Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tygerberg-kampus stel gryswaterstelsel in werking
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 26/06/2018

Die Tygerberg-kampus sal binnekort gryswater kan gebruik vir die spoel van toilette en besproeiing. Dié besparing, tesame met ander waterslim-inisiatiewe, sal verseker dat die Universiteit Stellenbosch (US) nie onkant betrap word indien Dag Zero sou aanbreek nie. ​

Waterbesparing is sedert verledejaar reeds hoog op die universiteitsbestuur se agenda, en die installering van gryswaterstelsels by US-koshuise is een van die inisiatiewe wat moontlik die grootste impak op drinkwaterverbruik sal hê. Die universiteit het ten doel om so min as moontlik van munisipalewater afhanklik te wees.

Ná aanleiding van ʼn ondersoek deur 'n ingenieurs- en omgewingskonsultasiemaatskappy om die waterbalans op verskeie US-kampusse te bepaal, is daar besluit om gryswaterstelsels te installeer. “Die plan is om die water beter aan te wend, byvoorbeeld om nie drinkwater te gebruik om toilette te spoel nie," verduidelik mev Charmaine Klein, Fasiliteitsbestuurder by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), wat op die Tygerberg-kampus geleë is. “Ons beplan om 'n derde van die gryswater vir toilette aan te wend; 'n derde vir besproeing; en die laaste derde vir die aanvulling van die ondergrondse akwifeer," sê Klein. Die projek word bestuur deur mnr John de Wet, Bestuurder vir Volhoubaarheid by die US.

Die stelsels sal behels dat water by storte opgevang word en na 'n sentrale filtreerstelsel gevoer word vir behandeling. Daarna sal dit weer teruggevoer word na die onderskeie koshuise en administrasiegeboue.

Klein sê dit sal by al die koshuise op die Stellenbosch- en Tygeberg-kampusse geïmplementeer word, met die uitsondering van Huis McDonald, Helderberg en Botmashoogte omdat te ver van die ander koshuise geleë is.

Die installering van die gryswaterstelsels verg egter dat al die pypwerk verander moet word en sal dus nie oornag geskied nie. “Die bestuur is tans besig om die tender dokument voor te berei. Ons beoog om teen einde Mei met die projek te begin," sê Klein. Die tydlyn vir die installering is ongeveer ses maande vir Tygerberg-kampus en nege maande vir die Stellenbosch-koshuise.

Die beraamde besparing van drinkbare water waarvoor gemik word, is 30%. “Met menslike gedrag hoop ons om 'n verdere 20% te spaar. Die oorblywende 50% water op die Tygerberg-kampus sal deur boorgate verskaf word."

Volgens Klein is daar reeds besparingsinisiatiewe op die Tygerberg-kampus in plek gesit deur krane met waterbesparingstelsels, en binnekort ook die opvangs van reënwater vir herverbruik. “Al dié inisiatiewe sal ons dus kan help om die kampus aan die gang te hou as Dag Zero aanbreek."