Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dinamometer-donasies help arbeidsterapeute in behoeftige gemeenskappe
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 19/06/2018

Oorlewendes van padongelukke, aanranding en geweldsmisdaad benodig dikwels rehabilitasie, en so ook mense met osteoartritis, amputasies, en diegene wat voorheen 'n beroerte gehad het.

Twee verdienstelike arbeidsterapiedienssentrums het onlangs 'n klein hupstoot op hierdie front ontvang toe dinamometers aan hulle geskenk is. “Dinamometers is instrumente wat deur arbeidsterapeute gebruik word om handgreepsterkte te bepaal en word hoofsaaklik ingespan by mense wat handbeserings opgedoen het," verduidelik mev Susan de Klerk, seniorlektor by die Afdeling Arbeidsterapie aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Die instrument word dikwels nie boaan die prioriteitslys geplaas as dit kom by begrotingtoediening nie, en gevolglik is daar baie arbeidsterapiedienste wat daarsonder moet klaarkom.

Danksy 'n goeie verhouding met die Internasionale Federasie van Verenigings vir Handterapie (IFSHT) kon De Klerk dié toerusting egter bekom om te skenk. Sy is reeds 20 jaar in die veld van handterapie en het deur haar navorsingsaktiwiteite die geleentheid gehad om die voormalige president van die IFSHT tydens 'n internasionale kongres te ontmoet. “Sy het genoem dat sy twee dinamometers wil skenk en gevra of ek dit in Suid-Afrika in ontvangs sal neem. Omtrent 'n jaar later het die dinamometers hier aangekom. Die IFSHT se enigste voorwaarde was dat ek dit moet gee aan 'n area of diens wat dit in die rehabilitasie van persone met handbeserings sal aanwend."

De Klerk sê hoewel dit 'n moeilike besluit was, sy uiteindelik die toerusting aan die Khayelitsha Distrikhospitaal (KDH) en die Kraaifontein Gemeenskapsgesondheidsentrum (GGS) geskenk het.

“Khayelitsha het 'n ontluikende hande-diens en die terapeut daar het hard gewerk om die toerusting te bekom wat die ortopedie-diens daar kan aanvul," sê sy. “Die dinamometer sal beslis waarde voeg tot haar diens, en dis boonop 'n area waar die US baie arbeidsterapiestudente plaas vir kliniese opleiding."

Die Kraaifontein GGS skenking was vir ander redes, volgens De Klerk. “Die terapeut daar, 'n US-alumnus, werk vanuit 'n skeepshouer. Sy ontvang baie verwysings van Tygerberg Akademiese Hospitaal (TAH) en daar is min hulpbronne."

Die terapeute van die onderskeie sentrums is dankbaar vir die skenking. “Dit is al sedert 2016 op my verlanglysie van toerusting, maar dit was nog nooit as 'n noodsaaklike item beskou nie. Die toerusting sal nie net gebruik word om handgrepe te toets nie, maar ook as motivering vir die pasiënte dien om hul tuisoefeninge te doen," sê mev Terri-Ann Abrahams van KDH.

Mev Mariechen Breytenbach, die arbeidsterapeut by Kraaifonteing GGD, voeg by dat die instrument ook sal bydra in die bepaling van pasiënte se gereedheid om terug te keer werk toe. “'n Bouer en 'n horlosiemaker het dalk dieselfde handgreepsterkte nodig om hul tande te borsel, maar die bouer het veel meer greepsterkte nodig om terug te keer werk toe. Die behandeling is dus baie geïndividualiseerd en die dinamometer help om spesifieke doelwitte te stel," verduidelik De Klerk.

De Klerk is opgewonde oor hoe die dinamometers gebruik kan word om aktiwiteitsdeelname van pasiënte te bevorder. “En ons is reeds besig om 'n plan te bedink om dalk nog een of twee te kry om aan dienste te skenk."


Onderskrif 1:  Arbeidsterapeut Terri-Ann Abrahams (links) en Susan de Klerk (regs) met die dynamometer. 

Onderskrif 2: Arbeidsterapeut van Kraaifontein CHC (Mariechen Breytenbach) terwyl sy die dynamometer gebruik.