Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wat sal die impak van ons navorsing, en ons onderrig en leer op die samelewing wees teen 2118?
Outeur: Rhoda Malgas
Gepubliseer: 20/09/2018

Die impak van navorsing oor die volgende 100 jaar was die onderwerp wat lede van die Sosiale Impak-komitee in die Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch (US), by hul simposium in Augustus 2018 bespreek het. Hierdie simposium was een van die Fakulteit se spesiale Eeufeesherdenkingsgeleenthede, aangesien die Fakulteit, nes die US, in 1918 gestig is.

Kommer oor tekorte in onderwys en opleiding onder die jeug in die landbousektor het gestalte aan twee van die Fakulteit se inisiatiewe vir Sosiale Impak (SI) gegee. Die konsep van 'n landbou-opleidingshub by die Mariendahl-proefplaas is gegrond op 'n verbintenis om kennisoordrag aan die jeug in die landbou, wat nie toegang tot hoofstroomopleiding ná matriek het nie, te vergemaklik. Mnr Henk Stander van die Departement Veekundige Wetenskappe het daarop gewys dat, ongeag die uitkomste van dringende grondhervormingspogings in die land, daar 'n behoefte aan steun, opleiding en navorsing sal wees om voedselsekerheid te bewerkstellig, ekologiese infrastruktuur te bestuur, en 'n bestaan te volhou. Opgegradeerde fasiliteite op die plaas om wêreldgehalte-leer te verseker, word by die konsep ingesluit en sal tot voordeel van US-studente strek.

Me Marianne McKay en kollegas van die Departement Wingerd- en Wynkunde het met die Pinotage-jeugontwikkelingsakademie (PYDA) saamgewerk om 'n diens aan jongmense uit hulpbronarm-gemeenskappe te lewer. Hierdie studente stel in die wynbedryf belang, maar het om verskeie redes nie toegang tot universiteitgraadprogramme nie. Die studentgesentreerde kurrikulum is in pas met die behoeftes van voorheen benadeelde jeugdiges tussen die ouderdom van 18 en 25 jaar. Onafhanklike en interne assesserings toon 'n 90%-indiensneming van PYDA-gegradueerdes, verhoogde toegang tot die wynbedryf en hoë retensiesyfers, asook gewaardeerde vennootskappe tussen die Akademie en die US.

Die verspreiding van die patogeniese swam Phytophthora spp. in die Kaapse Fynbos het die PhD-student, Joey Hulbert, genoop om inwoners te vra om met die insameling van monsters in die Wes-Kaap behulpsaam te wees. Drie seuns van Khayelitsha, 'n ma-en-dogter-span van Stellenbosch, en 'n kwekerypersoneellid het saam in die laboratorium van studieleier dr Francois Roets beland om monsters by die Departement Bewaringsekologie en Entomologie te verwerk. Gewone inwoners se monsters het buitengewone resultate opgelewer. Naamregte is aan drie bydraers toegeken vir die nuwe spesies wat gevind is. Volgens die drie seuns van Khayelitsha stel hulle belang daarin om by die US aan te sluit en 'n loopbaanpad in bewaringsekologie te begin.

Mnr Norman Daniels en mev Anna Joorst, lede van die Heuningbos-kennisvennootskap te Genadendal, het bepaalde insigte as SI-vennote gedeel. Sedert 2012 trek 11 nagraadse studente onder die toesig van me Rhoda Malgas by die Departement Bewaringsekologie en Entomologie voordeel uit die navorsingsteun, plaaslike kennis en wysheid van inwoners van Genadendal in die Overberg. Rhoda verduidelik hoe deelnemende navorsingsmetodologieë tot verhoogde plaaslike eienaarskap van bevindings lei. Samewerking met plaaslike vennote skep ook geleenthede vir studente-opleiding in verskeie dissiplines. Beplande uitsette sluit in 'n gemeenskapseminaar later vanjaar, die publikasie van 'n plaaslike vaktydskrif met die resultate van studenteprojekte sedert 2012, en 'n werkswinkel met bewaringsagentskappe op Genadendal.

In sy openingsopmerkings het die Visedekaan: Navorsing, prof Kennedy Dzama, gewys op die belang daarvan om die status van SI in ooreenstemming met dié van Navorsing, en Onderrig en Leer, in die Fakulteit te bring. Die swak bywoning van SI-geleenthede weerspreek gewis die werklike belangstelling en harde werk van al die personeel en studente in die Fakulteit. Tasbare blyke van erkenning aan personeel, praktiese steun deur departementshoofde en groter sigbaarheid wat SI-inisiatiewe betref, kan help om SI stewiger in die Fakulteit te vestig.

Indien u of ander persone in u departement by SI-inisiatiewe betrokke is, kan u gerus u projek op die Afdeling Sosiale Impak se webblad registreer, of met die skakelpersoon in die Fakulteit, mnr Mawethu Nyakatya, by nyakatya@sun.ac.za in verbinding tree vir verdere besonderhede.

As u by die Komitee wil aansluit, of graag meer oor ons werk wil wees, kontak dr Evodia Setati (setati@sun.ac.za) of enige ander lede in die Fakulteit. Die SI-komiteelede vir AgriWetenskappe in 2018 is:

  • Veekundige Wetenskappe: Dr Annelin Molotsi; Mnr Henk Stander

•    Bewaringsekologie en Entomologie: Dr Shayne Jacobs; Me Rhoda Malgas

•    Bos- en Houtkunde: Dr Levuyo Tyhoda

  • Wingerd- en Wynkunde: Me Marianne McKay; Dr Evodia Setati

Skrywer: Me Rhoda Malgas (rmalgas@sun.ac.za) namens die Sosiale Impak-komitee, Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch

Photo's:  Mev M McKay & Mnr H Stander