Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die werklike redes agter inentingsteenstand
Outeur: Michelle Rotchford-Galloway
Gepubliseer: 25/09/2018

Inentingsteenstand is 'n komplekse fenomeen wat verstaan moet word binne die spesifieke konteks waarbinne dit plaasvind. Dit is volgens Elizabeth Oduwole, 'n PhD student in die Departement Globale Gesondheid, se Afdeling Gesondheidsisteme Versterking en Openbare Gesondheid, wat onlangs 'n aanbieding gedoen het oor haar voorstel vir haar studie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Akademiese Jaardag.

Oduwole se aanbieding was getiteld Die ondersoek van inentingsteenstand en die toetsing van 'n bestaande meetinstrument in die Wes-Kaap. Haar studie is daarop gemik om die redes vir inentingsteenstand in die Wes-Kaap te ondersoek, en om drie vrae te beantwoord: (1) Wat is die hoofoorsake en dryfvere van inentingsteenstand in die provinsie? (2) Watter meetinstrumente is daar? En (3) is die opname se metodes geldig in die konteks en die omgewing?

Oduwole het aangedui dat daar tans inentings beskikbaar is vir 25 inentings-voorkombare siektes, waarvan 13 op 'n gereelde grondslag toegedien word in Suid-Afrika as deel van die Uitgebreide Immunisasieprogram. Daar is oor die afgelope paar jaar 'n gebrek aan vordering, en selfs agteruitgang, met immuniseringsprogramme in baie lande as gevolg van 'n verskeidenheid van redes. Dit sluit  probleme op verskeie gebiede in, soos byvoorbeeld befondsingstekorte en immuniseringsgeleenthede wat misgeloop word; gebrek aan immuniseringsvoorrade; probleme met immuniseringsprogramme en uitdagings wat verband hou met infrastruktuur; en kwessies wat verband hou met persoonlike keuses en inentingsteenstand.

“Die Wes-Kaap tel onder die beste provinsies in die land wanneer dit kom by inentingsdekking, maar die provinsie is self steeds onder die nasionale mikpunt van 92% dekking," het Oduwole gesê.

“Onlangse uitbrekings van inentings-voorkombare siektes soos masels in die Wes-Kaap wys dat daar beslis iets aan die verander is, en 'n deel hiervan kan beslis toegeskryf word aan toenemende inentingsteenstand," het sy bygevoeg.

“Die volle omvang van die rol van inentingsteenstand is onbekend, maar dit is nodig dat dit bestudeer moet word binne die spesifieke konteks, sodat suksesvolle intervensies ontwikkel kan word," het sy gesê.

Inentingsteenstand kan op 'n kontinuum gesien word, waar alle inentings aanvaar word, of net sekeres, of geen inentings hoegenaamd nie.

Die studie inkorporeer 'n verkennende verslag wat ondersoek sal instel na beskikbare meetinstrumente om inentingsteenstand te meet; 'n data-kollekteringsfase wat onderhoude met gesondheidsverskaffers inkorporeer, wat beide diegene sal insluit wat inenting van kinders doen, en rondreisende klinieke wat ook volwassenes inent; en daar sal ook 'n kans wees om 'n bestaande meetinstrument te toets.

Die doel van die studie is om 'n bydra te lewer tot die kennis wat bestaan oor inentingsteenstand, om 'n dieper begrip te verskaf aangaande die probleem in die Wes-Kaap, en om gekontekstualiseerde oplossings aan te bied, waar moontlik.

Oduwole het ook die aandag gevestig op die unieke situasie in Suid-Afrika, waar, in 'n opset met beperkte befondsing, daar probleme is met beide toegang tot inenting, sowel as kwessies wat met besluitneming verband hou, wat gewoonlik met hoër-inkomste lande geassosieer word. Sy het ook verwys na die belangrike rol en die diepgaande invloed van anti-inentingsgroepe op sosiale media.