Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fotoboekie oor tikmisbruik word nou nog verder ontwikkel
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 12/06/2018

Ses maande nadat dr. Burt Davis, dosent aan die Afrika Sentrum vir MIV/Vigsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch (US), sy doktorsgraad verwerf het deur 'n fotoboekie met  'n bewusmakingsboodskap oor tikmisbruik te ontwerp, is hy hard aan die werk om die boekie verder te ontwikkel om dit selfs nóg meer nuttig te maak.

Davis het die fotoboekie “Spyt kom te laat" ontwikkel in 'n poging om tikmisbruik in die Wes-Kaap aan te spreek. Die fenomeen om fotoboekies (fotonovelles) te gebruik om gesondheidkwessies aan te speek, is veral gewild in die VSA. Daar is ook al in Nederland navorsing daaroor gedoen.

As deel van sy navorsing, het Davis gekyk na watter dokumente oor tikmisbruik daar tans in Afrikaans beskikbaar is.

“Ek was redelik geskok oor hoe min daar beskikbaar is, en dikwels is die vertalings baie swak," sê hy.

Omdat hy wou wegbeweeg van 'n teoretiese PhD en eerder 'n produk wou ontwerp wat prakties gebruik kan word, het hy besluit om sy aandag te vestig op die ontwikkeling van 'n fotoboekie wat vir bewusmaking- en voorkomingdoeleindes in skole en gesondheidsklinieke ingespan sou kon word.

“In Suid-Afrika word baie produkte wat gesondheidsboodskappe oordra, ontwikkel sonder dat dit empiries en wetenskaplik getoets word. Hierdie fotoboekie is een van min produkte wat nie net fyn beplan is nie, maar ook getoets is. Dis nie net uitgedink en neergesit nie.

“Ek is nie naïef om te dink ek gaan mense noodwendig oortuig om op te hou om dwelms te gebruik nie, maar dis 'n goeie bewusmakingsnutsding. Ek het al ongelooflike terugvoering van gemeenskapswerkers af ontvang."

Davis is tans besig om sy fotonovelle verder te ontwikkel deur meer inligting in 'n vraag-en-antwoord-formaat by te voeg om die veelsydigheid en doeltreffendheid van die produk te verhoog.

“Ek gesels ook op die oomblik met verteenwoordigers van die Department van Hoër Onderwys en maatskaplike werkers in die Hermanus- en Stellenbosch-omgewing oor hoe ons die boekie koste-effektief kan produseer en versprei by klinieke en skole in die Wes-Kaap."

Hy is vroeër vanjaar deur 'n plaaslike wynplaas genader om die fotoboekie daar te versprei, en dit is ook as deel van die Vriende van Afrikaans se boektrommel-projek, in samewerking met die ATKV, onder sowat 3 800 kinders by altesame 14 skole in die Richtersveld uitgedeel.

Davis beoog ook om die fotoboekie aan te pas om met verdere gesondheidskommunikasie-uitkomste te eksperimenteer.

In die afgelope ses maande het hy verskeie praatjies oor sy navorsing gelewer, onder meer by die VIOT (Vereniging Interuniversitair Overleg Taalbeheersing) se konferensie in Nederland en by 'n halfjaarlikse simposium van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

Vir meer inligting, kontak dr. Burt Davis by burt@sun.ac.za of 021 808 3707.​