Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie help identifiseer organismes verantwoordelik vir kernvrot in appels
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 18/09/2018

Appelboere en appeluitvoerders ly groot verliese weens kernvrot, 'n erge naoes-siekte in appels wat deur sekere swamspesies veroorsaak word. Veral Red Starking-appels is vatbaar vir kernvrot wat deur 'n beskimmelde (mouldy) kern, droë kernvrot en nat kernvrot aan die binnekant en rondom die kern van appels gekenmerk word. Kernvrot bederf tot meer as 20% van enkele Red Starking-besendings en lei daartoe dit by uitvoerbestemmings afgekeur word.

En terwyl dit moeilik is om die spesies wat kernvrot veroorsaak te identifiseer, het 'n nuwe studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) bevind dat molekulêre metodes dalk hiermee kan help. Die studie is onlangs in die European Journal of Plant Pathology gepubliseer.

“Die identifisering van swamspesies wat kernvrot veroorsaak, is tans arbeidsintensief en vereis opgeleide personeel en laboratoriumgeriewe. Molekulêre metodes is belowende instrumente om spesies te identifiseer, en sal geteikende beheerstrategieë moontlik maak," sê dr Julia Meitz-Hopkins van die Vrug- en Naoes-patologie Navorsingsprogram in die US se Departement Plantpatologie. Die navorsing is deur Meitz-Hopkins, Elaine Basson en dr Cheryl Lennox, die leier van die Vrug- en Naoes-patologie Navorsingsprogram gedoen.

Hulle wou molekulêre tegnieke gebruik om die Alternaria- en Penisillien-spesies wat uit vrugte met kernvrotsimptome en geïnokuleerde bronne soos lug, oorwinterde gemummifisserde vrugte en myte op vrugte in verskillende appelboorde versamel is, te identifiseer.

As deel van die navorsing is appels wat met kernvrot besmet is, gedurende die voor- en naoes-seisoene in twee 'Starking-appelboorde in die Koue Bokkeveld-streek in die Wes-Kaap versamel, terwyl Alternaria en Penisillien-swamme uit die geïnokuleerde bronne geïsoleer en in die laboratorioum gekweek is en later geïdentifiseer is.

Meitz-Hopkins wys daarop dat hul studie die eerste was om die Alternaria eureka- en Penicillium polonicum-spesies as moontlike organismes wat kernvrot veroorsaak uit te lig. Hulle het ook Penicillium ramulosum en Penicillium expansum geïdentifiseer as die spesies wat met nat kernvrot verband hou.

Alternaria wat droë kernvrot veroorsaak is morfologies in meer as 70% van besmette appels tydens  die vooroes- en 40% gedurende die naoes-fase geïdentifiseer," sê Meitz-Hopkins.

“Penisillien was ook verantwoordelik vir nat kernvrot in 64% van appels gedurende die vooroes-fase en in 36% van besmette appels gedurende die naoes-periode.

Die studie het ook berig dat Alternaria en Penisillien-swamme algemeen met kernvrot geassosieer word en dat dit moeilik is om hulle te identifiseer deur slegs ʼn mikroskoop te gebruik, aangesien hul vorm en struktuur identies kan wees.

Meitz-Hopkins sê verder dat “die beheer van organismes wat naoes-siektes veroorsaak bemoeilik word deur die feit dat infeksies op enige stadium van die bloeityd of tydens die ontwikkeling van die vrugte kan voorkom, afhangende van die swamme wat die siekte veroorsaak."

“Swamdoders word gewoonlik vir spesifieke organismes wat siektes veroorsaak gebruik, aangesien hulle ʼn wisselende uitwerking op verskillende spesies het."

“Nog 'n komplikasie is dat swamspore, soos Alternaria, deur sekere myte tot in die holte van appels gedra kan word. Daarom mag die gebruik van swamdoders gedurende die bloeityd nie effektief wees om alle swamme wat kernvrot veroorsaak, te beheer nie."

Dit is dus nodig om die spesies wat kernvrot veroorsaak te identifiseer, voeg Meitz-Hopkins by.

Sy sê die gebruik van molekulêre tegnieke om swamme wat siektes veroorsaak vinnig en betroubaar te identifiseer, sal dit moontlik maak om mikro-organismes wat in kwarantyn geplaas is te moniteer.

Meitz-Hopkins voeg by dat 'n geïntegreerde bestuurstrategie geïmplementeer moet word waar chemiese beheer in kombinasie met sanitasiepraktyke in beide die boord en die pakhuis gebruik behoort te word.

  • Bron: Basson, E; Lennox, CL; Meitz-Hopkins, JC. 2018. Morphological and molecular identification of fungi associated with South African apple core rot. European Journal of Plant Pathology.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Julia Meitz-Hopkins

Vrug en Patologie Navorsingsprogram

Departement Plantpatologie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 9177

E-pos: juliam@sun.ac.za

       UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za