Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stellenbossers moet saamstaan teen ongelykheid
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 19/09/2018

Stellenbossers moet uitreik na mekaar om die voortslepende ongelykheid in die dorp aan te spreek.

Dit was die strekking van 'n paneelbespreking by ʼn Erfenisfunksie wat op Dinsdag (18 September 2018) by die Universiteit Stellenbosch Museum op die Stellenbosch-kampus gehou is. Die bespreking is deur me Renee Hector-Kannemeyer van Matie Gemeenskapsdiens gemodereer. Dit is deur die US en die Stellenbosch e-Bosch-erfenisprojek aangebied, en het deel gevorm van die US se Eeufees-vieringe.

Die paneellede was mnr Yeki Mosomothane van die Sentrum vir Studentestrukture en Gemeenskappe aan die US, mnr Dennis Moss, 'n Stellenbosse argitek, me Stephané Conradie, 'n doktorale student in die Departement Visuele Kunste aan die US, en mnr Shirle Cornellisen van die US se Fakulteit Teologie.

Mosomothane het in sy bydrae gesê daar is steeds ongelykheid, armoede en ʼn gebrek aan dienste in sekere dele van Stellenbosch.Heritage1-25.jpg

“Ons worstel nog met baie dinge in hierdie dorp. Ons het nie nog nie regtig die verskillende Stellenbosse gemeenskappe erken nie."

“Dit is belangrik dat die mense van Stellenbosch mekaar vind. Ons is almal aan mekaar verbind en dit is 'n realiteit waarvan ons nie kan weghardloop nie."

Mosomothane het gesê ons moet onsself vra hoe ons inklusiewe gemeenskappe op Stellenbosch kan bou.

Hy het genoem dat daar wel mense is wat goeie dinge op Stellenbosch doen, maar ons kollektiewe pogings behoort verskerp te word.

In aansluiting by Mosomothane, het Moss gesê die ongelykheid in 'n gebied soos Kayamandi is in skrille kontras met die oorvloed van geleenthede elders in Stellenbosch.

“Jy kan nie glo dat dit moontlik is dat ons so iets in 'n grondwetlike demokrasie duld nie."

Moss het gesê die mense van Stellenbosch is kultureel, sosiaal, ekonomies en fisies van mekaar geskei.

Hy het bygevoeg dat ons nie daarin geslaag het om 'n volhoubare toekoms vir die dorp te skep nie.

In haar besinning oor die geskiedenis van Stellenbosch, het Conradie gesê sy het besef dat inwoners van die dorp nie regtig baie van mekaar weet nie.

Cornellisen het op die ongelykheid in sport in Stellenbosch gefokus en die behoefte aan toeganklikheid tot sportgeleenthede beklemtoon, veral vir kinders uit histories benadeelde gemeenskappe.

“Besighede en die Universiteit moet indringend kyk na hoe hulle in hierdie gemeenskappe kan belê," het Cornellisen gesê.

  • Hooffoto: Stellenbosch
  • Foto 1: Stephané Conradie, Dennis Moss, Yeki Mosomothane, Shirle Cornellisen en Renee Hector-Kannemeyer tydens die paneelbespreking.
  • Fotograaf: Anton Jordaan