokaal na te slaan. Die eksamenlokaal en module-inligting word van die Studente-inligtingstelsel verkry.

Die ontwikkeling en suksesvolle voltooiing van die tegnologie was ʼn kruisfunksionele spanpoging. Hendrik le Roux van Informasietegnologie se Afdeling Toegangsbeheer was die projekbestuurder en Guzelle Hendricks was verantwoordelik vir die sake-ontleding van die twee driemaand-fases van die projek, wat vanaf einde 2017 tot Junie 2018 geduur het.

Benewens Hendrik en Guzelle se rolle in die projek, sluit ander US-personeel wat ʼn sleutelrol in die bekendstelling van die projek gespeel het Phillip Greeff, Gregory Isaacs, Anna-Mari du Toit, Marc-Allen Johnson, Jeremy van Rooyen, Charles Hopkins (wat die app geskryf het) en Elmar Matthee (wat verantwoordelik was vir die na-ontwikkeling) in. Aan die kant van die funksionele belanghebbendes, buiten Emce Louw, het Neels Fourie (Adjunkregistrateur), Jan du Toit en Helene Nieuwoudt ook aan die projek deelgeneem.

Die app maak vinniger beheer van toegang tot eksamenlokale moontlik en sal beslis die funksie van toegangsbeheer ten opsigte van eksamenlokale by die Universiteit vereenvoudig en verbeter.​