Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Somerskool-ervaring verbreed horisonne
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 18/09/2018

Harde werk word beloon. 

Dit het Linda Kallis, 'n honneursstudent in Finansiële Bestuur, vanjaar ondervind toe sy op grond van haar uitstekende voorgraadse punte as een van nege Matiestudente gekies is om 'n twee weke lange somerskool by die Katholieke Universiteit Leuven in België by te woon.

Linda, wat haar BCom-graad in 2017 met lof verwerf het, het oorspronklik nie van die program geweet nie, maar is saam met drie ander studente van die Departement Ondernemingbestuur geïdentifiseer om daaraan deel te neem.

“Ek kon nie glo dat so iets met my gebeur nie. Dit was my eerste oorsese reis en alles het onwerklik gevoel totdat ons op die vliegtuig geklim het."

Die program het bestaan uit vier modules waarvan elke student twee moes kies. Naas die akademiese verpligtinge, was daar ook tyd vir kulturele uitstappies na plekke soos die Europese parlement in Brussels en die slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog in Vlaandere.

“My hoogtepunt was ons besoek aan die Europese parlement. Dit was 'n belewenis om te staan op die plek waar ikoniese praatjies deur mense soos David Cameron, Margaret Thatcher, Theresa May, John Major en Emmanuel Macron gelewer is.

“Ons het ook Flanders Fields, die begraafplaas en gedenktuin vir soldate wat hul lewe in die Eerste Wêreldoorlog opgeoffer het, besoek. Dit het my hoendervleis gegee om die stories te hoor en die gedenktekens te sien en het my laat besef hoe kosbaar die lewe eintlik is." 

Die uitruilprogram het Linda se lewensuitkyk beïnvloed.

“Ek het geleer die wêreld is baie groter as wat ons besef. Daar is soveel geleenthede wat ons kan aangryp – ons moet net bereid wees om die eerste stap te neem. Dan het ek ook besef hoe lief ek vir Suid-Afrika is. Europa is wonderlik, maar om weer terug te wees waar ek behoort, is die beste gevoel ooit. Dit sit jou hele lewe in perspektief."

Noudat sy in die pylvak van haar studies op Stellenbosch is, is Linda besig om planne vir haar toekoms te maak.

“Ek was nog altyd 'n harde werker en positief oor nuwe fases in my lewe en ek sal my tyd op Stellenbosch vir altyd koester.

“Ek is tans besig met onderhoude om aan 'n program vir gegradueerdes by 'n batebestuuronderneming deel te neem sodat ek blootstelling aan alle afdelings binne die maatskappy kan kry voordat ek besluit waar ek permanent sal wil werk."