Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Video: Rektor gaan marathon aflê om honger studente te help
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 20/09/2018

​Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), het vroeër vanjaar die Kaapstad-fietstoer voltooi om geld vir studiebeurse in te samel. Op 23 September 2018 gaan hy weer vir ʼn verdienstelike saak sweet – dié keer in die Kaapstad-marathon om voedseltekorte onder studente op ons kampusse te bekamp.

 

Mense met selfone kan hier​ klik om die video te sien.

Hy is een van 110 personeellede, alumni, studente en vriende van die US wat as deel van die #Move4Food-veldtog gaan deelneem aan verskillende wedlope wat onder die vaandel van die Sanlam Kaapstad-marathon aangebied word.​

Prof de Villiers gaan die volle marathon (42,2 km) hardloop. Hy het 'n fondsinsamelingsblad op die GivenGain-platform geskep, waar hy die volgende sê:

“Waarom is so 'n inisiatief ooit nodig? Het die staat dan nie sy finansiering vir studente verhoog nie? Ja, dit ís die geval, maar nie alle studente wat steun nodig het, kry dit nie, en diegene wat wel ondersteun word, vind dikwels dit is te min vir om ook kos en ander lewensmiddele mee te koop.

“'n Onlangse studie deur die Nasionale Navorsingstigting het aan die lig gebring dat meer as 30% van universiteitstudente aan voedselonsekerheid ly. En dít raak nie net hul akademiese uitslae nie, maar ook hul fundamentele menswaardigheid.

“Studente by die US het besluit om iets daaraan te doen. Hulle bring voedselbanke op die been om te sorg dat nie een van hul maats op 'n leë maag hoef klas te loop nie. Saam met ons Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge het hulle 'n veldtog van stapel gestuur om binne 100 dae R10 miljoen in te samel om die voedselbanke vir drie jaar volhoubaar te maak. Die veldtog het op 20 Augustus begin, en duur tot Skenkingsdinsdag 27 November.

“Die inisiatief is bekend as #Move4Food, en ek het my volle steun daaraan toegesê. Ek sal dit baie waardeer as jy ons ook ondersteun."