Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verhoging van sosiale impak deur transdissiplinêre samewerking
Outeur: Division for Social Impact
Gepubliseer: 18/09/2018
​Transdissiplinêre samewerking en vennootskappe was sterk temas by die Universiteit Stellenbosch se onlangse jaarlikse Sosiale Impak Simposium wat by die Devonvallei Gholflandgoed gehou is.

“Dit is opwindend vir die Universiteit Stellenbosch om op transdissiplinêre samewerking te fokus om die impakwerk wat ons doen te bevorder en dit selfs nog betekenisvoller te maak,” het dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, gesê. “Dit is belangrik om ruimtes te skep waarin daar gedeel kan word en om nuwe vennootskappe en moontlikhede in die hand te werk”, sê hy.

Die Simposium se tema, “Inspire #SUImpact100”, het gefokus op die eeufeesvieringe vir diegene betrokke by sosiale impak en diegene wat daarby betrokke wil raak.

Twee programredes het die verrigtinge van die dag gerig. Prof Willem Fourie, Medeprofessor: Albert Luthuli Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap by die Universiteit van Pretoria en koördineerder van die South African SDG Hub, het gepraat oor die waarde-aanbod van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD’s): “Die VOD’s het die potensiaal om die lewens van die kwesbaarstes te verbeter. Ontwikkeling gaan oor die skep van ʼn gedeelde gemeenskap, samewerking, die afbreek van silo’s en ‘en-en’-denke. Vennootskappe is die sleutel en die vernaamste VOD om dít te bereik. In die konteks van universiteite kan VOD’s navorsingsgroepe byeenbring om ingewikkelde probleme aan te pak.”

Prof Thuli Madonsela, Regsfakulteit Trust Leerstoel vir Sosiale Geregtigheid, sê: “Die grootste uitdaging vir sosiale transformasie is ʼn ontoereikendheid van stelseldenke, impakbewustheid en befondsing vir sosiale verandering met die doel om ʼn einde aan armoede te bring en strukturele ongelykheid uit die weg te ruim. Dit word vererger deur ʼn een-grootte-pas-almal-paradigma wat regshervorming en beleidsintervensies onderstut.” Die Leerstoel se Social Justice M-Plan poog om data-analise in te span om die waarskynlikheid en huidige uiteenlopende impak van beleide en planne te voorspel. Dit poog terselfdertyd om die burgerlike samelewing se belegging in sosiale impak ʼn hupstoot te gee om sosiale verandering en sosio-ekonomiese insluiting te versnel en demokrasie, nasionale eenheid en vrede te veranker.

Aanbiedings oor inisiatiewe vir sosiale impak het gefokus op die Universiteit Stellenbosch se temas vir sosiale impak van onderrig vir almal, indiensneming en inklusiewe ekonomiese ontwikkeling, sosiale en geslagsgeregtigheid, en voedselsekerheid en gesondheid. Samewerking is ook in die aanbiedings oor die inisiatiewe weerspieël met dié dat personeel, studente en vennote aanbiedings saam gelewer het. “Ons kan beter begrip van sosiale impak skep deur praktiese voorbeelde te deel van die manier waarop inisiatiewe vir sosiale impak plaasvind, en só by mekaar leer,” sê dr Antoinette Smith-Tolken, Direkteur: Sosiale Impak.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het die dag afgesluit deur te besin dat ons as ʼn universiteit verbind is tot geïntegreerde, verankerde en sistemiese impak en dat daar ʼn sterk verhouding tussen sosiale impak, sosiale geregtigheid en sosiale samehang is. “Vir ons as ʼn universiteit is sosiale impak transformerend en wederkerig – ons het ʼn impak op die samelewing en die samelewing het ʼn impak op ons”, sê hy.