Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opportunisme in sakewêreld moet in toom gehou word
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/06/2018

Opportunistiese gedrag in besighede verminder vertroue, toewyding, samewerking, verhoudings en die uitruil van kennis en verhoog ook konflik en transaksiekoste.

Só het prof Gert Human van die Departement Ondernemingsbestuur in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) aan die Universiteit Stellenbosch op Donderdag (14 Junie 2018) in sy intreerede gesê. Hy het gepraat oor The dark side of business interdependence and the collaboration-opportunism paradox.

Human meen opportunistiese gedrag  ̶  die doelbewuste strewe na selfbelang  ̶  in besighede is 'n belangrike gevolg van 'n negatiewe (donker) ongesonde besigheidsverhouding.

“Afhanklikheid, asimmetrie, onsekerheid, konflik en mag dryf opportunistiese gedrag in interafhanklike sakeverhoudings."Human.jpg

“Mededingende intensiteit in die bedryf, onstuimigheid in die mark en die kultuur in organisasies is kontekstuele beïnvloeders van donker opportunisme."

Volgens Human is die donker kant van interafhanklikheid nie ʼn nuwigheid nie.

“Vandag vereis die eksponensiële groei in die gesofistikeerdheid en kompleksiteit van ons verhoudings, netwerke en ekosisteme egter 'n beter verstaan van hierdie verskynsel."

Hy het gesê bestuurders wat die donker sy van interafhanklikheid verstaan, mobiliseer proaktief hulpbronne om suksesvolle uitkomste te lewer.

“Firmas kan verskillende tipes sosiale kapitaal gebruik om die impak van die donker kant van opportunistiese gedrag te verminder."

Human het gesê aandag moet geskenk word aan die belangrikheid van die samewerking-opportunisme-paradoks in verhoudings.

“Die samewerking-opportunisme-paradoks is hier om te bly. In 'n wêreld waar interafhanklikheid 'n bepalende kenmerk van besigheidsinteraksie is, sal maatskappye en individue voortgaan om saam te werk en verhoudings te bou ten einde nuwe waarde te ontsluit."

“Daarom word samewerking nie ontmoedig nie. Trouens, dit word bevorder, maar moet vergesel word van 'n duideliker prentjie oor die risiko's van die donker kant van interafhanklikheid."

Human het gesê so lank as wat daar samewerking in besigheid is, sal daar die moontlikheid van opportunistiese gedrag wees.

“Dit sal naïef wees om te dink dat opportunistiese gedrag volkome beheer kan word deur meer gesofistikeerde wetlike en ander strukturele apparate wat maatskappye, regerings en individue ontwerp en implementeer."

Human het gesê aangesien opportunisme in sakeverhoudings na bewering altyd tot 'n mate teenwoordig was, is dit bykans onmoontlik om dit uit die besigheidsomgewing te verwyder, en kan dit selfs nie wenslik wees nie.

“ ʼn Verstaan van die goeie en slegte kant van opportunisme behoort, ten minste in teorie, die bestuur daarvan te vergemaklik," voeg hy by.

  • Hooffoto: Pixabay
  • Foto 1: Proff Gert Human (middel), Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, en Ingrid Woolard, Dekaan van EBW, by die intreerede. Fotograaf: Anton Jordaan.