Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verrassings elke dag vir US se Diere-Tuberkulose Navorsingsgroep
Outeur: Eduard Roos
Gepubliseer: 06/09/2018

Jy kan soveel planne maak soos jy wil, die Kruger Wildtuin het sy eie agenda, soos lede van die Diere-TB Navorsingsgroep uitgevind het tydens hulle onlangse week-lange verblyf in die wildpark

'n Week in die Kruger-wildtuin klink dalk vir baie mense na die ideale vakansie, maar vir die Diere-TB Navorsingsgroep, was daar veel meer op die spel as wild kyk en 'n braai of twee.

Nie alleen is navorsing gedoen nie (wat die trek van bloedmonsters van verskeie diere behels het met die doel om dit te toets vir bees-tuberkulose), maar daar was ook gesprekke met verskeie belanghebbendes, soos veeartse, ander navorsers en parkbeamptes. En boonop was daar ook 'n hele paar ontmoetings (beide verwags en onverwags) met verskeie diere – party groot, party klein en ander doodeenvoudig enorm. En party vreesaanjaend.

Die besoek het ook die studente gehelp om te verstaan waar en hoe hulle navorsing 'n impak het op werklike situasies deur die belangrike bewaringsaspekte van die groep se navorsing te beklemtoon.

Net om daar te kom was 'n twee-dag-tog, en die week was stampvol met beplande aktiwiteite:

  • Maandag (Oriëntasie)

  • Dinsdag (Olifant-vangs)

  • Woensdag (renoster-vangs)

  • Donderdag (Buffels en vergaderings met die park-personeel en veeartse uit die omgewing)

  • Vrydag (Renoster-dag)

  • Saterdag (laboratorium-werk)

Dit was in elk geval die plan.

Maandag was daar 'n overwagse geleentheid om saam met staatsveeartse te gaan om bloedmonsters te trek van wildehonde. Teen halfvier die volgende oggend, was almal in die kamp reeds op en aan die gang, soos wat almal aangetrek het (en 'n sterk koppie koffie gehad het) voordat hulle gaan soek het na 'n olifantbul. Nie wat die meeste mense op 'n gewone Dinsdagoggend sou doen nie. Almal het weggery van die Krugerpark se Veeartsenykundige Dienste se kantore en laboratoriums, en 'n paar studente was gelukkig om 'n geleentheid te kry saam met een van die park se helikopters, wat gewoonlik gebruik word om wild te vang.

Vir baie studente was dit die eerste keer wat hulle so 'n groot dier in die wildernis teëgekom het. Na 'n suksesvolle vangs, en die neem van 'n monster (wat 'n broncho-alveolêre uitspoeling (BAL) ingesluit het) en wat geneem is met behulp van  'n spesiaal-gemaakte 3-meter-lange endoskoop, is die span terug na die basiskamp. Dit, natuurlik, nadat die olifant ook herstel het van die prosedure.

'n Post-mortem op 'n olifant

Maar die dag was nog lank nie verby nie, want met die terugkeer na die basiskamp, het 'n skielike geleentheid hom voorgedoen om 'n volle post-portem ondersoek op 'n ander olifant te doen. Die span is dadelik na die toneel. Dit was ook 'n goeie leerervaring met die opgeleide veeartse byderhand om alles te verduidelik en al die studente se vrae te beantwoord.

Dit was 'n lang dag, so almal het 'n vinnige aandete geniet en het vroeg in die vere geklim om reg te maak vir die volgende dag.  Woensdag se prosedures is uitgevoer op 4 renosters wat in bomas aangehou word wat aan die TB-projek verbonde is. Die studente het goeie praktiese ervaring opgedoen in verband met die insamel van monsters, soos bloed en BAL-monsters. Dit het ook die studente gehelp om 'n beter begrip te ontwikkel vir die impak wat hulle navorsing het op werklike situasies wanneer dit kom by die toetsing van verskeie spesies vir bees-TB.

Donderdag was veronderstel om aan buffels gewy te word, maar soos met die res van die week, was daar verrassings wat hulle voorgedoen het.  In die veld gebeur dinge nie altyd volgens die beplande skedule nie. Twee hiënas het vroeg die oggend ingekom na die kantore nadat hulle verwyder moes word uit die Skukuza-kamp. Monsters is geneem van hierdie diere deur die span op die agterkant van die bakkie – heeltemal 'n ondervinding vir baie van die studente.

Oop gespreksforum met belanghebbendes

Later die dag was die groep ook in gesprek met verskillende belanghebbendes, wat veeartsenykundige personeel van die KNP en staatsveeartse en tegnici van die omliggende gebiede ingesluit het. Dit was 'n uiters waardevolle platform om in 'n oop forum die werk te kon deel wat die afgelope vyf jaar gedoen is deur die SU TB-navorsingsgroep.

Vrydagoggend se aktiwiteite het weer halfvier begin soos die span vertrek het om 'n renoster te vind vir die dag se vangs. Dit was die eerste geleentheid om BAL-monsters te neem van 'n  renoster in die veld. Die vangs was deel van die anti-renosterstropery veldtog, en die kameras het alles vasgelê, wat ook die belangrike bewaringsgevolge van die groep se navorsing beklemtoon het. Agterna het die studente die geleentheid gehad om terug te vlieg na die basiskamp, wat aan hulle die wonderlike ervaring gegee het om die betowerende Kruger-landskap uit die lug te sien.

Toe het die tyd aangebreek vir die afskeidsbraai, waar die gebeure en die ervarings van die week rondom die vuur herleef is. Saterdag het bestaan uit afrondingswerk in die laboratorium – en toe 'n wildrit met sonsondergang, waar nog 'n verrassing gewag het: 'n onderonsie tussen buffels en leeus het gesorg dat die onvergeetlike week op 'n hoogtepunt geëindig het.

Hierdie sewe dae het aan die studente tuisgebring presies hoe belangrik hierdie monsters van die wilde diere was, watter gevare die insameling hiervan meegebring het, en presies hoe lank dit vat om selfs net een monster in die hand te kry. Mag hierdie ondervinding voortgaan om hulle te inspireer in dit te bereik waarna hulle mik in hulle loopbane.

Dit was tyd vir die lang pad huis toe. Maar die ekspedisie was elke kilometer werd gewees.


Taalversorging: Susan Erasmus

Fotos verskaf deur Eduard Roos