Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale baanbreker in neurowetenskap besoek Stellenbosch
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 13/09/2018

Danksy toegepaste verbruikers- neurowetenskap weet bemarkers meer van hul teikenpubliek se voorkeure en menings – en die invloed wat dit op kopers se besluite het – as ooit tevore.

“Ons het twee bedryfstelsels: rede en emosie. Rede is vir beplanning en dissipline; emosies gee energie en hoop. Beide stelsels behoort saam te werk," sê die bekende internasionale neurowetenskaplike, prof Rafał Ohme. Hy was vroeër vandeesweek die hoofspreker by die jaarkongres van die Suider-Afrikaanse Instituut vir Bestuurswetenskaplikes (SAIMS) in Stellenbosch.

Ohme, 'n hoogleraar in sielkunde aan die Maria Curie Sklodowska Universiteit in Pole en 'n baanbreker in sy studieveld, doen die afgelope twee dekades neuronavorsing oor kommunikasie en bestuur. Hy is bekend vir sy werk op die gebied van emosies, onbewuste prosesse en toegepaste verbruikers- neurowetenskap, en is 'n ereprofessor aan die Universiteit Stellenbosch.

Hy het verduidelik dat neurowetenskap ons help om te ontdek tot watter mate emosies betrekking het op ons daaglikse lewens. “Mense het nie net (eksplisiete) rasionele menings nie; hulle het ook implisiete gedrag soos emosionele sekerheid en houdings." 'n Persoon se instink en intuïsie verteenwoordig suiwer emosie wat nie deur rasionele denke aangepas is nie.

“'n Hoë persentasie sekerheid lei tot gedrag. Indien die sekerheid van 'n persoon se opinie bekend is, is dit moontlik om gedrag beter te voorspel. Dit is uiteraard belangrik vir bemarkers, politici, ens."

Volgens Ohme kan sekerheid van opinie gemeet word deur 'n respondent se reaskietyd (spoed en ritme) te meet. Hoe vinniger respondente antwoord, hoe sekerder is hulle. Wanneer hul reaksietyd stadiger is, is dit minder waarskynlik dat hulle sal doen wat hulle sê.

“Wanneer 'n mens besef dat passie, nie logika nie, tot mense spreek; dat daar geen volharding sonder emosionele betrokkenheid is nie; en dat waardes talent aantrek, kan emosies in bestuur gebruik word," het Ohme gesê.

  • Dit is vanjaar die 30ste konferensie van die Instituut vir Bestuurswetenskaplikes, wat die belange van bestuurswetenskaplikes in Suider-Afrika bevorder en as 'n forum vir die bespreking van bestuursopleiding en –navorsing dien. Die konferensie word deur die Departement Ondernemingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch aangebied.
  • ​​Foto (v.l.n.r.): Prof Prof Rafal Ohme, hoofspreker by die SAIMS-konferensie, saam met dr Debbie Human-Van Eck, konferensievoorsitter; prof Elmarie Slabbert, voorsitter van die SAIMS-raad; en prof Christo Boshoff, voorsitter van die Departement Ondernemingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch. (Foto deur Anton Jordaan)